Nuwejaarsvoorneme nommer 2019 (want nommer 2018 het nie gerealiseer nie)

Een ding wat nie altemit is nie, is dat die mens altyd ‘n geleentheid soek om oor te begin. ‘n Nuwe blaadjie om te blaai. En watter tyd beter as wanneer die klok 12:00 slaan op die 31ste Desember? Die eerste op die lysie is gewoonlik om die Kersvetjies af te skud en dan om minder te drink, dalk op te hou rook. En teen die tyd dat die nuwe jaar begin het, die baas skel oor stapels werk, die kinders hulle eerste detensie sit, is al daai voornemens vergete. En dan voel mens sommer vroeg in die jaar teleurgesteld in jouself en jou vermoë om suksesvol as effektiewe mens te funksioneer.

Toe ek Kersfees so in die stilte op my broer se stoep sit, wonder ek skielik: Waarom plaas ons soveel druk op onsself? Ek is seker dat dit een van die hoofoorsake van stres is. Ons oorlaai ons lewens en ons gewete so gereeld met dinge wat eintlik net tot matelose teleurstelling in onsself lei as ons dit nie uitvoer nie. Dit is mos nie hoe ons lewens moet wees nie?

Ek voel dieselfde oor emmerskoplysies. Jy weet, daai lys van dinge wat mense nog wil doen voor hulle doodgaan. Is ek die enigste een wat dit weird vind? Gaan hierdie dinge ooit saakmaak wanneer ons doodgaan? Wil mens regtig op jou sterfbed dink aan dit wat jy toe nooit by uitgekom het nie? En dan moet jy met hangskouers die ewigheid ingaan met ‘n onvoltooide lysie in jou hand? Ek weet darem nie.

Dalk is ek die een wat weird is, maar vir die persoon wat ek is, is nuwejaarsvoornemens en emmerskoplysies té bindend op my gewete. Ek sal elke dag ingaan en afsluit met die wete dat ek nog nie alles gedoen het wat op my lysie was nie en ek sal myself so opstres oor dit wat ek dalk nie gedoen gaan kry nie, dat die hele wêreld (en dalk nog die ewigheid ook!) in ‘n oogwink by my sal verbygaan en ek dit nie eers opmerk nie.

Nee wat, ek sal liewer in die hiernamaals langs die groen weivelde wil sit en onthou hoe ek die wonderwerk van elke nuwe dag ervaar het. Ek sal onthou hoe ons dinge wat ons wou doen, beplan het en deurgevoer het. Ek sal onthou hoe ek van altyd af die voorreg gehad het om die verandering van seisoene in my siel te kon voel – daardie skielike, onbeskryflike ewigheidsoomblik – so asof die tyd en wêreld vir daardie paar sekondes doodstil staan. Ek sal onthou hoe inspirerend en salwend die see op my siel was, veral wanneer my gedagtes te vol geraak het van die alledaagse dinge. En hoe geen sonsondergang ooit diesefde gelyk het nie. Ek sal die mooi foto’s onthou wat ons geneem het van al ons avonture, net om agterna te besef dat mens dit nooit heeltemal regkry om al die fasette van daardie een perfekte oomblik te kon vasvang nie. Ek sal onthou hoe ontsettend bevoorreg ek was om tydens my reis op die aarde gebaai te kon wees in die liefde van my man, my kinders, my ouers, familie en vriende.

So, met dit inaggenome, is die enigste item op my nuwejaarsvoornemens- en ook my emmerskoplysie dat ek in 2019 lig en vry wil lewe, sonder onnodige bagasie wat my gewete gaan aankla en my verhoed om die lewe in al sy fasette aan te gryp. Daar is ‘n bybelvers waarvan die Engels dit vir my so ongelooflik mooi stel – to learn the unforced rhythms of grace. En dit is die plek waar ek in 2019 wil wees!
Matthew 11: 28-30 Are you tired? Worn out? Come away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. I’ll teach you the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.”
Mag jy ook in 2019 die voorreg hê om lig te lewe en jouself te kan bevry van alles wat jou bind. En mag jy die “unforced rhythms of grace” ervaar in elke dag wat by jou lewe gevoeg word.

8 thoughts on “Nuwejaarsvoorneme nommer 2019 (want nommer 2018 het nie gerealiseer nie)

  1. Ek hou baie hiervan.
    Ek was al in my twintigerjare toe ek die eerste keervan nuwejaatsvoornemens gehoor het.
    Ek dink nie ek het werklik nuwejaarsvoornemens nie, maar dinge waaraan ek graag wil werk. As ek dan nie daarby uitkom nie omdat ek aan ander goed gewerk het, is dit vir my okay.

    Like

    1. Dankie. Ja, ek glo aan beplanning enige tyd van die jaar as mens iets wil doen of verander. En jy moet vergewensgesind teenoor jouself wees as dit nie hierdie jaar gebeur nie. Mens se doelwitte verander ook soos die tyd aangaan. Dit maak nie sin om jouself gevange te hou in een voorneme nie.

      Liked by 1 person

  2. Uitstekend. Enige emmerskoplysie, NJ voornemes klink net te veel na commitment en daai oomblik wat jy commit, weet ek dat ek dadelik my eie grootste vyand gaan wees. Dus… ek doen ook nie daai tipe lysies nie!

    Like

  3. Mooi geskryf Vlindersag, ek doen ook nie die Nuwe jaars voornemens ding nie. Ek moet erken ek het drome oor goed wat ek nog graag sou wou doen, maar is realisties genoeg om te weet dat baie daarvan net drome sal bly en dis ook reg.

    Like

Leave a reply to Toortsie Cancel reply