Vandag in die sterre

Ou Snowy is nou al 14 jaar oud, maar as daar een ding is wat die ou nog steeds baie goed kan doen, is dit om in hierdie koue te kan knyp tot hy begin kreun en sy oë traan. Moenie dink dat hy dan sal uitgaan wanneer die deur oopgemaak word nie, nee. Ek moet dan saam met hom buite staan en wag tot hy vir die beste deel van ‘n lang minuut, been-in-die lug staan en sy pieps-sake afhandel. Daarom het ek en hy dan maar die roetine om voor slaaptyd buite te gaan staan in wind en weer tot hy weer gereed is om in te gaan.

In hierdie tydjie kyk ek na die sterre en filosofeer dan maar bietjie oor die lewe – die Suiderkruis is in my gesigsveld by die agterdeur. Aand na aand sien ek hoe die sterre op reis gaan, maand na maand, seisoen na seisoen beweeg hulle geduldig op hulle bane, op die maat van tyd wat saam beweeg. Elke seisoen vind ek die Suiderkruis op ‘n ander plek. Wanneer die sirkel voltooi is, en hy weer op daardie spesifieke plek bo ons dak tot stilstand kom, besef ek met ‘n skok dat ‘n jaar alweer verby is. Ek besef hoeveel gebede en versugtinge in hierdie stil tye al opgestyg het boontoe. Hoeveel dinge het gebeur. Hoeveel dinge wag nog om te gebeur. Hoeveel stil trane en hoeveel uitbundige dankbaarheid het ek al in hierdie oomblikke boontoe gestuur tussen die sterre in, wanneer niemand kyk nie. Ek besef tydens hierdie stilstaantye dat daar ‘n dag begin nadersluip wanneer ek hierdie dinge nie meer sal beleef van hierdie huis se ruimte af nie, dat dinge anders gaan wees, die kinders uit die huis uit, die hondjie nie meer daar nie. Maar omdat die lewe nie staties is nie, wek dit tog ook by my ‘n tinteling van opwinding oor hoe die ou dinge gedurig plek maak vir nuwe dinge wat met die volgende sterre-reis weer begin. Dinge wat nog ongeskryf en geduldig in ons lewe wag om te gebeur – dinge wat dalk nog pyn of nog baie meer vreugde gaan bring.

En ek besef dat alhoewel tyd nie stilstaan nie, kan dit tog stilstaan. Dit staan stil in oomblikke wat ons vasvang. Elke aand staan die tyd stil vir die beste deel van een minuut waarin ek ‘n leeftyd in een oomblik beleef. ‘n Oomblik waarin ek ‘n wêreld se sorge en vreugdes na die Skepper van alle dinge toe kan stuur. ‘n Oomblik waarin ek weet dat die spore van my gedagtes en gebede geluidloos agter die Suiderkuis sal aanbeweeg om my altyd te herinner aan hierdie stil tye wanneer ek boontoe kyk. ‘n Oomblik wat vir my wys hoe baie van my gebede reeds verhoor is en hoe goeie dinge soms gebeur sonder dat ek eers ‘n hand daarin het. ‘n Oomblik waarin ek die insig ontvang om te verstaan dat beide genade en pyn saamwerk om die volmaaktheid van die lewe te vorm.

En ek besef dat ons altyd saam met die tyd sal aanhou vorentoe stap, sal groei, val, opstaan, struikel, dans …. dat gister se spore altyd kort agter ons sal wees, en more altyd ‘n onbekende horison sal wees.

Maar vandag kan die tyd stil staan as ons dit so wil hê. Al wat ons moet doen, is om vandag daardie één volmaakte oomblik vas te vang, diep asem te haal, met ons voete stewig op die aarde net teenwoordig te wees. Selfs al duur hierdie een oomblik net vir die beste deel van ‘n lang minuut, raak ons ontslae van ‘n leeftyd se bagasie, kry ons nuwe krag vir die horison wat met die volgende sonsopkoms aanbreek, en skep ons ‘n herinnering wat in die sterre vasgevang sal wees om ons altyd te laat onthou hoe geseënd ons werklik is om in hierdie lewe te kan leef.