Archive | Oktober 2013

Leesstof

Ek is baie lief vir lees.  Dit beteken dat ek  sommer enige iets lees wat interessant lyk.  So het ek vandag, seker vir die eerste keer  in my lewe ‘n “paranormal romance” klaar gelees.  In die storie was daar ‘n vloek op iemand gesit ‘n paar geslagte gelede en slegs ware liefde kan die vloek breek.  So het die heldin jare geloop en soek na die regte persoon (haar “Protector”) wat haar kon help om die vloek vir die nageslag te breek en dit is op ‘n baie dramatiese manier gedoen.  Eie aan dié tipe stories, het dit ‘n goeie einde gehad en het die liefde oorwin vir die nageslagte wat kom en die vloek diep in die duisternis versink.

Oor die algemeen bly ek weg van die bonatuurlike tipe stories omdat ek verkies om in die Lig te lewe. Maar nadat ek die boek gelees het en dit eintlik nogal geniet het vir wat dit is – ‘n regte egte soetsappige liefdesverhaal, het ek besef:  Kwaad en Goed is hier om te bly.  Dit is ons as mense se realiteit en ek besef meer en meer as ek kyk na stories en films – dit is iets wat bestaan in elke mens se wese en denke.  Of ons dit beleef vir wat dit is en of ons daaroor fantaseer, ongeag waarin (of in wie) ons glo, dit is deel van ons en kan deur niemand ontken word nie.  Maar, die lekkerste daarin lê, dat daar altyd hoop is.  Maak nie saak hoe sleg die kwaad in die storie is nie – daar is altyd hoop, want aan die einde, oorwin die goeie altyd en ons word nooit teleurgestel nie.

As ons kyk na ons realiteit, verskil dit tog nie altyd te veel van die storie nie.  Dit is net dat ons daardie storie lééf en nie die einde kan sien waar die goeie oorwin nie.  Dit is waarom HOOP in ons geprogrameer is.  Diegene wat in God glo, wéét dat die goeie sal oorwin … op die regte tyd.  En tog, die wat nie in God glo nie, wel … hulle het steeds die hoop en die fantasie dat die goeie sal oorwin.

Dalk is die grootste probleem van vandag se lewe meer dat mense oor die eeue heen net te maklik hulle oog op die realiteit verloor en nie altyd meer so goed kan onderskeid tref tussen waar die grens lê tussen kwaad en goed nie …. en as mense dit uitgewerk het, sal meer mense dalk met hoop lewe en sal die goeie tog oorwin!

 

Advertisements