Nog in die tyd toe ons maskers gedra het en sosiale afstand moes hou, het sy een Sondag na my toe gekom na afloop van ‘n erediens. Ek het haar vir ‘n lang tyd nie gesien tussen al die gemaskerde gesigte nie en gewonder oor haar. Ek kon sien dat haar skouers hang en haar oë dof en lewensmoeg was. In die verlede sou sy altyd effens skaam vir my preeknotas kom vra. Maar Covid se alleentyd het vir haar saam met soveel ander mense ingesluk. Mense wat iewers langs die pad seergekry het en net nie meer die moed kon bymekaarskraap om die drade op te tel van ‘n gemeenskap by wie hulle eens op ‘n tyd veilig gevoel het nie.
Daardie oggend kom staan sy by my en sê: “Toe ons genade, onbeskryflik groot gesing het, het ek besef ek is daardie wegloopkind. Ek het saggies gehuil sodat die mense nie kan sien ek huil nie, maar ek is die Here se wegloopkind!” En sy huil dat haar skouers skud. Ek staan en troos en gesels met haar, met my masker op en die gepaste sosiale afstand, en voel hoe my hart saamtrek. Hoeveel van die Here se wegloopkinders loop nie alleen in hierdie tyd nie? Dit is vir ons so maklik om te sê: “Kom terug kerk toe!”, maar as dit reeds moeilik was om ‘n plek te kry waar jy inpas en aanvaar word, hoe moeilik is dit om na maande van Covid se chaos weer in te stap en tuis te voel?
Ek het wel vir die Here dankie gesê dat Hy aanhoudend aan haar hart bly klop het totdat sy die besluit geneem het om in die gemeentebussie te klim en kerk toe te kom.
Sy was weer laas Sondag in die kerk en op haar pos om haar preeknotas te kom haal. Hierdie keer met ‘n glimlag wat tot in haar oë skyn, en ‘n drukkie wat sy kon uitdeel, want sy voel weer tuis en dit is lekker om weer hier te wees. En sy het iewers tussen toe en nou geestelik gegroei. Ek sien dit aan haar. Een wegloopkind het haar pad teruggevind na haar Vaderhuis en die gemeenskap wat haar veilig laat voel.
Miskien verander sy nie die wêreld nie. Maar die feit dat sy weer tuis is, maak dat die engele feesvier oor haar.