Archive | November 2016

Die taal van engele

Niemand ken hom nie.  Dit lyk of hy een van die ander kerk se gemeentelede is wat ons kerksaal gebruik vir hulle erediens.

Maar sodra ons kerkkoor oefen vir ons Kerssangdiens, glip hy daar weg en kom sit hy en luister na ons.  Dit is nie ongewoon dat daar iemand sit en luister nie, maar as ek na hom kyk, ervaar ek iets anders as met net ‘n toeskouer.  Jy sien, hy verstaan nie wat ons sing nie, maar hy sit daar in die middel van die kerk, doodstil, kop effens gedraai sodat die goeie oor kan hoor, ‘n glimlag op sy gesig met sy oë toe.  Soos die melodie van die sang eb en vloei, sien jy hoe sy siel elke noot, elke nuanse van die melodie absorbeer en vasvang.  Soos hy die melodie leer ken, sien ek sy liggaam snaarstyf in afwagting vir daardie opbou in die lied wat ‘n hoogtepunt van lofprysing bereik en sien jy die tevrede diep sug uit die siel in die effense stilte wat nog vir ‘n oomblik in die lug hang as die lied klaarmaak.

Ek wil glo dat ons koor soos engele sing, maar ek weet dat dit wat in daardie oomblik gebeur, iets is wat soveel dieper gaan. Dit gaan verby die woorde en die lied en hoe dit uitgevoer is.  Dit gaan tot by dit wat universeel is by alle mense.  Ons oog sien die mens wat vir ons onbekend is.  Ons verstand vertel dat ons hom nie gaan verstaan as ons met hom praat nie.  Maar ons siel is in volle kontak met daardie mens en omdat die siel nie grense het nie, gee en neem dit soveel meer as bloot net dit wat sigbaar is.  Dit kan ‘n lofprysing vasvang, sonder dat een woord verstaan word.

Die taal van die siel, is die taal van musiek, van melodie, is die taal van onvoorwaardelike liefde, van oorbrugging en van insluiting.  Dit bind saam en stoot nie weg nie.  Dit onderskei nie tussen wat verstaanbaar is en dit wat onverstaanbaar is nie.

Dit is ewig.

Dis die taal van engele.

Miskien moet ons ook weer gaan sit en vir ‘n slag luister.  Met die kop gedraai sodat die goeie oor dit kan hoor, ‘n glimlag op ons gesig en ons oë gesluit.  Dalk sal ons siel ook die melodie kan opvang en absorbeer sodat ons met ander oë na die toeskouers om ons begin kyk….

 

Wat as …?

Onthou julle die film “As good as it gets”?  Dit was vir my so ‘n insiggewende film wat mens ‘n kykie gegee het in die lewe van iemand met OCD (obsessiewe kompulsiewe versteuring).  Een toneel het egter altyd in my kop bly vassteek.  Toe Marvin (wat erg OCD het) se pynlik netjiese lewe begin deurmekaar raak, het hy wild in die psigiater se kantoor ingestorm, maar sy het hom weggewys omdat hy weet hy moet ‘n asfpraak maak.  Hy het skielik in die vol wagkamer gaan staan en peinsend vir die mense gevra:

“What if this is as good as it gets?” 

Die uitdrukking op daardie arme mense in die wagkamer se gesigte het my gevang.  Ek kan nie sê hoeveel keer ek al daardie vraag gevra het as ek kyk na my lewe, na die lewens van mense naby my, na die land, na al die probleme en uitdagings nie.  Wat as dit wat vandag my lewe is, die beste is wat die lewe bied? Wat as daar werklik niks beter op ons wag vir die toekoms nie en ons aan hierdie  eindelose hoop vasklou dat dinge tog sal regkom, maar dit verander nooit werklik nie? Wat as al hierdie dinge wat ons op hierdie klein aardetjie van ons doen, hetsy reg of verkeerd, in elkgeval geen impak het op die Groter Storie van die heelal, van siende en onsiende dinge waarvan ons nie eers ‘n sandkorreltjie is nie?

What if this is really as good as it gets?

Ek het nie die antwoord nie.

Maar ek en my seunskind lees die bybel deur volgens ‘n baie goeie kinderbybel wat werklik die storie van God vertel nie met mooi kleurvolle gelukkige prentjies nie, maar met goeie skrif en goeie vertelling.  Ons is nou besig met al die wonderwerke wat Jesus gedoen het.  Dit is al deurgeleeste en bekende stories. En tog het iets my vasgevang.  Die wonderwerk van die man wie se dienskneg siek was.  Hy het vir Jesus gaan vra om tog sy dienskneg gesond te maak, en Jesus het ingestem en begin stap.  Die man sê toe vir Jesus dat hy nie verwag dat Jesus al die pad kom om die man gesond te gaan maak nie.  Jesus kan sommer maar net sê hy is gesond, dan weet hy dat die dienskneg genees is.  En Jesus het hom gesond verklaar, wel nadat Jesus baie verbaas was dat iemand se geloof so groot kan wees. En die man het omgedraai huis toe in die wete dat sy dienskneg gesond is.  Hoe het hy dit geweet?  Want hy het geglo.  Finish en klaar.  Hy moes steeds ver loop om by die huis te kom om dit te kon sien, maar hy het geweet dat sy dienskneg vir hom gaan inwag en niks makeer nie.

Toe ek weer die storie kry deur ‘n ander kanaal (vir grootmense hierdie keer), toe besef ek dat hierdie boodskap seker vir my is.  En dit is interessant dat dit die boodskap van geloof is.

Ek glo tog! …. ? ….

Maar toe besef ek dat as ek vra, ‘Wat as…?’ is my geloof dalk nie so groot soos daardie man s’n wat geweet het dat genesing plaasgevind het voordat hy dit kon sien nie.  Toe besef ek, my vraag moet liewer wees:  Wat as …. ek REGTIG begin glo?

Wat as ek glo … dat vandag nie noodwendig die beste is wat die lewe my kan bied nie, maar dat ek elke dag die beste van my lewe kan maak as ek regtig wil?

Wat as ek glo … dat verandering kan plaasvind as ons bid met geloof?  Dat dit sal reën, dat ons regering beter besluite sal neem, beter leiding neem, ons land al hoe meer positief die toekoms kan ingaan?

Wat as ek glo dat die mense vir wie ek bid genees sal word, sal uitkoms vind waar hulle gebukkend gaan onder moeilike uitdagings?

Wat as ek glo … dat ons elkeen se storie ‘n baie groter impak op die Groter Storie van die heelal het as wat ons besef en dat dit wat my lewe vandag is, net die begin is van iets groter en beter en wonderliker is as wat ek kan dink?

What if this is as good as it gets?   But what if we BELIEVE it will become much greater than this?

Ons moet net vir ‘n slag begin om te glo. Regtig te glo.

En toelaat dat die Groter Storie vertel word.