Archive | September 2015

Eendag toe ons kinders was …..

Google

Anderdag lees ek op Facebook een van die (nou al afgesaagde) storietjies van hoe wonderlik ons wêreld was toe ons kinders was.  Ai, is ons nie tog te lief om vir ons kinders en vir mekaar tot vervelens toe te vertel hoe volmaak ons kindertyd was nie?

Ek wonder soms of ons arme kinders teen hierdie tyd nie al begin wonder of die beste tydperk op die aarde nou werklik verby is nie.

Maar wat my hieraan laat dink het, is toe ons nou die aand weer liries raak en vir ons dogter vertel van hoe ons ou fone en die handsentrales gewerk het, en haar reaksie sommer effe-geïrriteerd is met hierdie oumense:  “Hoekom vertel julle altyd so van die ‘goeie ou dae’?  Vertel liewer vir ons hoe het handsentrales ontwikkel tot selfone vandag? Iemand het tog sekerlik nie ‘n wonderstokkie geswaai en skielik het ons selfone nie?”  Wel, ons moes dit seker voorsien het, want sy is ‘n akademiese kind en is baie meer beïndruk deur feite as ons ou afgesaagde storietjies.

Toe dink ek aan tegnologie. En die feit dat die grootste raas in ons huis is:  Klim net af van jou foon of tablet of rekenaar af vir ‘n oomblik!  Ons het grootgeword sonder die goed en ons het niks oorgekom daarvan nie!

Dit laat my amper wonder of ons nie soms besig om monstertjies te skep en hulle dan te blameer dat hulle monstertjies is nie?

  • “Jy weet boetie, lank gelede toe ons kinders was, het ons skaars telefone gehad en ons het buite gespeel en moes voor donker by die huis kom. Ons het nie die nuutste selfone gehad en al daai voorregte nie en ons kindertyd was volmaak sonder al die wonderlike gadgets wat julle vandag het.  Maar so gepraat van, het jy jou iPhone gecharge, want ek betaal nie verniet helfte van my salaris aan jou selfoonrekening per maand net vir jou om soveel tyd daarop te spandeer sodat jy altyd ‘n pap battery het nie.  Ons moet weet waar jy is en hoe laat ons jou moet oplaai!”
  • “Jy weet boetie, ons kindertyd was heerlik – ons het altyd buite gespeel.  Ons het nie al die playstations en elektronika gehad wat julle het nie.  Ons het tot donker toe met albasters en karretjies gespeel en ons was baie gelukkig …  Wat? …  Is daar ‘n nuwe Final Fantasty game vir PS3?  Herinner my om dit te pre-order by takealot.com, anders is dit uit voorraad uit wanneer dit uitkom.  Onthou net ons ooreenkoms, ek het vir jou ‘n PS3 gekoop, so ek kry die voorreg om eerste die nuwe games te probeer!”
  • “Julle kinders is net heeltyd op julle selfone!  Kan julle niks doen sonder tegnologie nie?  Hoekom speel julle nie bietjie nie, of lees vir ‘n slag?  Ons het al die geld spandeer op die Xbox en nou gaar hy net stof op!  En ek het weke terug al e-boeke op julle iPad en Kindle gelaai!”

Verstaan jy nou my uitdrukking van monstertjies?

Ons koop vir ons kinders tegnologie, dan verwyt ons hulle dat hulle dit gebruik!  En dan vertel ons hulle hoe ‘n wonderlike kindertyd ons gehad het sonder tegnologie, terwyl ons gou antwoord op die belangrike bbm van ons Foodeaters bbm-groepie af.  G’n wonder ons kinders is deurmekaar nie.

Ons het in ‘n tydperk grootgeword waar nuus in koerante was en oor radio uitgesaai is.  En enige ander inligting in ‘n biblioteek.   Dit wat ons nie by ouers, maats of in die skool geleer het nie, het ons nie van geweet nie.  Maar moenie glo nie, ek het ‘n paar pornografiese tydskrifte (met sterretjies op strategiese plekke) skelm gesien toe ek klein was (ek het ‘n broer, so ek hoef nie veel meer te sê nie 🙂 ).  Dis nie of dit nie daar was in ons kindertyd nie, ons ma’s en pa’s het net nie geweet dat ons weet van sulke goete nie!

Ons  moet egter aanvaar dat ons kinders ‘n nuwe generasie van die mens is en in die tegnologiese era gebore is.   Hulle het die konsep van tegnologie al in hulle kleuterjare baasgeraak want dit is die realiteit waarmee hulle grootgeword het.  Die wêreld is ‘n oester en is op hulle vingerpunte!  Hoe awesome is dit?  Moet ons nie liewer ons toewy om vir hulle te leer dat saam met die wonder van kennis, kom ook groot verantwoordelikheid nie?  En ONS moet hulle leer van balans, van werk en speel, van weet wat is goed vir jou en wat is sleg.  Hoekom het ons per slot van sake so lekker grootgeword?  Want ons is geleer deur ons ouers!  Ons het fietse en poppe en boeke gekry en ons agterente se velle het gewaai as ons in die huis gesit en tande tel het.  Ons het  maar net gedoen wat ons ouers van ons verwag het.  Dus moet ons mos nog steeds vir ons kinders leer om te doen wat ons van hulle verwag!

En wat tegnologie wonderlik maak, is dat ons dit ook kan aanwend om ons kinders te help.  Ons het byvoorbeeld ‘n baie sterk tegnologiekind in die huis en hy moet beheer word anders sal hy 24/7 op enige vorm van tegnologie spandeer.  Maar danksy tegnologie is daar nou ‘n wonderlike applikasie waarmee ons self sy internettyd kan beperk tot ‘n uur per dag.  Jy sien en hoor niks van hom nie, tot hy skielik ene bondel energie uit sy kamer uit storm, op sy fiets klim en jaag dat die stof so staan.  Dan weet ons dat sy internettyd verby is 🙂   En al was hy  vies daaroor aan die begin, is dit nou deel van sy roetine en is die fiets alles in sy lewe, want hy het geleer om te “drift” met sy “bike” in so ‘n mate dat die buiteband se binnekant al sigbaar is.  So aan die einde van die dag bly ‘n kind maar ‘n kind.  Ons moet hulle net lei en toelaat om kind te wees.

So, my vraag is net:

Wat as ons dit eerder kan regkry om ons kinders te leer om verantwoordelike tegnologie-gebruikers te word as wat ons hulle heeldag verwyt omdat hulle dit gebruik?

Dan gee ons darem vir hulle weer iets om vir hulle kinders oor te dra.  Dan kan hulle ook vertel hoe ‘n lekker kindertyd hulle gehad het!

Advertisements

Om werklik trots oor te dra

Featured image

Nou die dag met Bokvrydag, moes Boeta-hulle groen en goud dra en het hulle hele skool bymekaar gekom en al die bok-liedjies gesing wat daar bestaan.  Hy het die middag by die huis gekom met sy te groot bokhoedjie skeef op sy kop en die bok-serp sommer geknoop om die nek en met skitterende oë en aangekondig:  “I am SO proud to be a South African!!”

Ek was amper verbaas om dit te hoor en het sommer skaam gekry.  Hoeveel keer kritiseer en kraak ons alles en almal in ons land voor ons kinders af?  Ons politiek, ons krag en water probleme, die onderwys?  En hoeveel keer hoor ons kinders dit uit ons mond uit hoe sleg ons land is en hoe alles afdraende gaan?   Dit is amper asof ons dit vir ons kinders wil tuisbring dat hulle eintlik nie te trots moet wees op hulle land nie, want daar is net te veel dinge verkeerd met hierdie land en sy mense.  En dan wil ons wonder hoekom hulle ook later negatief raak oor dinge wat in die land aangaan.

Ek het weereens besef dat kinders dinge anders as ons beleef.  Vir hulle is iets goed as dit lekker is en dis aaklig as dit sleg is.  Hulle het nie die verwysingsraamwerk wat ons as volwassenes het nie.  Hulle enigste verwysingsraamwerk is dit wat hulle by volwassenes hoor en dit wat hulle in die skool leer.  As hulle skool die visie het en die moeite doen om hulle trots te maak om deel te wees van die skool, van die land, van die sport,  hoekom is ons as ouers dan huiwerig om dieselfde te doen?

Is ons nie besig om in sommige opsigte ons eie vyande te word nie?  Ons stel onsself en ons kinders so bloot aan opinies wat oor alles gelig word, sonder om die impak op ons kinders te besef.  Dan is ons eerste in die ry om ons kinders (en ander ouers) te blameer wanneer hulle negatief raak en sonder respek optree teenoor ander mense (daardie mense wat onsself net gister gekritiseer het omdat ons nie glo dat hulle respek verdien nie).

Boeta is mal oor nuus kyk en ons probeer hom altyd afraai om te kyk weens die grafiese material wat hulle soms wys, maar ek het ook ‘n ander ding agtergekom – die nuus maak hom nie negatief teenoor ons land nie.  Dit laat hom toe om sy opinie te vorm en om te onderskei tussen goed en sleg.  En as hy daar opstaan, gesels hy oor die interessante brokkies wat in die nuus was en nie oor die slegte en negatiewe nie.

Dalk moet ons ook soos ons kinders begin raak en die wêreld uit ‘n oog van onskuld beskou.  Ja, dis sleg as dit aaklig is, en dis lekker as dit goed is.  Maar die grys areas tussenin is tog maar vir die mense wat betrokke is om uit te sorteer.  Opinies (goed en sleg) het nog nooit ‘n omwenteling veroorsaak nie.  Maar woorde het wel.

Ek sluit met die kragtige woorde van Sir Lawrence Olivier in die musiekblyspel “Time”.  As ons dit vir ons kinders kan leer, kan ons dalk ‘n toekoms skep waarop hulle trots kan definieer en vestig en van ons land een van die mees positiewe plekke op aarde te maak!

Your life is an expression of your mind.  You are the creator of your own Universe –
For as a human being, you are free to will whatever state of being you desire through the use of your
thoughts and words.

There is great power there.

It can be a blessing or a curse – It’s entirely up to you.
For the quality of your life is brought about by the quality of your thinking –
think about that.

Thoughts produce actions – look at what you’re thinking.

See the pettiness and the envy and the greed and the
fear and all the other attitudes that cause you pain and discomfort.

Realize that the one thing you have absolute control over is your attitude.

See the effect that it has on those around you.
For each life is linked to all life
and your words carry with them chain reactions
like a stone that is thrown into a pond.

If your thinking is in order,
your words will flow directly from the heart
creating ripples of love.

If you truly want to change your world, my friends,
you must change your thinking.

Reason is your greatest tool,
it creates an atmosphere of understanding,
which leads to caring which is love.

Choose your words with care.
Go forth … with love.