Archive | Junie 2014

Skoenlappers in Boksies

Ek is doodseker dat ons in ‘n boksie-samelewing leef. Mense word in boksies geplaas en dan besluit die samelewing dit is die norm. En ek wonder of dit regtig so bedoel was dat ons in boksies leef?

In my geestesoog sien ek ‘n effektiewe samelewing – miere in hierdie geval is vir my die toonbeeld van ‘n effektiewe samelewing (ek ken hulle goed, omdat hulle baie frustrasie in my huis veroorsaak). Hulle weet wat hulle taak in die lewe is: om kos bymekaar te maak. Dus staan hulle in die oggend op, organiseer hulle huisies, kry almal bymekaar en stap in netjiese en geordende rye om hulle werk te gaan doen. Nie een dwaal ooit af nie. Hulle het ‘n struktuur, ‘n doelwit en hulle fokus is geheel en al daarop. Niks lei hulle aandag af nie. Hulle doen hulle werk, en keer terug huis toe, om more weer presies dieselfde roetine te volg. Nooit word daar van roetine afgewyk nie. Aan die einde van die dag is die taak effektief afgehandel en voel hulle goed oor hulleself, want hulle dra positief by tot ‘n gestruktureerde samelewing. Die samelewing maak staat op hulle en slaan hulle hoog aan, want hulle verteenwoordig stabiliteit, fokus, samewerking, vooruitstrewendheid – en sommer alles wat daarmee saamgaan.

Dan kry mens die skoenlappers. Dit is nou die wat nie kan stilsit op een plek nie. Hulle fokus hou so lank as wat dit vat om van ‘n rooi blom na ‘n geel blom te vlieg. Hulle het nie aldag ewe veel struktuur of stabiliteit nie, hulle het ‘n doel voor oë, maar nie noodwendig ‘n plan om daaby uit te kom nie – meestal gebeur dit sommer op ingewing. Hulle vat hier en los daar, en verskaf soveel kleur in hulle vreugdevolle, dolle, trippelgang dat die samelewing hulle koppe skud in verstomming oor hierdie skoenlappers wat net nooit lank genoeg stilsit om iets klaar te maak nie. Hulle is geheel en al ‘n uitsondering wat nie lekker inpas in die boksies van ‘n goed gestruktureerde samelewing nie.

Maar die samelewing weet goed dat hulle skoenlappers baie nodig het, net soveel soos wat die miere nodig is. Want die skoenlappers kom in, hulle sien dadelik die groter prentjie van wat gedoen moet word, hulle ontwikkel, implementeer, werk vinnig en akkuraat. Voordat die werk vervelig raak en hulle fokus verloor en iets meer opwindend raaksien, vlieg hulle weer na ‘n volgende taak toe om daar hulle vrug te lewer. Hulle los dus dit wat hulle ontwikkel en geïmplementeer het vir die miere wat dan ‘n struktuur en georganiseerde plan skep om effektief daarmee voort te gaan.

In die samelewing is dit meestal die skoenlappers wat die musiek verskaf, die skeppendes is, die kunstiges, die entrepreneurs, die beginners van projekte, die ontwikkelaars, die mense wat buite die boks sit en ander dinge raaksien sien en met nuwe idees vorendag kom. En dit is die mense wat onthou word juis vir hulle innoverende denke. En tog voel die samelewing steeds dat die miere moet heers en dat almal in boksies moet inklim en soos die miere moet wees – gefokus, gestruktureerd, georganiseerd, kalm, bedaard, met ‘n duidelike doel voor oë en ‘n besliste plan om daar uit te kom. Alles volgens die boek. (Die boek wat, in alle waaskynlikheid, oorspronklik deur ‘n skoenlapper geskryf is ….)

Dit is vir my ‘n jammerte dat ‘n skoenlapper op skool uitgeken word as “anders” en dat hulle met medikasie gekonformeer moet word sodat hulle in ‘n boksie kan inpas en kan leer om soos ‘n mier te wees en te dink. Hulle moet deur 12 jaar van ‘n boksie-samelewing wroeg, met hulle vlerkies styf teen hulle lyfies vasgevou en gestruktureerd hulle werk doen. As hulle dan uiteindelik hulle skoolopleiding voltooi het, mag hulle dan hulle vlerke sprei en vry beweeg om die samelewing te verryk met hulle anderster denke.

Ek het ‘n skoenlapper  in my huis en ons wroeg met ons boksie deur die skoolkwartale!  Ons sien almal uit na die skoolvakansies wat vir hom vryheid beteken, sonder perke.  Dit is ‘n tyd waartydens hy sy toegevoude vlerkies kan uitsprei en toegelaat word om honderd dinge op een slag te doen en ons skaars kan byhou by sy gedagtegang en ongelooflike skerpsinnigheid in dinge wat niemand ooit raaksien of aan dink nie. Dit is so ‘n vreugde om ‘n skoenlapper in volle gang en vryheid te sien en te ervaar!

Ek is hartseer dat die samelewing nie skoenlappers wil raaksien vir wat hulle is nie en dat daar ‘n stigma aan hierdie uitsonderlike kinders klou. Dat daar in ons boksie-samelewing nie voorsiening gemaak word vir hulle eie omgewing van oop ruimtes, chaos, kreatiwiteit en entrepreneurskap nie. Daar waar hulle vrylik kan uiting gee aan hulle malse uitbundigheid in ‘n omgewing van kleur en nuwe dinge wat hulle sinne stimuleer nie.  Daar waar hulle nie nodig het om in ‘n grys klaskamer in ‘n boksie by ‘n tafel hoef te sit en stil en ordelik hulle werkies sit en doen, terwyl die wêreld daar buite hulle oester is nie.

Hoe weet ons of dit nie dalk juis die skoenlappers is, wat buite die boksies lewe, wat in die regte realiteit lewe nie?

Ek meen, ons leef tog almal in dieselfde skepping, en bokse was eintlik nooit deel van die skeppingsverhaal sover ek weet nie ….

… vryheid was wel …

Advertisements