Argief

Wat maak die suiker in die yskas?

Om ‘n ma te wees, beteken daar gebeur elke dag iets nuuts in jou lewe en soms leer jy meer oor jouself as oor jou kinders. Om ouers te wees beteken jy het meer uitdagings as wat enige beroep jou kan bied. Jy dink nog een oomblik jy en manlief is darem nie te sleg ouers nie, dan kom sussie by die huis met die nuus: “Mamma, die juffrou sê daars luise op my kop….”

O, die aardskuddende vernédering! Die skánde. Nou dink al die mense ons leef in hierdie onhigiëniese toestande. Dan moet ons maar stilletjies hare was en uitkam en ons koppe hoog hou. Net om Maandag ons skoonkop kind skool toe te stuur en Dinsdag weer dieselfde ellendige probleem te hê in die dikke hare! Slegte ouers wat ons is ……

En dis nog niks.

Daar is ‘n groter “skande” wat oor jou huis kan kom as goggatjies in die hare en dit is nie so ‘n maklike ding nie. Dit is daardie kontraversiële woord: ADHD.

Dit is wanneer juffrou vir jou inroep en vertel dat jou seuntjiekind in die klas slaap en nie sy werk kan doen nie. O ja, as hy toets skryf kry hy volpunte en as daar aktief spanwerk en matwerk gedoen word, is hy voor in die koor, maar sit ‘n werkbladsy voor hom en hy kry dit om die dood nie eers begin nie, praat nie eers van klaarkry nie. En ai, dan sit hy nog en neurie sy koorliedjies en irriteer hy elke ander kind in die klas wat in stilte wil werk …

En daar begin die volgende stap in ons lewe: Navorsing.

Ek het eenkeer die volgende gelees:  “A worried mother does more research than the FBI”

So sit ons een heerlike dag by die kinderpsigiater wat alles aan ons probeer verduidelik. Sy kyk vir my en manlief so aan en vra: “So, wie van julle is ADHD? Dit is geneties, dus moes hy dit van een van julle af gekry het.” Ek en manlief kyk na mekaar en sê vir haar: “Dis die snaaksste ding! Nie een van ons is ADHD nie!”

Wel …..

So doen ek toe te veel navorsing (moes dit maar vir die FBI gelos het) en kom ek toe nogal redelik vinnig agter wie die skuldige is … en dis nie my man nie. En tog was dit skielik bevrydend om ‘n hele paar dinge baie beter te verstaan oor myself ….

Wat toe ‘n skande en vrot ouerskap moes wees (glo my, daars ‘n paar mense in my lewe wat steeds dink dat ons vrot ouers is), is toe op die ou end nie iets waaraan ons veel kan doen nie, behalwe om maar net te besef dat daar ‘n paar dinge is wat ons kind sal moet aanleer as ‘n vaardigheid waar dit natuurlik by ander kinders kom.

Wat my navorsing my geleer het, is die volgende:

  • Dit is ‘n neurologiese afwyking, nie ‘n gebrek of abnormaliteit nie.
  • Dit is in die manier waarop die brein aanmekaar gesit is. ‘n Klein persentasie van mense is linkshandig, die res regshandig. ‘n Klein persentasie van mense is ADHD en die res nie. En dis nie so raar soos mense dink nie.
  • Dis nie net kinders wat dit het nie.
  • Dit het te doen met die chemiese stowwe en neurotransmitters wat jou brein aktiveer om te fokus en te konsentreer. As jy geneties ‘n tekort aan hierdie faktore het, kan jy maar op jou kop staan en …. ja wel – dit sal nie verander nie. Breinskanderings wys die verlaagde aktiwiteit in die brein van ‘n ADHD persoon, teenoor die verhoogde aktiwiteit van ‘n neurotipiese (nie-ADHD) persoon.
  • ‘n Mens ontgroei nie iets wat geneties deel van jou is nie. Jy het dit dus van geboorte af en jy het dit tot jy doodgaan. Die goeie nuus is wel dat jy vaardighede kan aanleer om die uitdagings wat jy het, suksesvol te kan aanpak en dit raak makliker soos jy ouer raak. Die rede is seker omdat jy nog steeds in alle aspekte normaal is, ten spyte van wat mense dink….
  • Jou natuurlike humorsin word nie geraak deur ADHD nie. As jy dit ontdek het, is jou kop deur.

So, noudat die navorsing gedoen is, is dit makliker om sekere dinge te verstaan uit dit wat ek geleer het:

  • Manlief vertrou my net soms op ‘n goeie dag om vir hom koffie te maak. Want teen die tyd dat hy sy koffie kry, het ek al die honde kos gegee, bossies in die tuin uitgetrek, die wasgoed ingesit om te was, badkamers skoongemaak, bestandele uitgehaal om koekies te bak en ‘n hoofstuk van my boek klaar gelees (min of meer in daardie volgorde), en dan is ek alweer besig om my blommetjies nat te gooi. So, op die oud end maak hy maar vir ons twee koffie.
  • Ons ADHD-ers is baie betroubaar, maar nooit betyds nie. Anders as wat mense dink, is dit nie aspris nie. Ons breine het nie die vermoë om tyd te beplan om betyds te wees nie. As ons te vroeg begin klaarmaak, het ons net meer tyd om afgelei te word en is ons dan in elkgeval laat. En ons kry dit nie reg om te weet presies wanneer betyds, wel, betyds is nie. Vaste roetines is nie so ‘n probleem nie, want dit is nou al beproef teen watter tyd wat moet gebeur en ek en Boeta het dit nou al min of meer reggekry. Maar selfs dit is soms ‘n stryd, want as ek my kom kry is ek besig om Faceboek te bekyk en Boeta sit en trek al sy kouse oor sy linkervoet met sy karretjies binne-in die kouse en vergeet dat ons moet klaarmaak. En ek vergeet om hom aan te jaag ….
  • Dis ‘n groot uitdaging om ‘n ADHD kind groot te maak as jyself ADHD is, want dit raak nogal moeilik om vir hom iets te probeer leer wat jyself vergeet om te doen, soos om dit wat jy gebruik het te gaan bêre. Gelukkig vind ek dat hy beter daarmee is as ek ….
  • Dis nog moeliker as die ander twee mense in jou huis nie ADHD is nie en die arme goed nog perfeksioniste ook is wat altyd in beheer en georganiseerd probeer wees ten midde van al die chaos wat hulle omgewe. Mense wat net in reguit lyne leef sal nooit die wonderwêreld van ‘n krabbel verstaan nie. Dis ‘n wonder dat hulle lief bly vir ons. Hulle reken seker maar die duiwel wat jy ken teenoor die duiwel wat jy nie ken nie …
  • Notaboeke met watermerke werk nie in seminare nie. Ek woon vir my werk redelik baie seminare, opleiding en werksessies by en hulle kyk altyd hoe oulik en fensy hulle blaaie kan wees waarop jy notas kan skryf. Die prettigste was nou die dag ‘n notaboek met ‘n watermerk-boom vir ‘n agtergrond. Ek het op nie minder nie as 4 van die bladsye die boom nagetrek en blare op geteken, en spyt gekry dat ek nie kleurkryte by my gehad het nie. Ek kan die ontwerpers van daardie skryfbehoeftes ‘n paar dinge leer …
  • Huis skoonmaak is baie interessant. Maar, soos die jare aangaan, het ek nou al die organiseer-ding min of meer reggekry. Alles wat ek nie elke dag gebruik nie, oorweldig my en dan weet ek eerlik nie wat om daarmee te maak nie, want weens ons gebrek aan goeie organisasievermoëns, kan ons nie onderskei tussen dit wat nodig en onnodig is nie (dus hou ons alles). Toe die inspirasie my dus tref vroeër in die jaar, het ek alles wat ons besit en nie elke dag gebruik nie, gekategoriseer en bly hulle nou uit die oog uit in goed gemerkte kratte in die garage. Ek sê nou die dag vir manlief dat hy moet pasop, my hele lewe is nou in kratte. Hy gaan nog eendag sy oë oopmaak, dan laai ek net die kratte en vaar die wêreld in. Net daarna gaan ek winkel toe en bly te lank weg (jy weet, te veel winkels en goetertjies binne-in die winkels), toe laat weet hy so ewe vir my dat ek maar moet laat weet of ek terugkom of nie, sodat hy solank kan tyd spaar en reël om die kratte te laat laai 🙂 . Maar ek weet dat hy stilletjies bly is dat die huis sommer goed skoon van al die “clutter” is en dat alles vir die eerste keer in ons 21jarige huwelik op een plek en maklik bekombaar is.
  • Elke dag is ‘n verfrissende dag, want met seunskind se lewenslus en sy anderste kyk op die lewe, kan hy homself uit enige iets uit redeneer en nog ‘n droë antwoord ook tussen-in inkry as jy nie oppas nie. Sy sussie het hom al gevra hoekom kan hy nie soos enige ander normale mens “groggy” en beduiweld wees as hy in die oggend opstaan nie. Sodra hy opstaan, is dit asof die son opkom, of dit ‘n sonskyndag is of nie. Hy raak ons soms oor met sy lewenslus, maar ons kan nie help om soms maar half skelm lekker te skater nie, want in sy wêreld leef daar snaakse mense …

Wens ek dat ek en my seunskind anders en meer georganiseerd en meer effektief as mense kon wees soos wat die samelewing van ons verwag?

O nee, ons verskil wêrelde van die mense om ons en dit is ‘n wonderwêreld van drome, kreatiwiteit, spiritualiteit, musiek, skeppend wees, verwonderd wees oor elke liewe detail van elke klein dingetjie wat ons aandag trek. Werk en verantwoordelikheid en skool hou ons gegrond en laat ons onthou om harder te werk as enige iemand anders vir wie so baie dinge natuurlik kom. Maar dit is steeds heerlik om elke fase van my seunskind se andersheid en lewenslus te ervaar en te geniet en te lag vir sy pittigheid. Dit is vir my heerlik om in sy wêreldjie in te klim en te gaan rondloer as ek en hy alleen is, want dan ervaar ek die beste van hom.

Ons word wel seergemaak deur mense wat nie verstaan wat vir ons uitdagings is nie, bloot omdat hulle ‘n gebrek aan kennis en empatie het. Vir die res maak ons seker dat ons gelukkig is, want ons weet dat ons nie regtig altyd op ander kan staatmaak om ons te verstaan en aanvaar nie. Ten minste het ons al geleer dat die mense wat ons onvoorwaardelik aanvaar sonder om ooit enige iets te sê te hê oor hoe ons lewe, die mense is met wie ons ‘n ver pad sal kan stap.

Ek dink elkeen wat in enige soortgelyke bootjie is, sal verstaan as ek sê dat ons moet die realiteit aanvaar waarin ons lewe. Dit help nie dat ons daarteen skop en onsself minderwaardig ag net omdat ons nie kan voldoen aan ander se vooropgestelde idees nie, al wil ons ook soms graag effektief en maklik deur die lewe gaan soos hulle.

Maar, solank ons weet dat ons ‘n positiewe bydrae kan lewer tot die samelewing, doen ons dalk meer as meeste van die mense daarbuite.