Argief

Vir my mooi dogter

Elke jaar sit ek ‘n mooi wens vir jou op Facebook vir jou verjaarsdag.  Vanoggend sien  ek al die Facebook memories van al die wense wat ek nog vir jou gestuur het en skielik besef ek dat ek na 19 jaar se wense sekerlik nie meer veel kan wens wat ek nog nie gewens het nie.

So, hierdie jaar gaan ek selfsugtig wees en iets vir myself wens op jou verjaarsdag.  So, hier is dit, my mooiste meisiekind.

Ek wens ek kan jou sielvolle oë skilder wanneer jy die mooi om jou bewonder, voor jy dit perfek deur ‘n lens vasvang.  Dan kan ek die wêreld altyd deur jou oë sien.

Ek wens ek kan die grasie van jou menswees in ‘n dans opvang, sodat ek altyd lig en vry op die maat van die musiek kan dans.

Ek wens ek kan die passie in hart jou omsit in ‘n simfonie, sodat die klanke daarvan altyd my siel sal streel.

Maar omdat ek nie kan skilder, dans of ‘n simfonie skryf nie, wens ek maar net dat ek die mens wat jy is, in ‘n flessie kan opvang sodat ek altyd na jou kan kyk en wéét die wêreld is ‘n beter plek, net omdat jy daarin is!

Maar, nadat ek al hierdie wense vir myself gewens het, weet ek dat ek jou tog uiteindelik sal vrylaat, sodat jy jou ragfyn vlerke kan sprei en die wêreld oorwin.

So, dan wens ek liewer maar weer vir jou ‘n wens, my mooi meisiekind:

Dat jy sal aanhou om die wêreld te sien vir sy moontlikhede deur jou sielvolle oë,

Dat jy die ritme van die lewe sal dans, al is die musiek nie altyd mooi nie,

Dat jou passie nooit sal minder raak in die dinge waarin jy so sterk glo nie.

Dat jy altyd so sterk sal glo dat jy van die wêreld ‘n beter plek kan maak.

Want jy kan.

Want jy is tot alles in staat.

Jy maak ons trots.

Ons lief jou tonne!

(Foto:  Tamcam photography)

Advertisements

Nogtans ….

Die Weskaap gaan gebukkend onder die ergste droogte wat nog ooit opgeteken is.  Die damvlakke word nou elke dag saam met die weer op die radiostasies aangekondig.  Almal word gewaarsku om soveel water as moontlik te spaar en te begin berg.  Ons hou die reënberigte bekommerd dop en draai hartseer weg as ons sien hoe min verskil die klein bietjie reën maak.

‘n Nuwe woord word die nuwe spreektaal, amper soos ‘n aankondiging van die oordeelsdag:

DAG ZERO

… die dag wanneer ons waterpype amptelik gaan leegloop …

Dit voel of die wêreld begin verlep soos die seisoen draai en die reënseisoen amptelik verby is.

Maar tog, gaan die skepping sy gang.  Die Weskus veld-blomme het hulle pos ingeneem, kiertsregop  gestaan en met hulle gesiggies die son gevolg.  Hulle kleur en vrolikheid uitgestraal vir elkeen wat dit kon waardeer.  Die bome floreer terwyl hulle wortels die water diep onder die aarde intrek.  Die voëls trek heen en weer tussen die twee vleilande in ons omgewing wat al hoe droër word, maar tog gaan hulle hulle  gang.

Die nag word dag.  Elke dag wys nuwe hoop en belofte.  Die skepping gaan eenvoudig sy gang.

En ek wonder elke dag.  Weet die skepping dan nie dat daar nie water is nie?  Weet die skepping nie dat daar ‘n groot krisis in ons land en in die Weskaap is nie!?

Wat is dit wat ons nie verstaan nie?

Maar, dan besef ek dit is eintlik alles in een woord opgeteken.  ‘n Moeilike woord wat moeilik is om te gebruik en te verstaan.

Die woord:  Nogtans

Habbakuk het die spyker op die kop geslaan met hierdie woord.

Al sou die vyeboom nie bot nie.  En daar geen druiwe aan die wingerde wees nie.

Al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie.

Al sou daar geen reën hierdie seisoen gewees het nie en die damme leegloop sodat mense oor die dorre aarde sal moet struikel om water te gaan haal uit tenkwaens wat aangery is.

Al sou daar geen kleinvee, in die kampe meer wees nie omdat voëlgriep die bestaan van hoenders en eiers bedreig en kospryse maar net weereens verder die hoogte gaan inskiet.  En die armes weereens net armer gaan word.

En die beeskrale sonder beeste wees omdat hulle doodgemaak moet word, omdat daar geen water en goeie voer in hulle krippe meer is nie.

Nogtans, sal ons saam met die skepping juig.   Sal ons jubel in ons God, die Here!!

Vir my maak dit nie sin om te jubel as dinge so sleg gaan nie.

Maar, as ek mooi daaroor dink kan ons miskien wel jubel ….

Miskien … omdat ook hierdie sal verbygaan.

Miskien …. sodat ons as mensdom vir ‘n slag kan leer om dankbaar te wees vir seëninge uit God se hand wat ons as vanselfsprekend aanvaar en elke dag so vermors.  Vir ons as gesin was dit nie eers moeite om ons watergebruik te halveer toe hulle waterbeperkings ingestel het nie.  Dit was letterlik ‘n kwessie van dink voor jy ‘n kraan oopmaak.  Van kreatief wees.  Van nuwe dinge uitdink om water te spaar.  Dit maak vir ons weer ‘n nuwe denkwyse oop sodat ons in die toekoms slimmer gaan wees om hierdie situasie te voorkom of ten beste te beheer.  Is dit noodwendig ‘n slegte ding?  Ek dink nie so nie.  Hoe anders gaan ons leer?

Miskien … omdat, in die span van ons lewe, is hierdie een slegte seisoen in ons lewe, en is die belofte steeds daar van voorspoed.  Want ons gaan die volgende seisoen in met die wete dat ons nooit weer dit wat op die aarde vir ons gegee is om te gebruik, as vanselfsprekend sal aanvaar nie.

Miskien omdat die Here steeds vir ons krag en seëninge skenk.  Elke dag.  Ja, soms moet ons dit soek of net weer mooi kyk om dit raak te sien.  Maar dit is daar.  In ons werk, in ons dak oor ons kop, in ons kinders, in ons vriende, in ons kerk, in ons gemeenskap, in die feit dat ons lewe. In onsself (ek dink dit is die moeilikste een, want is die EK nie maar die moeilikste mens om tevrede te stel nie? …)

Hy maak steeds ons voete soos ‘n ribbok. Hy gee vir ons vlerke.  Hy laat ons veilig loop op hoë plekke.

En per slot van rekening is Hy net so ver van ons af as wat ons knieë van die grond af is.

Dalk moet ons ‘n slag die woord nogtans meer gebruik.  Dalk moet ons meer dankbaar wees vir wat ons het en die lesse leer as dit weggeneem word.  En ophou om dinge vir onsself toe te eien en alles as vanselfprekend aanvaar.  En uit ons hoekie van selfbejammering klim en ander help in die stryd.

En leer by die skepping van nogtans.

En nogtans vir die Here dankie sê dat Hy dit nog met ons uithou! Want die vet weet, aan Sy liefde (en geduld met ons) sal daar werklik geen einde wees nie 😉

As ons woorde opraak

As ‘n oumens sterf, dan dink mens altyd aan hoe ‘n wonderlike en vol lewe hulle gelei het en hoe heerlik hulle sekerlik nou rus.  Alhoewel dit ongelooflik hartseer is as iemand uit jou midde uit weg is, is daar altyd die troostende beeld van die Herder wat Sy kind lei na groen weivelde en waters waar daar rus is.

Maar laasweek Vrydag het ‘n skokgolf ons werk getref toe ‘n 81-jarige oud-hoofbestuurder van ons maatskappy wreedaardig in sy huis vermoor is.  Hy was ‘n statige, vriendelike man met altyd ‘n grappie of twee en die wêreld se kennis.  Hy was nog baie betrokke by die maatskappy en almal het die grootste respek vir hom gehad. In ‘n konfliksituasie sou hy waarskynlik nie eers ‘n geveg opgesit het nie.  Hy sou liewer vir hulle gesê het om maar te vat wat hulle wil, want hy was die tipe mens wat sou weet dat ‘n lewe meer werd is as besittings.  Maar hy het nooit die kans gekry nie.  Hy is aangeval in sy agterplaas, in die huis in gesleep en doodgeslaan.  Vir ‘n paar bottels wyn en min goed wat waarde het.

En skielik sukkel mens om die prentjie van die Herder te sien wat Sy kind lei na waters waar daar rus is.  Want skielik wonder mens hoeveel rus kan daar wees waar iemand so wreedaardig uit die lewe uit weggeruk is?  So sonder sin, sonder enige gevoel.  Die een oomblik bewandel  jy die aarde, en die volgende oomblik is jy in die hiernamaals.  Ons verstand kan dit nie eers begryp nie.

Ek dink ons wat agterbly op die aarde na so ‘n helse trauma, trek die kortste ent van die strootjie. Ons bly agter om voetslepend aan die kruis te dra van ‘n raaiselagtige beeld sien in ‘n dowwe spieël.  Die dood en die leemte daarvan maak nooit vir ons sin nie.  Ons ervaar deurentyd die bose, ons onthou die wreedheid, ons hart dra die stukkende seer elke dag. Ons reik tastend uit na enige iets wat die persoon nog op die aarde kan hou, maar daars net ‘n leemte.  En ons woorde raak net eenvoudig op.

Maar, deur dit alles besef ek een ding.  As ons as christene glo in die ewige lewe, dat die dood geen angel het nie, dan moet ons glo dat die koninkryk van God en die ewige lewe, werklik slegs een hartklop ver is!  Dit beteken, as ons hart ophou klop, tree ons onmiddellik oor die drumpel na die ewige lewe!  Dis nie eers ‘n reis nie.  Dis nie ‘n gesondwordproses om eers al die aardse dinge af te skud nie.  Dis so onmiddellik soos één hartklop.  Ons weet nie waar hierdie drempel is nie, maar ons weet een ding ….  Dis daar waar God heers en die bose ons nie meer kan aanraak nie.  Daar waar niks van die pyn en ontnugtering en skok wat ons op aarde ervaar het meer ‘n werklikheid is nie.  Dis ‘n plek waar ons wil wees.  Vir altyd …

My gebed is dat die beeld van die Herder ook in sulke tye vir ons ‘n werklikheid sal wees. Dat ons sal verstaan dat mense soos Mnr Wiese en soveel ander wat deur sulke wreedheid of siekte uit ons midde uitgeruk is,  slegs één hartklop ver in groen weivelde en by stille waters rus, maak nie saak wat met hulle hier op aarde gebeur het nie.

Hierdie stukkie van Max Lucado het dit vir my so goed opgesom.

In God’s plan every life is long enough and every death is timely. And though you and I might wish for a longer life, God knows better. And—this is important—though you and I may wish a longer life for our loved ones, they don’t. Ironically, the first to accept God’s decision of death is the one who dies. While we are shaking heads in disbelief, they are lifting hands in worship. While we are mourning at a grave, they are marveling at heaven. While we are questioning God, they are praising God.

 

In ‘n boks onder ‘n brug

Net soos mens by die stad inkom, ry die bus langs die treinspoor af en onderdeur die groot brûe wat die motors die stad inlei.  Daar bly nogal baie mense in hierdie omgewing onder bokse in die bosse en onder die brug.  Tipies mens, deins ek terug vir die afskuwelike omstandighede waarin hierdie mense bly en die vuilheid en reuke en gemors wat hulle omring.

Maar, as mens dieper kyk, sien jy ‘n netjies aangetrekte man wat by ‘n emmer water staan en sy tande borsel.  Jy sien die skoon wasgoedjies op die klippe uitgepak in die son om skoon te kom.  Jy sien iemand op ‘n klip sit en lees.  Jy sien ‘n vrou wat ‘n ete voorberei vir die mense om haar.  Jy sien mense gesels en lag.

En skielik besef jy.  Ondanks en ten spyte van, is hierdie doodnormale mense.   Hierdie is nie anderster of snaakse of vreemde wesens nie.  Dit is eintlik mense soos ek.  Mense soos jy.  Mense met vreugde en hartseer, bekommernisse, groot behoeftes.  Maar ook mense met drome en ideale. Mense met hoop dat vandag genoeg gaan wees en dat more ‘n belofte inhou van meer.

Wat ook al hierdie mense se omstandighede en probleme, is ek seker dat niemand kies om onder ‘n brug jou bed te maak nie.  Ek twyfel of enige iemand kies om ‘n huis te bou uit kartonbokse onder ‘n struik langs die pad op die klam gras.  Maak nie saak wat nie. Hoe kan ek dink ek is beter, as ek nie weet wat sy omstandighede is nie?

Ek wonder wat sou hy dink as hy kyk na die mense in die motors of busse wat verbykom?  Wens hy vir die saamwees saam met mense, die sorgelose gesels waar hy nie geoordeel word nie?  Die voorreg van vervoer?  (Weet hy ooit hoe dit voel om  in ‘n motor te ry?) Wens hy dalk net vir daardie bietjie hitte en beskerming wat die bus bied teen die snerpende koue?  Gaan hy elke dag na ‘n werk toe en stuur daardie geld net so vir sy familie, omdat hulle in nog hagliker omstandighede lewe?

Ek dink, as ons hierdie mense werklik raaksien met ons hart en nie met ons verstand nie, gaan ons dalk begin besef dat hulle nie ander is as ons nie.  En ons nie anders as hulle nie.  Niks maak ons beter nie.

Ons omstandighede behoort nie die faktor wees wat ons onderskei van “hulle” nie.

Ons empatie, liefde en versorging, ja, dalk tog … want dan word die hoop van more dalk net vir hulle ‘n werklikheid.

Alles op die regte tyd

Ek kry soms sulke dae wat ek sommer net omge-ellie is.  Die finansies verstaan nie dat ek spesifieke uitgawes het nie.  Almal om my is siek, kwaad of hartseer, dan praat ek nie eers van ons arme land, regering en nog die droogte nie.  My loopbaan wil-wil half op ‘n piesangskil op AVBOB se stoep speel en dis net soveel moeite om te moet dink aan ‘n verandering maak.  Ek wens soms ek kan net volgende jaar hierdie tyd opstaan en kyk hoe my lewe uitgedraai het, sonder dat ek deur al hierdie dinge hoef te gaan.

Maar, dan dink ek aan twee onlangse gebeurtenisse wat ek gehoor en beleef het.

Een was van ‘n ouma wat twee dae voor haar dood vir haar kleindogter gevra het om haar bybel te gaan haal en die onderstreepte gedeelte in Psalms vir haar voor te lees.  Die dogter het die onderstreepte verse opgespoor en dit vir haar gelees.  Na haar dood, toe die dogter dit vir haar ouers daarvan vertel en hulle in bybel kyk watter gedeelte dit was, was daar geen vers in die hele bybel wat onderstreep was nie!

‘n Ander ondervinding was iemand wat voor ‘n vergadering vir my gevra het om gou te kom kyk na die sonar van haar baba.  Sy het voorheen ‘n hele aantal miskrame gehad en hulle het gesukkel om uit te vind wat die oorsaak is.  Na behandeling is haar swangerskap suksesvol.  Maar terwyl sy dit vir my vertel, kon sy nie haar trane keer nie ek sien die hemelse verwondering en ongeloof in haar oë dat sy die voorreg het om die sterk lyfie te kon sien wat gesond is en geen sigbare gebreke het nie.  Dit was vir my so ‘n groot ervaring.

Dis dalk heeltemal losstaande dinge van my persoonlike probleme, maar toe ek daaraan dink, toe besef ek dat niks in die lewe eintlik net om my gaan nie.  Ek mag dink dat ek op ‘n slegte plek is, dat ek so graag bestem wil wees vir ander dinge. Maar terwyl ek in my hoekie sit en jammer voel vir myself, is God steeds besig om groot dinge te doen.

Hy is steeds besig om wonderwerke op selfs onnatuurlike maniere te laat gebeur om ‘n boodskap van troos te gee vir ‘n ouma wat begin aanvoel het dat haar horlosie op aarde uitgeloop het.

Hy laat ‘n suksesvolle swangerskap toe vir iemand wat sekerlik al moes moed opgegee het en nie baie hoop gehad het dat dit hierdie keer anders sou gewees het nie.

Ons mag dink dat ons belangrik genoeg is om prioriteit te moet geniet as gevolg van ons situasie.   Dat ons dinge nou moet gebeur, want dit is nou dringend.  Maar dit werk nie so nie.  Terwyl ons wag op God om op Sy tyd (wat die regte tyd is) dinge in ons lewe te doen en uit te sorteer, moet ons besef dat daar baie groter dinge is wat om ons gebeur.

Ek het werklik so baie om voor dankbaar te wees dat ek seker maar regtig kan begin om met ‘n blye hart vir ander te kan mense gun om hulle Godservaring te kry waarvoor hulle so lank gewag het!

“Not because of what we’ve done, but because of who He is!”

Dis eintlik maar al wat ek vandag wou sê.

Kan zombies praat?

Soms sleep my voete effens wanneer ek busstop toe moet stap in die oggend.  Maar, wat dit die beste tye ooit maak is die dae wanneer my seunskind besluit om saam met my stap, in plaas van om met sy fiets skool toe te ry.  Die skool is net ‘n blok verder van die busstop af, so dit is heel prakties.

Wat so lekker is van hierdie seunskind, is dat dit nie veel vat om ‘n heerlike buite-die-boks gesprek vol verbeelding en kleur met hom te begin nie.  Ek kan my dan verluister aan sy intelligensie en fyn sin vir humor – ‘n kant van hom wat min mense die voorreg het om te sien en waardeer, want hy moes noodgedwonge skanse opbou om homself te beskerm in sy wêreld van uitdagings.

Vanoggend het ek en hy ‘n gesprek het oor zombies gehad.  Omdat die skool sluit, was daar letterlik nie ‘n mens of ‘n kar in ons straat sigbaar sover die oog kan sien nie.  En ons bly in ‘n baie besige straat.  Ek sê toe vir hom ek wonder of hier ‘n apokolips gebeur het.  Hy reken toe, nee: As dit die geval was, sou ons nou ‘n massa mense gesien het wat al skreeuende in die pad afgehardloop gekom het met zombies wat hulle jaag.

So beweeg die gesprek toe al laggende en verbelende na wat ons sal doen as daar nou regtig ‘n massa mense aangehardloop kom met die zombies agter hulle wat sê:  “I want to eat your brain …”

Nee, reken meneertjie, “Here’s an interesting factoid.  You become a zombie when a zombie eats your brain, so if you don’t have a brain, you can’t talk. So strictly speaking, a zombie can’t tell you which part of you he wants to eat. ”  Nou ja, al het ek liewer nie gestry nie, het ek maar probeer om nie te lank by daardie gedagte stil te staan oor watter deel van my lyf die lekkerste gaan lyk om te eet as ‘n zombie my jaag nie …. en ek het maar gou omgekyk net vir die wis en die onwis …

Maar of zombies kan praat of nie, wonder ek soms hoe my lewe sou wees sonder hierdie seunskind.  Dit is vir my so bevrydend om ‘n gesprek oor iets te voer wat geensins aan die realiteit raak nie.  Dit is bevrydend om te kan weet dat ons verbeelding vlerke het sodat ons die wêreld kan sien vir sy moontlikhede en nie sy werklikhede nie.  En snaaks genoeg is dit juis hierdie gesprekke wat my voete op die aarde hou en my help met die alledaagse dinge.  Want die oomblik wanneer my verbeelding vlerke kry, beteken dit dat ek vir daardie oomblik nie sit en brom om my eie miskoek van bekommernis en vrese nie.  Dan kry ek nuwe perspektief oor so baie dinge wat vir my moeilik is hier op aarde.

Want hierdie verbeeldingsvlugte is vir my gelyk aan ons toekomsverwagting.   Sekerlik nou nie die zombies wat jou breins wil eet nie, maar die verwagting van ‘n wêreld van “enige iets is moontlik”.    ‘n Wêreld ver bo dit wat ons nou ervaar, waar alles in orde is en ons daagliks in vrede en harmonie kan leef.  Waar ons lewe nie bestaan uit beplan en bekommer en vrees nie, maar uit rustigheid en totale oorgawe aan ‘n wonderwêreld wat vir ons gegee word om in te woon.

Daardie wêreld wat letterlik en figuurlik wérklik net ‘n hartklop ver is ….

Om ‘n manna-mens te wees

‘n Ma wat staan in die puin van dit wat hulle lewe was.  Gister nog het sy hulle paar kledingstukkies gewas.  En na hoe lank se los werkies kon sy genoeg geld bymekaarmaak om ‘n pakkie meel te koop vir haar kinders en haar siek pa wat by hulle in die sinkhut woon.  Maar deur die nag het alles afgebrand.  Alles.  Daar is niks oor nie.  Nie eers ‘n stukkie brood vir haar honger kind nie.  Nie ‘n kombers om die skouers toe te maak as die windjie koel raak nie.  Nie eers skoene om hulle voete te beskerm nie.  Niks.

Sy stap met haar kind na die vragmotors wat goedere bring, maar sy is een van duisende mense wie se huise afgebrand het, en daar is net eenvoudig nie genoeg goed vir almal nie.  Sy sal maar moet rondstaan tot die volgende vrag kom, en dan weer tot die volgende vrag kom.  En as die skrapse stukkies kos uitgedeel word, gee sy dit vir haar honger kind, want niemand weet of daar more weer gaan wees nie.  En sy het nêrens om heen te gaan nie.

Moedeloos kyk sy boontoe en sy wonder waar gaan haar manna vir vandag vandaan kom?

En ek kyk boontoe en wonder hoekom laat God toe dat soveel mense in die puin van hulle lewens staan met absoluut niks? Hulle het in die eerste plek bykans niks gehad nie en nou het hulle nog minder.

Die antwoord kom skielik, skokkend en onverwags:

“Daardie vrou en al die ander mense wat so swaar kry, se manna vir vandag,  lê in JOU huis.”

Geskok dink ek:  nee!  Dit kan nie wees nie.  Nie in MY huis nie. 

Maar my gedagtes wil nie stop nie en ek word gekonfronteer daarmee:

Daardie klere wat sy in die eerste plek nie eers gehad het nie, lê in MY kas, ongebruik, want ek hou dit mos vir wanneer my dieet eendag suksesvol is en ek weer daarin gaan pas.  Daardie skoene wat nie aan haar voete is nie, is die skoene in my kas wat ek een keer gedra het, maar omdat ek so baie skoene het, het hulle agter in die kas beland.  Daardie pakkie meel daar agter in my koskas wat al mied inhet, kon vir hulle kos gegee het vir ‘n week.  Wat van die gordyne, beddegoed, komberse en honderde ongebruikte goed wat lê in my kaste, grarage, laaie?  Hoeveel daarvan kan nie ‘n hele huis (of meer) onderhou nie!

Is dit nie maar deel van ons eg-menslikheid vanaf die vroegste tye nie?  Dink maar aan die Israeliete in die woestyn – die manna was net nooit genoeg nie, almal wou liewer opgaar vir die dag van more.  Min mense kon dit regkry om die Here werklik te vertrou vir genoeg manna vir vandag en om nie bang te wees vir die dag van more nie.  So het hulle dus manna, wat vir almal bedoel was, vir hulleself gevat, en ‘n tekort geskep.   En dit het net nooit opgehou nie.  Die mensdom kon in duisende jare se tyd net nooit regtig leer om manna-mense te word nie.

En vandag is dit steeds so.  En skielik dink ek nie dis hoe dit veronderstel is om te werk nie.  Ek dink ons versteur self die balans van die skepping, en dan wil ons sit en wonder hoekom die balans van die skepping versteur is.  En dan blameer ons maar vir God daarvoor, want Hy moet mos vir almal sorg?  Né?

Het dit nie begin tyd word dat ons ons perspektief verander oor die mense wat om ons is nie?

Ek meen, dis goed en wel ek “spring clean” en gee alles wat ek opgegaar het om op my manier die tekorte weer aan te vul.  Dit sal vir daardie ma en hoeveel ander mense die hemel oopmaak!

Maar wanneer ek dit gedoen het, beteken dit nie my werk is klaar nie.  O nee, dan begin my werk eers.  Want noudat ek ontslae geraak het van iets wat in die eerste plek nie myne was nie, nou moet ek op God begin vertrou en afhanklik wees van my manna vir vandag.  Dit is waar die moeilikheid inkom.  Om so te vertrou dat ek bo dit nog bereid is om ‘n tiende van my manna vir vandag te deel met mense wat tekort het. En te vertrou dat God more weer manna sal stuur.

Kan ek ‘n manna-mens wees?

En tog is dit nie regtig so moeilik nie.  Mens moet net kreatief dink of betrokke raak as jy nie kreatief is nie.

Ons kerk het byvoorbeeld ‘n kosbakkie projek.  Hulle stel plastiek kosbakkies tot ons beskikking en al wat ons doen is om dit wat oorbly na aandete in die bakkies te pak, te vries en Sondag kerk toe te bring.  Hulle sit dit in ‘n vrieskas en wie ookal honger by die kerk aanmeld, kry ‘n heerlik bakkie met voedsame kos wat in die mikrogolfoond ontdooi word en wat hulle net daar kan eet.

In die winter brei al wat leef en beef serpe en dit word opgehang aan bome vir enigeen wat koud kry.

Maandagaande kan enige iemand by die kerk kom eet.  Ons maak kos op ‘n rotasiebasis en eet saam met die mense wat daar aankom vir hulle aandete.  Dit kos niks.  Dis een maaltyd. En hoeveel mense word hierdeur geseën met ‘n lekker bord kos en gesellige saamwees, waar niemand mekaar oordeel nie en ons vir mekaar ons stories vertel?

Is dit nie wat ons eintlik hier op aarde moet doen nie?  Om te vertrou op ons manna vir vandag sodat ons vir daardie mens wat in die puin staan van dit wat sy of haar lewe was, kan voorsien van ons oorvloed, maar ook ‘n deel van vandag se manna?  Kos, veiligheid, warmte, liefde, vriendelikheid, toegeneentheid?  Is dit so moeilik om enige verwaarloosde mens net vir ‘n tydjie lank waardig te laat voel?

Want, ek is seker dat die manna vir daardie persoon op daardie dag meer sal beteken as al die oorvloed van ‘n leeftyd wat ek om my versamel!

Die vraag is net:  Is ek werklik gereed om ‘n manna-mens te word?

“For if you suffer your people to be ill-educated, and their manners to be corrupted from their infancy, and then punish them for those crimes to which their first education disposed them, what else is to be concluded from this, but that you first make thieves and then punish them.”   Thomas Moore, Utopia

(Die blog is geïnspireer deur ‘n preek oor manna-mense van ‘n paar weke gelede.  Dit het my leefwêreld baie drasties aangeraak!)

O ja, die foto is ‘n internetfoto – ek weet nie wie dit geneem het nie, maar erkenning aan die fotograaf ook.  Die foto sê meer as woorde.