Archive | Maart 2017

Kan zombies praat?

Soms sleep my voete effens wanneer ek busstop toe moet stap in die oggend.  Maar, wat dit die beste tye ooit maak is die dae wanneer my seunskind besluit om saam met my stap, in plaas van om met sy fiets skool toe te ry.  Die skool is net ‘n blok verder van die busstop af, so dit is heel prakties.

Wat so lekker is van hierdie seunskind, is dat dit nie veel vat om ‘n heerlike buite-die-boks gesprek vol verbeelding en kleur met hom te begin nie.  Ek kan my dan verluister aan sy intelligensie en fyn sin vir humor – ‘n kant van hom wat min mense die voorreg het om te sien en waardeer, want hy moes noodgedwonge skanse opbou om homself te beskerm in sy wêreld van uitdagings.

Vanoggend het ek en hy ‘n gesprek het oor zombies gehad.  Omdat die skool sluit, was daar letterlik nie ‘n mens of ‘n kar in ons straat sigbaar sover die oog kan sien nie.  En ons bly in ‘n baie besige straat.  Ek sê toe vir hom ek wonder of hier ‘n apokolips gebeur het.  Hy reken toe, nee: As dit die geval was, sou ons nou ‘n massa mense gesien het wat al skreeuende in die pad afgehardloop gekom het met zombies wat hulle jaag.

So beweeg die gesprek toe al laggende en verbelende na wat ons sal doen as daar nou regtig ‘n massa mense aangehardloop kom met die zombies agter hulle wat sê:  “I want to eat your brain …”

Nee, reken meneertjie, “Here’s an interesting factoid.  You become a zombie when a zombie eats your brain, so if you don’t have a brain, you can’t talk. So strictly speaking, a zombie can’t tell you which part of you he wants to eat. ”  Nou ja, al het ek liewer nie gestry nie, het ek maar probeer om nie te lank by daardie gedagte stil te staan oor watter deel van my lyf die lekkerste gaan lyk om te eet as ‘n zombie my jaag nie …. en ek het maar gou omgekyk net vir die wis en die onwis …

Maar of zombies kan praat of nie, wonder ek soms hoe my lewe sou wees sonder hierdie seunskind.  Dit is vir my so bevrydend om ‘n gesprek oor iets te voer wat geensins aan die realiteit raak nie.  Dit is bevrydend om te kan weet dat ons verbeelding vlerke het sodat ons die wêreld kan sien vir sy moontlikhede en nie sy werklikhede nie.  En snaaks genoeg is dit juis hierdie gesprekke wat my voete op die aarde hou en my help met die alledaagse dinge.  Want die oomblik wanneer my verbeelding vlerke kry, beteken dit dat ek vir daardie oomblik nie sit en brom om my eie miskoek van bekommernis en vrese nie.  Dan kry ek nuwe perspektief oor so baie dinge wat vir my moeilik is hier op aarde.

Want hierdie verbeeldingsvlugte is vir my gelyk aan ons toekomsverwagting.   Sekerlik nou nie die zombies wat jou breins wil eet nie, maar die verwagting van ‘n wêreld van “enige iets is moontlik”.    ‘n Wêreld ver bo dit wat ons nou ervaar, waar alles in orde is en ons daagliks in vrede en harmonie kan leef.  Waar ons lewe nie bestaan uit beplan en bekommer en vrees nie, maar uit rustigheid en totale oorgawe aan ‘n wonderwêreld wat vir ons gegee word om in te woon.

Daardie wêreld wat letterlik en figuurlik wérklik net ‘n hartklop ver is ….

Om ‘n manna-mens te wees

‘n Ma wat staan in die puin van dit wat hulle lewe was.  Gister nog het sy hulle paar kledingstukkies gewas.  En na hoe lank se los werkies kon sy genoeg geld bymekaarmaak om ‘n pakkie meel te koop vir haar kinders en haar siek pa wat by hulle in die sinkhut woon.  Maar deur die nag het alles afgebrand.  Alles.  Daar is niks oor nie.  Nie eers ‘n stukkie brood vir haar honger kind nie.  Nie ‘n kombers om die skouers toe te maak as die windjie koel raak nie.  Nie eers skoene om hulle voete te beskerm nie.  Niks.

Sy stap met haar kind na die vragmotors wat goedere bring, maar sy is een van duisende mense wie se huise afgebrand het, en daar is net eenvoudig nie genoeg goed vir almal nie.  Sy sal maar moet rondstaan tot die volgende vrag kom, en dan weer tot die volgende vrag kom.  En as die skrapse stukkies kos uitgedeel word, gee sy dit vir haar honger kind, want niemand weet of daar more weer gaan wees nie.  En sy het nêrens om heen te gaan nie.

Moedeloos kyk sy boontoe en sy wonder waar gaan haar manna vir vandag vandaan kom?

En ek kyk boontoe en wonder hoekom laat God toe dat soveel mense in die puin van hulle lewens staan met absoluut niks? Hulle het in die eerste plek bykans niks gehad nie en nou het hulle nog minder.

Die antwoord kom skielik, skokkend en onverwags:

“Daardie vrou en al die ander mense wat so swaar kry, se manna vir vandag,  lê in JOU huis.”

Geskok dink ek:  nee!  Dit kan nie wees nie.  Nie in MY huis nie. 

Maar my gedagtes wil nie stop nie en ek word gekonfronteer daarmee:

Daardie klere wat sy in die eerste plek nie eers gehad het nie, lê in MY kas, ongebruik, want ek hou dit mos vir wanneer my dieet eendag suksesvol is en ek weer daarin gaan pas.  Daardie skoene wat nie aan haar voete is nie, is die skoene in my kas wat ek een keer gedra het, maar omdat ek so baie skoene het, het hulle agter in die kas beland.  Daardie pakkie meel daar agter in my koskas wat al mied inhet, kon vir hulle kos gegee het vir ‘n week.  Wat van die gordyne, beddegoed, komberse en honderde ongebruikte goed wat lê in my kaste, grarage, laaie?  Hoeveel daarvan kan nie ‘n hele huis (of meer) onderhou nie!

Is dit nie maar deel van ons eg-menslikheid vanaf die vroegste tye nie?  Dink maar aan die Israeliete in die woestyn – die manna was net nooit genoeg nie, almal wou liewer opgaar vir die dag van more.  Min mense kon dit regkry om die Here werklik te vertrou vir genoeg manna vir vandag en om nie bang te wees vir die dag van more nie.  So het hulle dus manna, wat vir almal bedoel was, vir hulleself gevat, en ‘n tekort geskep.   En dit het net nooit opgehou nie.  Die mensdom kon in duisende jare se tyd net nooit regtig leer om manna-mense te word nie.

En vandag is dit steeds so.  En skielik dink ek nie dis hoe dit veronderstel is om te werk nie.  Ek dink ons versteur self die balans van die skepping, en dan wil ons sit en wonder hoekom die balans van die skepping versteur is.  En dan blameer ons maar vir God daarvoor, want Hy moet mos vir almal sorg?  Né?

Het dit nie begin tyd word dat ons ons perspektief verander oor die mense wat om ons is nie?

Ek meen, dis goed en wel ek “spring clean” en gee alles wat ek opgegaar het om op my manier die tekorte weer aan te vul.  Dit sal vir daardie ma en hoeveel ander mense die hemel oopmaak!

Maar wanneer ek dit gedoen het, beteken dit nie my werk is klaar nie.  O nee, dan begin my werk eers.  Want noudat ek ontslae geraak het van iets wat in die eerste plek nie myne was nie, nou moet ek op God begin vertrou en afhanklik wees van my manna vir vandag.  Dit is waar die moeilikheid inkom.  Om so te vertrou dat ek bo dit nog bereid is om ‘n tiende van my manna vir vandag te deel met mense wat tekort het. En te vertrou dat God more weer manna sal stuur.

Kan ek ‘n manna-mens wees?

En tog is dit nie regtig so moeilik nie.  Mens moet net kreatief dink of betrokke raak as jy nie kreatief is nie.

Ons kerk het byvoorbeeld ‘n kosbakkie projek.  Hulle stel plastiek kosbakkies tot ons beskikking en al wat ons doen is om dit wat oorbly na aandete in die bakkies te pak, te vries en Sondag kerk toe te bring.  Hulle sit dit in ‘n vrieskas en wie ookal honger by die kerk aanmeld, kry ‘n heerlik bakkie met voedsame kos wat in die mikrogolfoond ontdooi word en wat hulle net daar kan eet.

In die winter brei al wat leef en beef serpe en dit word opgehang aan bome vir enigeen wat koud kry.

Maandagaande kan enige iemand by die kerk kom eet.  Ons maak kos op ‘n rotasiebasis en eet saam met die mense wat daar aankom vir hulle aandete.  Dit kos niks.  Dis een maaltyd. En hoeveel mense word hierdeur geseën met ‘n lekker bord kos en gesellige saamwees, waar niemand mekaar oordeel nie en ons vir mekaar ons stories vertel?

Is dit nie wat ons eintlik hier op aarde moet doen nie?  Om te vertrou op ons manna vir vandag sodat ons vir daardie mens wat in die puin staan van dit wat sy of haar lewe was, kan voorsien van ons oorvloed, maar ook ‘n deel van vandag se manna?  Kos, veiligheid, warmte, liefde, vriendelikheid, toegeneentheid?  Is dit so moeilik om enige verwaarloosde mens net vir ‘n tydjie lank waardig te laat voel?

Want, ek is seker dat die manna vir daardie persoon op daardie dag meer sal beteken as al die oorvloed van ‘n leeftyd wat ek om my versamel!

Die vraag is net:  Is ek werklik gereed om ‘n manna-mens te word?

“For if you suffer your people to be ill-educated, and their manners to be corrupted from their infancy, and then punish them for those crimes to which their first education disposed them, what else is to be concluded from this, but that you first make thieves and then punish them.”   Thomas Moore, Utopia

(Die blog is geïnspireer deur ‘n preek oor manna-mense van ‘n paar weke gelede.  Dit het my leefwêreld baie drasties aangeraak!)

O ja, die foto is ‘n internetfoto – ek weet nie wie dit geneem het nie, maar erkenning aan die fotograaf ook.  Die foto sê meer as woorde.

Om “content” te wees

To be content:  to experience peaceful happiness

Ek leen nou hierdie woord uit die Engelse taal uit, want ek kry nie die Afrikaanse woord wat dit so rég beskryf nie.

Wat is peaceful happiness?  Dit is nie net om gelukkig te wees nie.  Nee, dit is daardie amper ontwykende volmaakte vrede in ons gemoed waarna ons so smag.

Ek dink die enigste tyd wat die mens werklik ten volle gelukkig is, is daardie oomblik wanneer hulle jou (nadat jy gillend die harde, koue werklikheid van die lewe betree het) teen ‘n sagte, warm bors sit en jou  mamma-mens jou vreugdevol-tranerig verwelkom.  Dan is jy ten volle content.  Dan is jy seker jy het gearriveer.

Van daar af loop dinge redelik afdraende.  Jy moet skreeuend aankondig as jy honger of dors is of sommer net aandag soek.  Jy moet met stampe en stote leer loop en praat, en jou tantrums mooi uitwerk op die regte tyd om te kry wat jy wil hê.  As jy hulle nie reg time nie, kry jy ‘n pak slae.  So jy moet vinnig leer hoe om mense so te kry dat hulle alles in hulle vermoë doen om jou ten alle koste gelukkig te hou.

In jou tienerjare is dit eers erg.  Nou raak die lewe éérs vol stampe en stote.  Want nou moet jy probeer om vir almal te oortuig dat jy reg is en beter weet as hulle.  En weereens moet jy jou tantrums mooi uitwerk, want pa gee nie meer pak slae nie, maar as jy jou deur toeslaan, word dit eenvoudig afgeskroef.  En omdat jy oortuig is dat jy reg was, is die woord ‘jammer’ nie in jou woordeskat nie.  So jou geluk is nou in die onregverdige grootmense se hande en dit maak dat jou lewe meestal suck.

Van daar af loop die lewe ‘n onbekende pad.  Opdraendes, afdraendes, draaie, reguit paaie, vreugde, hartseer en jy beweeg in ‘n rondomtalie van emosies, van volkome geluk tot neerdrukkende depressie.  Al wat jy doen is om in hierdie maalstroom te probeer om kop bo water te hou en sin te maak van die lewe. Jy probeer daardie smagting na die altyd-ontwykende volkome tevredenheid vul met allerhande mense en dinge, en tog vind jy dat jy dit net-net buite jou bereik bly.

En eendag, op ‘n dag (vir my was dit so iewers hier van my 40ste verjaarsdag af), is dit asof die aarde stadiger begin draai en daar perspektief begin intree.

Skielik besef jy ‘n paar dinge:

  • Die lewe is opdraendes, afdraendes, hartseer, vreugde, ellende, geluk.  Niks wat jy doen kan dit verander nie.
  • Die lewe skuld jou niks, al het jy tot nou toe so gedink.  Geluk is wérklik in jou eie hande.  As mens terugkyk, sien jy dat dit wat jou die meeste ongelukkig gemaak het, meestal eintlik maar die gevolg van jou eie keuses was.
  • Geen mense, geld, werk of omstandighede kan jou geluk bepaal nie.  As jy in die eerste plek nie besluit het om gelukkig te wees in jou huidige omstandighede nie, gaan jy nooit gelukkig wees nie.

Want ware contentment, kom nie uit enige iets wat op aarde te vinde is nie. Die mag om hierdie tipe vrede te ervaar, lê aan die einde van die dag in jouself in jou eie besluit om ten spyte van alles, content te wees. Dis eintlik so eenvoudig soos dit.  En dis jammer dat mens so ‘n lang pad van die lewe moet stap om tot by hierdie gevolgtrekking te kom!  En ongelukkig is daar so baie mense wat gedurende hulle leeftyd nooit eers tot hierdie gevolgtrekking kom nie.

So, wat is contentment?

  • Dit is om ten volle tevrede te wees met wie ek is.  Nie wat ander van my dink of hoe ek in ‘n spieël met nuwe klere en skoene en ‘n haarstyl lyk nie.
  • Dit is die ewigheids-besef dat ek is presies waar ek moet wees.  Dat God Sy droom vir my lewe tot volmaaktheid bring,  juis hier waar ek nou in my omstandighede is.
  • Dit is om rugstig-tevrede te wees met wat ek het.  ‘n Dak oor my kop, kos, ‘n salaris, ‘n man, kinders, familie, vriende.  En ek nie meer smag na meer, beter, mooier nie.
  • Dis om ‘n wonderwerk te sien vir wat dit is.  Nie ‘n massiewe water-in-wyn wonderwerk nie, maar ‘n vergete R20 in my broeksak wanneer die einde van die maand net nie wil aanbreek nie.
  • Dis om oor te gee en te glo dat dinge sal uitwerk.  Want snaaks genoeg, as mens die wiel los, het die lewe die manier om jou te bring net waar jy moet wees, selfs al was jy nie die bestuurder nie.

Ek dink contentment is ‘n eindbestemming na ‘n lewe vol moeilike vrae.  Want sodra jy hierdie mag ontdek het binne-in jouself, vind jy dat dit blywend is, selfs in die slegste en moeilikste omstandighede. En kan jy werklik oorwinning behaal oor enige situasie sonder om dit wat jy is, daarvoor in te boet.

Ek wens dit toe vir almal, want dit maak hierdie ou lewe van ons net soveel makliker …