Archive | Maart 2015

Eensaam en verlate ….

Vandag kry ek sommer ‘n pyn in my hart toe hierdie woorde my tref:

          GOD TURNS HIS BACK ON HIS SON JESUS   Jesus did not say: ‘My God, it feels like you have forsaken me!’  Jesus knew   what was happening.  God was placing the sin of all mankind on His Son and in that moment God, who could tolerate sin, turned away.  To be ‘forsaken’ is undesirable state.  To be ‘forsaken’ by God is the ultimate loss.  Jesus felt and carried the weight of this loss.

Ons weet almal hoe dit voel as ons dink God het ons verlaat – dit is daardie oomblikke wanneer ons alleen, verlate, weerloos en blootgestel voel teen die aanslae van die lewe.  Dit is werklik ‘n gevoel van velies.  Dit is moeilik om te moet dink hoe Jesus moes voel tussen al die pyn deurdat sy Vader Sy rug op hom gedraai het en hom heeltemal alleen en weerloos gelaat het.

Maar, die goeie nuus hiervan is dat dit alles ten goede uitgewerk het.  Wanneer die lewe se aanslae ons tref en ons kyk terug, sien ons dat Hy tog elke oomblik daar was, in klein positiewe dingetjies wat langs die pad gebeur het.   Hy is tog getrou aan Sy beloftes, al voel dit nie elke dag so nie.  Hy belowe ons dan dat as ons deur ‘n dal van doodskaduwee gaan, sal Hy daar wees.  Hy sal ons nooit verlaat soos Hy vir Jesus verlaat het daar op die kruis nie, want die rede waarom Hy dit gedoen het, is weggevee met Jesus se opstanding en die oorwinning oor al hierdie slegte dinge wat ons ervaar.

Ons moet onthou dat met dood is daar altyd opstanding.  Kyk na die skepping wat na al hierdie miljoene jare nog steeds volmaak is.  Ons as mense kon nog nie die skepping breek nie.  En dit is asof alles in die skepping met groot aanwysers na die kruis wys.  Elke winter verloor die bome hulle blare en staan eensaam, kaal, verlate en weerloos in die koue en die reën, maar elke lente kom daar nuwe lewe sodat hulle nog mooier kan lyk!  Na elke donker nag, breek die son uitbundig uit om vir ons lig te gee.  En is dit nie so waar dat na elke slegte ondervinding, elke donker emosionele oomblik wat ons beleef, dat ons tog geestelik sterker ander kant uitkom nie?   Niemand bly onaangeraak as hulle deur ‘n dal van doodskaduwee gestap het en anderkant by die lig uitgekom het nie.

Dit laat my besef dat God nie hierdie slegte tye vir ons beplan nie, want almal gaan deur slegte tye in hulle lewe – die goeies en die slegtes.  Maar, as hierdie slegte tye gebeur, moet ons weet, God gebruik ons weerloosheid in hierdie omstandighede om ons te snoei, want wanneer die lig vir ons deurbreek, dra ons meer en beter en groter vrugte as ooit tevore!

Al wat ons moet doen is om uit te hou en vas te hou, want die lig breek wel tog deur en dan kan ons terugkyk en weet dat God daar was en dat ons nou sterker is as ooit tevore!

Dit is die hart wat klop!

Featured image

Die groot brande in die Kaap het my weer laat dink oor die lewe. Dit is vir my altyd opvallend om te sien hoe mense kan saamstaan in ‘n krisis-situasie, maar in ander situasies weer so negatief en lélik kan wees oor dinge. Ons bly in ‘n stukkende land met politieke probleme groter as die 7 oseane, maar toe daar ‘n krisis kom, is daar niemand wat eers sit en kyk wat doen die ander persoon nie. Niemand wat vinger wys en wonder of dit straks Jan van Riebeeck se skuld was nie. Almal staan eenvoudig saam om die krisis te hanteer.

  • Elke persoon wat iets weet van brandslaan, meld aan.
  • Mense van heinde en verre kom Kaap toe om te help brande blus.
  • Die lugmag help met helikopters toe die brandbestryders se helikopters te min is om hond haaraf te maak. Een van ons land se beste helikopter vlieëniers verloor sy lewe in die proses.
  • Sosiale media waarsku inwoners van die betrokke areas van diere wat moontlik gaan vlug en vra dat hulle water uitsit omdat dit hulle grootste behoefte sal wees, en laat weet vir wie om te bel as hulle ‘n beseerde diertjie sien.
  • Radiostasies samel miljoene rande in om te help. Mense gee en gee.
  • Winkels skenk kos, water, eetgoed, medisyne, energiedrankies.
  • Vrywilligers daag in hulle honderde op om te help toebroodjies en kos maak en bring enige iets wat hulle dink nodig kan wees.
  • Selfs die Argus fietsryers kla nie omdat die roete hierdie jaar halveer is nadat hulle die volle fooi betaal het nie, want almal verstaan hoekom.

Dan dink ek so by myself – ons KAN as ons wil. Ons KAN saamstaan sonder om heeltyd na die persoon langs ons te kyk en fout te soek. Ons moet net die wil hê om dit te doen.

Kyk ons terug, sien ons hoe leeg en kaal ons mooiste Kaap lyk, maar ons weet – saam met daardie kaal grond, lê daar baie sweet en trane en blydskap van ‘n reënboognasie wat oorwinning behaal het. Daar waar harte saam geklop het met een doel voor oë, om vuur te slaan, diere te red, mense se huise te probeer beskerm. Niemand het aan homself gedink nie. Elkeen het onverpoos gewerk tussen die hitte, rook en vuur in, ongeag die ontsettende gevaar waarin hulle verkeer met ‘n onvoorspelbare vuur en die wete dat elke sekonde van hulle lewens wat gespaar is, slegs genade is.

En daardie grond gaan groter vrug dra as ooit tevore, want die hart van elke mens wat daar geswoeg en sweet het, gaan in elke groen blaartjie verteenwoordig wees. Want alles wat daar tot as verbrand het, word weer nuut. En die mooiste Kaap sal weer bewys wees dat daar nog hoop vir die mensdom is, en ‘n mooi toekoms.

Al wat nodig is, is dat elke mens van ons mooi land sy hart sal oopmaak om te klop met verdraagsaamheid en liefde teenoor alles wat asemhaal!