Archive | Mei 2016

Batman en die reis na die paradys

Sommer ‘n lekker lawwe herinnering so op hierdie grou wintersdag.  Hiermee laat ek die kat uit die sak uit oor hoe ‘n vlermuis familiebande kan versterk!

So amper 26 jaar gelede het ek my eerste werklike liefde gevind.  Ek het sommer met die knaap getrou ook lateraan, want dit het my die moeite gespaar om verder te soek na so ‘n wonderlike liefde, en ook, na die ondervinding van die vlermuis, dink ek in elkgeval nie was daar ’n keuse nie – my eer moes beskerm word!

Hierdie het gebeur nog so aan die begin van my en manlief se vry-jare.  Sy familie het my nog nie regtig goed geken nie en was nog effe skepties oor hierdie skielike liefde.  En ek was ook maar vreemd en versigtig vir hulle.  Maar, die heel lekkerste herinnering wat ek van daardie tyd het wat al die vreemdheid oorbrug het, was die gesellige stoepkuiers by Ouma Martha se huis in Kimberley.  Wanneer die son gesak het na ‘n snikhete somersdag en die sagte skemerte daal, het almal stoep toe gevlug en het ons heerlik gekuier met glase yskoue koeldrank in die hand.   Die vlermuise het ook saamgekuier, maar het ons nooit gepla nie …

… until that fateful night  ….

…   daardie een aand toe ek so ‘n lekker wye kniebroek-romp aangehad het ….

Die hele familie was weer by ouma Martha tuis en ek kuier lekker saam.  Ewe fluks gaan help ek koeldrank aandra vir die stoepsitters.  Soos die duiwel dit wil hê is dit mos net op daardie oomblik toe ek, met ‘n glas koeldrank in elke hand, oor die voordeur se drumpel tree en ‘n vlermuis met vasberade en besliste doelgerigheid op my knie kom vassuig.

Nie net op my knie kom vassuig nie ….. Met die landingslag besluit hy sommer dadelik dis tyd om sy goed te pak en te trek ferrêre noorde toe.  Hy slaan toe sy koue klam-taai pootjies hier teen my been vas en begin te klim met ongelooflike ratsheid vir iets wat eintlik veronderstel is om blind te wees.

Nou kyk, mens se eerste reaksie is dié van vlug of veg.  Maar in hierdie situasie kom logika toe gelukkig  eerste, want nou moes ek eers mooi dink oor my opsies.

Opsie 1:  Ek gooi die twee glase koeldrank net daar neer, gil die dak af, vertel die vlermuis wat ek van hom dink in my beste woordeskat en vermorsel hom.  En dan besluit my kêrel en sy familie straks dat ek dalk bietjie wild is vir hulle en word ek huis toe gestuur …

Of Opsie 2:  ek … wel ek weet nie eintlik wat die alternatief moontlik kon wees in daardie spesifieke situasie nie.

MAAR al wat ek weet, is net soos daardie vlermuis se klam-taai pootjies aan my (nou al bobeen) vasgeklou het, het ek geklou aan die koeldrankglase EN die bietjie waardigheid wat ek nog moontlik in daardie situasie kon bemeester!

Intussen wil almal van die stoep afval van die lag, want al wat ek met onderdrukte histerie kan uitkry is dat hierdie vlermuis teen my been op loop en hy wil nie stop nie!  En niemand kan vir lank genoeg ophou lag om my uit my benoude verknorsing te kom help nie!

My arme kêrel kry my jammer en wil graag probeer help, maar ons vryery het nog nie so ver gevorder dat hy gemaklik is om sommer net onder my broekrok in te grawe agter vlermuise en dinge aan nie – ten minste sekerlik nie voor sy ma-hulle nie!  Hy weet nie of hy dalk (soos die vlermuis) strakkies net meer gaan kry as waarop hy gebargain het nie!

Einde ten laaste, toe Vlermuis se mond al begin water omdat hy so naby aan sy eindbestemming is, en my oë begin traan van benoudheid, besluit sus dat sy maar sal kom hand bysit en ten minste die koeldrankglase by my wegvat. Dit laat my toe met meer vryheid om die vlermuis af te kry, maar dit is waar my tweede probleem toe inkom – probeer jy bietjie om daardie papsagte-grillerige-klam lyfie van jou lyf af weg te skeur – hy klou vir al wat hy werd is!  Ek meen, wie wil nou weggevat word as jy so naby aan die paradys is? (pardon the pun!)

Op die ou end vlieg my kêrel toe maar met ‘n “bogger dit” houding hier onder my romp in om vinnig en ferm met een haal vir Batman van plan te laat verander oor sy reisplanne.  En toe kon ek kans kry om lekker saam te lag oor hierdie episode en goed te voel dat ek ten minste my waardigheid (en twee glase koeldrank) nog behoue kon laat bly deur dit alles!

Ons lag nou nog lekker oor hierdie episode.  Ek dink dit het hoofsaaklik die ys gebreek met die skoonfamilie – veral toe hulle agterna nogal sê hulle sou my nie kwalik geneem het as ek die glase koeldrank neergegooi het nie.  Ek sal dit altyd waardeer van hulle.

Al wat ek weet, is dat ek en my skoonfamilie dalk gebind is deur Batman se taai vlermuisvlerke, wat klam-klouerig in ons harte gevestig is, maar sit, sit ons almal tot vandag toe nog vas in mekaar se harte!

Advertisements

My Huldeblyk

All are born to die – but it is what you live for that determines a life fulfilled and a legacy remembered. (Johan Redelinghuis)

Dit is wel so dat die enigste twee dinge waarvan ons in hierdie ou lewe seker kan wees, is dood en belasting.  Toegegee, sommige mense kry dit steeds reg om belasting te ontwyk , maar aan die dood sal niemand kan ontkom nie, maak nie saak wat jy doen nie.  Dit is ‘n feit soos ‘n koei.

Wat nie ‘n feit soos ‘n koei is nie, is as ek wonder wat mense van my gaan onthou?  Met ander woorde, wat gaan eendag op my Huldeblyk staan as ek sterf?  Dit was vir my nogal op ‘n stadium interessant om huldeblyke te lees in die koerant en my te verwonder oor al die positiewe dinge wat oor die oorledene geskryf word.

Dit laat my dink dat, wanneer ons leef, sien en ervaar ons so baie negatiewe dinge in onsself en ook in ander.  Maar, wanneer ons sterf is dit asof die negatiewe dinge saam met die aardse liggaam in stoflike partikels terugval en die positiewe in herinneringe agterbly.  Dis of die negatiewe net so aards en tydelik is soos die stoflike liggaam en die positiewe dinge wat daardie persoon agtergelaat het vir die nageslag vir ewig in hulle wese gegraveer is.

So, as ek dink aan my Huldeblyk, weet ek wel dat volgende beslis NIE daarop gaan verskyn nie:

*          Sy was altyd betyds.

*          Sy was ‘n knap huisvrou.

*          Jy kon haar altyd deur ‘n ring trek.  Sy het haarself gereeld laat opknap by die         haarkappers en haar verskeidenheid skoene, handsakke en naellak het altyd stylvol bymekaar gepas volgens die mode van die dag.

Dit klink wel droewig, maar dit is die skone waarheid rondom my.  Enige iemand wat dit ooit op my Huldeblyk sit, sal beslis deur my (en my kleurvolle cutex) besoek word! 🙂

Wat ek wel hoop op my Huldeblyk eendag sal staan is eerder dinge soos:

Dat dit in my lewe gesien kon word dat ek altyd lief was vir mense en hulle aanvaar het, maak nie saak wie en wat hulle was nie – dat ek verstaan het dat ons almal gelyk is, ongeag ons verskille.

Ek sal wil hê dat die “legacy” wat ek agterlaat, een is waar mense my sal onthou – nie vir hoe oulik ek iets kon skryf of sê nie, maar hoe dit wat ek geskryf en gesê het, hulle aangespoor het om anders na die lewe te kyk en goeie dinge uit te dra na ‘n wêreld wat dit so nodig het.

Ek sal wil hê dat my kinders moet sê dat ek altyd liewer tyd met hulle wou spandeer om gou ‘n prentjie in te kleur, Uno te speel, help met huiswerk en leerwerk, geduldig te luister na ‘n mondeling, dapper ‘n mot te verjaag twaalfuur in die nag omdat prinses bang is hy vlieg in haar mond in wanneer sy slaap, boeke vir hulle te lees met soveel stembuigings en geluide dat ons later lê soos ons lag, lekker snoesig saam met hulle in die bed in te kruip en lawwe geselsies maak wanneer dit eintlik slaaptyd moes wees.

Ek sal graag dat my man moet sê dat ek ‘n goeie vrou was (al het ek hom teen die mure uitgedryf omdat ek nie tyd kon skat nie en altyd in die moeilikheid was omdat ons gaan laat wees).  Ek hoop hy gaan sê dat ek altyd altyd bereid was om net syne te bly en ontsaglik lief te bly vir hom ondanks en ten spyte van.  Ek hoop dat hy sal skryf dat hy verstaan hoekom ek meer dankbaar was vir ‘n sweetie pie of sjokoladetjie in my handsak, of ‘n BBM beertjie wat soentjies stuur,  as vir die duurste juwele of besittings op aarde.

Jy sien, ek glo dat dit waarvoor ek lewe, is dit wat die kwaliteit van my lewe moet bepaal en nie andersom nie.   Ons lewe op aarde is net waardevol as ons dit wat vir ons vreugde verskaf kan deel en uitdra en mens aanspoor om dieselfde te doen.

Baie van hierdie dinge is dinge waaraan ek nog moet werk voor ek dit in die hiernamaals op my Huldeblyk sal kan lees, maar dit is ‘n begin.

Al wat ek hoop is dat ek dit ook eendag sal kan regkry om ‘n ewige “legacy” in mense se harte agter te laat, lank nadat my ligaam nie meer op die aarde wandel nie.