Archive | Oktober 2015

Vertroue, onvoorwaardelik

Vanoggend in die bus sit daar ‘n klein swart dogtertjie van seker so 3 of 4 jaar oud langs my.  Die pappa sit bietjie verder agtertoe met ‘n stootkarretjie en ‘n bababoetie wat  redelik aandag verg van die pappa.  Sussie sit dus stil hier langs my (so stil soos ‘n 4 jarige maar kan sit), maar op ‘n stadium besluit sy dat sy moeg is en arms soek om in te slaap.  Sy is na pappa toe wat nie kon help nie, en toe ek my weer kom kry, klouter sy pens en pootjies op my skoot, armpie om my lyf en lê tjoepstil met haar koppie op my bors en raak rustig aan die slaap. Toe die bus stop en sy haar pappa verloor tussen al die mense, draai sy dadelik om en steek tranerig haar armpies uit na my toe uit sodat ek haar kan optel en veilig by haar pappa kan besorg.

Met die lekkerte van hierdie onverwagse bondeltjie mens in my arms, het ek begin dink oor onvoorwaardelike vertroue.  Hierdie dogtertjie het nie geneul en gekla, mense deurgekyk en probeer oordeel wie is te vertrou nie.  Sy het nie iemand gaan soek wat haar kleur en haar “mense” is nie.  Sy het eenvoudig instinkief die eerste beste persoon wat soos ‘n mamma lyk uitgesoek, haar lyfie gemaklik op my skoot gewikkel en aan die slaap geraak, tevrede dat daar beskermende arms om haar is, ‘n hartklop teen haar oor en dat sy veilig is.

En ek dink, as dit tog so maklik was om iemand net so blindelings te kan vertrou!

Toe dink ek aan Jesus, wat daar op ‘n klip gesit het, met ‘n klompie kindertjies by hom.  En hulle het uit hulle eie na hom toe gegaan, Hom instinktief ten volle vertrou.  En Hy het gesê dat die koninkryk behoort juis aan hulle wat soos kinders glo.

Skielik wonder ek, wanneer laas het ek instinktief en onvoorwaardelik vertrou ten spyte van die chaos om my?  Ons lewe so in ‘n wêreld van negatiwiteit en wantroue.  Hoe wonderlik moet dit nie wees as ons net eenvoudig op die skoot kan klim van die Een wat met ope arms vir ons wag nie?  Met ons oor Sy hartklop te kan hoor en weet:  ek is veilig en Hy is in beheer, al lyk dit nie vir my so nie.

Wel, ek het vanoggend besef dat as ‘n 3 jarige dogtertjie dit kan doen, en die Koninkryk van God reeds aan haar behoort, kan ons dit ook doen.  Ons hoef nie hard en lelik te praat om gehoor te word nie.  Ons kan ook vertroue wek deur sagmoedig en vriendelik te wees en ander te aanvaar soos hulle is.  Ons kan ‘n verskil maak as ons kerk- en huis- en openbare praatjies ooreenstem.  Ons kan ons sorge vir God gee en blindelings vertrou dat Hy in beheer is.

Ek is ook seker ons kan vir God vertrou dat Hy op Sy tyd sal oordeel oor dinge wat in Sy oë verkeerd is.  Ons hoef nie ons dae te probeer verwyl om Sy raadgewers te probeer wees en nou al mense te verdoem omdat hulle dinge doen wat in ons oë verkeerd is nie.

Daar is baie groter dinge aan die gang in die groter prentjie van die Koninkryk van God. Ons verloor maklik ons persepsie van hoe klein die ‘eie ek’ in die groter prentjie van die Konkinkryk is.

Maar al wat ek eintlik wou sê, is dat ons moet leer om te vertrou.  Net soos sussie vanoggend vertrou het dat sy veilig sal wees in die arms van ‘n totale vreemdeling, moet ons volkome vertrou op die enigste Een wat werklik ons redding kan bewerkstellig en voorspoed vir ons beplan.