Archive | Junie 2013

Blommetjietuin

Ons familie en vriende weet dat ons glad nie lief is vir tuinmaak nie.  Na jare en jare se uitstel, het ons toe besluit om ons voortuin te begin bewerk en mooi te maak.  Ons het in hierdie proses weer besef hoekom ons so lank uitgestel het, want dit is baie harde werk om tuin te maak! Die gras loop aanhoudend oor die bakstene binne-in die blomtuin in en as daar nou iemand is wat tog te bly is oor die plante en baie water, is dit die onkruid!  Ons voortuin was voorheen so mistroostig dat die onkruid nie eers lus was om te groei nie.  Nou maak hulle seker dat hulle so lekker styf teen die blom- en plantsteeltjies groei om dit uiteindelik te verdring.

So besluit ek en manlief dat ons maar elkeen ‘n deel van die tuin moet takel en elke vroeg-aand van ‘n kant af begin uitroei.  Terwyl ek op my knieë in die ondergaande son elke liewe onkruid plantjie versigtig sit en loswikkel om dit met wortel en tak uit te kry, besef ek skielik dat hierdie tuin eintlik maar soos die lewe is.

Mens loop elke dag verby die tuin en bewonder die blomme wat so mooi is, maar skielik, eendag kom jy tot stilstand en sien al die onkruid raak.  Dit begin klein en pla jou eers nie soveel nie (ek sal mos later daaraan aandag gee), maar dit word so gou só baie dat dit jou net totaal en al oorweldig en jy net nie meer kans sien om dit uit te haal nie.  Jy weet trouens nie eers meer waar om te begin nie!

Net soos wat ons ook kyk na ons omgewing, ons kerk, ons skole, ons werk, ons land, ons geldsake, ons gesin.  Ons sien al hoe meer onkruid raak en ons verloor hoop.  Daar is net te veel dinge verkeerd, te veel dinge wat negatief is.  Te veel onkruid wat toegelaat is om te groei en nou uitgeroei moet word.  Uit ons oogpunt sien ons net nie dat dit ooit weer gaan regkom nie.

Maar wat ons nie altyd besef nie:  om te probeer om al die onkruid op een slag te probeer uitroei, is ‘n onbegonne taak, dis hoekom mense moed opgee voor hulle nog werklik begin het.  MAAR, as jy rustig raak, op jou knieë gaan en elke onkruidplantjie versigtig met wortel en tak uitroei, kan jy verseker wees dat daardie spesifieke onkruidplantjie nooit weer sal groei nie.  En soos jy van ‘n kant af begin uitroei, word jou hart ligter en besef jy dat alhoewel daar nog baie onkruid is, kan jy al terugsit en jou handewerk aanskou en besef dat jy rééds ‘n verskil begin maak het en jy die resultaat daarvan kan sien.

Dit is beslis nie ‘n maklike proses nie, en nie ‘n proses met ‘n vinnige einde nie.  As een onkruid plantjie uitgeroei is, sal daar weer ‘n nuwe een groei. Die uitdagings sal maar altyd daar wees, sommige groter as ander, maar dit is werklik net ‘n kwessie van eerlik wees met jouself.  Besef hoeveel hierdie onkruid jou blommetjies verwoes.  Neem die besluit om op jou knieë te gaan en hulp te soek as dit nodig is.  Begin stadig en rustig van ‘n kant af om dit wortel en tak uit te roei en weg te gooi. Te volhard tot die tuin skoon is. En begin van voor af as nuwe onkruid groei – elke keer.

As al die negatiewe dinge van die lewe jou oorweldig, onthou een ding:  Die blommetjies is nog steeds daar!  Fokus op hulle, want hulle is die rede hoekom jy ‘n blomtuin het.  Dit is jou verantwoordlikheid om te sorg dat jou tuintjie versorg word en al het die lewe se storms en wind jou tuin beskadig, is dit altyd jou verantwoordelikheid om op te staan en weer te begin.  En dit is altyd moontlik, want die Tuinier wat hierdie blomtuin geskep het met jou in gedagte, omdat Hy geweet het hoeveel vreugde hierdie blomtuin vir jou sou bied, is altyd daar.  Al wat jy moet doen is om Hom te vra!

Mag elkeen geseën word met ‘n pragtige, geseënde en kleurvolle lewenstuin.  En mag jy nooit oorweldig word deur die onkruid wat groei nie, en altyd die mooi blomme raaksien. En as jy ‘n blommetjie sien wat deur onkruid verdring word, mag jy dit in jou hart vind om deel te raak van die verskil wat jy aan daardie een blommetjie kan maak deur betrokke te raak.  Mag jy in jou lewenswandel die resultaat kan sien van die verskil wat jy gemaak het aan ‘n blommetjie wat nou in haar volle prag skitter omdat JY standpunt ingeneem het om nie terug te sit en toe te laat dat die onkruid haar verding nie!

Advertisements

Die Jaar van die Uitdagings

Die Chinese koppel mos diere aan ‘n jaar.  Een jaar is die jaar van die Hoender, ander jaar die jaar van die Vis.  2013 is die jaar van die Slang.  Ek weet nie veel daarvan en die rede agter dit nie, al wat ek aan dink is dat dit vir my voel of die jaar 2013 die jaar van die Uitdagings is.  Die jaar het sommer uit die staanspoor skeef begin en op daardie skewe trant aangegaan en dit voel skielik asof ek myself iewers in die proses verloor het.

Daars so baie uitdagings met werk, die kinders se skool- en huiswerk en leerwerk en eksamens en sport, en skielik twyfel ek in myself en my vermoë as ma om hulle suksesvol deur al hierdie dinge te kan dra die lewe in.  Dit voel asof daar soveel dinge is en soveel uitdagings dat ek nie meer kan tred hou nie en alles en almal in die proses verwaarloos.  Ons huis val uitmekaar (ok, dis nie so erg nie), maar ons het eenvoudig nie die geld om dit reg te maak nie.  Dit voel of ons net elke maand minder en minder geld het.  Ons kan nie eers meer vir ons families gaan kuier of op vakansie gaan nie en ons eet nooit meer uit nie. Dit voel of ons lewe op aarde net een groot oorlewingstryd is.

Maar soos altyd, glo ek moet mens op ‘n punt kom om bietjie van ‘n realiteitskok te kry.  Myne het gister gebeur, terwyl ek so ewe depressief en jammer vir myself my e-poste nagaan en organiseer, lees ek iets wat ek vir my ma geskryf het laasjaar toe sy nog so in vertwyfeling was oor waarheen hulle paadjie na aftrede gaan lei.

Ek het geskryf:  Ek het vanoggend 5:00 wakker geword en die behoefte gehad om ernstig vir Ma-hulle te bid.  En ek weet:  ons krag lê in stilwees en vertroue hê.  Abraham en Sara het die belofte van ‘n nasie so veel soos die sterre gehad, en hulle moes ook maar teen hulle 900ste verjaarsdag begin wonder het of daardie belofte ooit gaan waar word, en kyk net wat het gebeur.  Ons moet net nie ons vertroue op tyd basseer nie, want ons tyd is nie God s’n nie.  Moet net nie toelaat dat die twyfel julle beetkry nie!!  Die wat wag op die Here, vlieg met arendsvlerke!!!

Dit was of ‘n skok deur my gaan en ek vra myself af, waarheen het hierdie vrou gegaan wat so-iets kon skryf?  Hierdie vrou wat so gekonsentreer het op God se liefde en beloftes in haar ouers se lewe, dat sy iets so POWERFUL kan skryf en vir hulle kon hoop gee?  Waar het ek myself verloor in al hierdie dinge?  Wat het verander van laasjaar tot nou toe?

Vandag verstaan ek dit beter – ek het vergeet waar my krag vandaan kom.  Ek was so bekommerd oor alles wat in ons lewe uitdagings bring, dat ek my selfvertroue verloor het en in die proses wat ek so hard konsentreer op die alledaagse uitdagings, vergeet ek om God net geheel en al te vetrou vir ALLES wat in my lewe aan die gang is. Alles nog dieselfde, ek het eintlik geen bekommernisse nie en hierdie dingetjies wat skielik my gedagtes gevang hou is sulke nietighede in die groter prentjie van my lewe!

Hoekom ek dit vandag so goed verstaan is omdat iemand wat ek nie eers persoonlik ken nie, vir my gevra het om vir haar te bid.  Haar man (nie baie ouers as ons nie), het ‘n beroerte gehad en is verlam.  Waar ek kla oor my teëls wat afwesig is in my eetkamer en ek dit met onooglike matte moet toemaak, moet sy noodgedwonge hulle badkamer laat groter maak sodat haar man met sy rolstoel gemaklik daar kan beweeg.  Waar ek geïrriteerd is met die garage wat net altyd soos ‘n varkhok lyk, moet hulle die garage as woonstel inrig vir ‘n voltydse verpleër om al die take oor te neem wat hy seker nooit weer self sal kan verrig nie.  Waar ek kla oor die uitdagings met al die kinders se dinge, is hierdie gesin se hele lewe en roetine deurmekaargekrap en moet hulle baie groot aanpassings maak om dinge so gemaklik as moontlik vir hom te maak.  Waar ek kla oor die kinders wat my uit die huis uit eet, moet sy geleer word van buisvoeding omdat hy nie kan sluk nie.  Waar ek vannaand met my man kan gesels en grappies maak en nuus oor ons dag uitruil, gaan dit dalk nooit weer vir hulle moontlik wees nie.  Watter uitdagings lê nog vir haar voor wat nie eers vergelykbaar is met my ou nietige ou goedjies nie?

Toe klim ek sommer vinnig weer uit my jammerkry-hoekie uit, vat my gymsak en gaan sweet al die spinnerakke uit my gestel uit.  Ek het eintlik NIKS om voor jammer vir myself te voel nie.  Ons is almal gesond, God sorg elke dag.  Al sien ons nie ons families meer so baie nie, het ons die voorreg om foto’s en nuus te deel en bly ons lief vir mekaar.  Ons kan mekaar koester en net lewe … ons hoef nie planne te maak vir ons elke dag se oorlewing nie.

Dan kan ek met ‘n ligte hart die koffiewater aanskakel as  my vriendin laat weet hulle is op pad vir koffie en ek kan met ‘n blye hart weer Boeta se huiswerkboek teken en weet – daar is nog baie jare van uitdagings, maar ons gaan dit maak, want ons KAN!!

Ons moet net nooit vergeet waar ons hulp vandaan kom nie en nooit vergeet om vir ander te bid wat nie so bevoorreg soos ons is nie!