Die ongeluk, die engel en Olaf met sy wye wortelneus-lag

Op 1 Februarie het ek ‘n engel gesien.

Dit was ‘n gewone oggend en ek het reggemaak vir werk.  Toe kry ek die oproep – my kind was in ‘n motorfietsongeluk.  Sommer net hier af in die straat, om die hoek.  Hy was op pad skool toe soos elke ander oggend, op ‘n reguit en stillerige pad.  Die vrou kom toe van voor af en besluit om regs te draai in die klein straatjie in.  Sy het nie sy motorfiets gesien nie (al ry hy met sy hooflig aan), en het kop aan kop in hom vasgery – aan sy kant van die pad.

Die prentjie wat ek gevind het toe ek daar aankom, was dié van ‘n motorfiets aan stukke voor ‘n baie stukkende enjinkap en my kind op die naat van sy rug aan die agterkant van die kar. Dit was die Here se wil dat hy geen beserings gehad het nie.  Ons vermoed sy swaar skooltas het hom momentum gegee om hom oor die motor te laat “vlieg” en hy het basies op sy voete te lande gekom voor hy geval het.  Hullle was bang dat sy enkels en/of bekken gebreek het, dus moes hy bly lê tot hy by ‘n hospitaal kon kom vir x-strale. Plat op sy rug. Op die harde teer. Met sy skooltas onder sy kop.

Tussen al hierdie chaos, het sy ousus haarself gaan plant daar by hom en rustig met hom gesels en grappies gemaak met die wonderlike mense van die nooddienste, terwyl ek moes teenwoordig wees, die vrou wat die ongeluk veroorsaak het kalmeer en rustig hou, foto’s neem vir die versekering, manlief op hoogte hou en probeer sin maak uit alles wat gebeur en die mense wat kom en gaan.

En toe sien ek haar.

Midde-in hierdie waas van chaos, kom sy aangestap. ‘n Jongerige vroutjie. Kalm en rustig stap sy deur die toneel van stukke kar en motorfiets, van nuuskierige en nuttige mense, met ‘n kussing in haar arms. Sy gaan gee die kussing vir die kinders, gesels bietjie met hulle, maak seker my kind is gemaklik en loop weer. Die kussing wys ‘n wintertoneel uit die kinderfilm Frozen met Elsa en ou Olaf met sy breë lag en wortelneus. En iewers in hierdie deurmekaar toneel, voel ek skielik getroos. Iemand het bloot in haar hierwees, na my ook omgesien al het ek dit van ‘n afstand af aanskou. Dit was asof haar kalmte saam met hierdie doodgewone aardse Frozen kindertoneeltjie onder my kind se kop, skielik net ‘n vertroostende werklikheid vir my geskep het: Alles gaan okay wees.

En dit was.

Mettertyd.

Sy het later bietjie met my kom gesels en vir my vertel dat die rede waarom sy die kussing gebring het, was omdat haar kêrel eenkeer in ‘n motorongeluk was in Johannesburg, en wat hy die beste kan onthou, was hoe seer sy kop was so op die kaal teer waar hy gelê het. Haar eerste reaksie toe sy dus hoor van die ongeluk, was om ‘n kussing te bring. ‘n Engel wat gereageer het op ‘n roepstem vir kalmte, ‘n sagte kussing en ‘n ma wat Olaf se wye wortelneus-lag nodig gehad het om bietjie aardsheid te kan verleen in ‘n situasie wat by die minuut al hoe meer onwerklik begin voel het!

Mag ons ook so fyn ingestel wees op die roepstem van kalmte en versorging van stukkende mense!

6 thoughts on “Die ongeluk, die engel en Olaf met sy wye wortelneus-lag

    1. Dit was! Terwyl ek met haar gesels het, het die polisie my aandag gesoek, so ek kon toe nooit ons gesprek klaarmaak of selfs plan maak om uit te vind waar sy bly om haar kosbare kussing terug te gee nie. 😔

      Liked by 1 person

Leave a comment