Archive | Augustus 2012

Tienertjie liefde

My tienerdogter het haar eerste kêrel en dis sommer ‘n ernstige storie.  As mamma is dit vir my die ergste om na my meisiekind se amper-vrou lyfie te kyk wat so pragtig ontwikkel, en te weet dat daardie lyfie nou begin om gevoelens en sensasies te ervaar wat die kinder-onskuld so stadig maar seker agtertoe skuif.  En my hart huil.  En ek kyk na die mense om my wat allerhande skimpe gooi oor die jonge liefde en vandag se kinders en statistiek ek sien sommer die mense wat dink ek is naïef as ek dink dat my kind nog so onskuldig is.  En ek wil vir hulle skree en sê:  dit is nie soos julle dink nie!!  Maar ek bly stom, want is dit nie tog maar soos hulle dink nie?

Toe besef ek, wat die mense dalk nie regtig van my weet nie, is dat ek geensins naïef is nie, maar dat mens twee keuses het wanneer dit by moeilike situasies kom:  jy kan “devil’s advocate” speel waar jou siel voltrek is van donker negatiwiteit oor wat verkeerd kan gaan, of jy kan volkome vertroue hê en met ‘n positiewe gesindheid met jou lewe aangaan!

Om “devil’s advocate” te speel in hierdie geval, is om hulle te verdink van alles wat jy gedoen het toe jy ‘n tiener was.  Want “ek was mos daar, ek weet mos”.   Om dit met ‘n tiener te doen, gaan waarskynlik die gevolg hê dat hulle sal reken dat jy hulle in elkgeval nie vertrou nie, so dan kan hulle mos maar doen wat jy gedoen het, want jy het per slot van rekening steeds goed uitgedraai, ten spyte daarvan dat jy die dinge gedoen het wat jy nie moes nie …..

Dus het ek besef dat vertroue gaan baie verder as wantroue.  En vertroue in hierdie geval gaan om baie meer as om net my kind te vertrou en al my hoop op haar te plaas dat sy sal sterk staan en versoekings afweer.

Daar is dus meer aan vertroue:

Vertroue in myself en my man:Ek kan nie my kind die wêreld instuur en blootstel en verwag dat sy haar waardes sal behou en sterk sal staan teen versoeking as ek nie vertroue het in die fondament, beginsels en waardes wat ek en my man in haar menswees gevestig het nie?  Want as ek eerlik kan sê dat ons ‘n stewige fondament gelê het, weet ek dat al haar besluite ten minste op daardie stewige fondament gebou word.  As die fondament dus rotsvas is, is die bouwerk reeds halfpad afgehandel en die res bloot detail.  Wat as sy die pad byster raak vra jy?  Wel, die fondament sal steeds daar wees – onthou ‘n rotsvaste fondament sal nie sommer verbrokkel nie, so ons sal bloot net almal dan saamwerk om weer te help om die stene te lê ….

Vertroue in haar krag: As ons ‘n rotsvaste fondament neergelê het, kan ons mos nie twyfel in haar krag nie?   Sy is dan die produk van die fondament wat vir ons gelê is deur ons ouers en waarop ons weer voortgebou het!  Natuurlik sal sy nie sommerso holderstebolder in ‘n situasie intuimel sonder om eers te dink nie!  As sy dus die pad byster raak, sal dit nie uit onkunde gebeur nie, maar met die volle wete dat sy self aan haar fondamente skud en dit teen haar waardes en beginsels indruis.  Sy sal dus op haar innerlike krag moet staatmaak om in te gee, of oor te gee en daarna weer haar vertroue in haarself moet stabiliseer om vorentoe te gaan.  Dit sal nie maklik wees nie, maar nooit onmoontlik nie.

Vertroue in die band wat ons bind: Ek en sy het nog altyd ‘n baie goeie ma-en-dogter verhouding en sy weet sy kan my enige tyd, enige iets vertel.  Ek moet volkome vertroue hê dat sy in haar moeilikste tye, daar waar sy dalk in ‘n situasie kom waar sy voel dat sy vir ons en haarself gefaal het, juis die vrymoedigheid sal hê om met my te praat daaroor.  Ek vertrou dat sy sal weet dat ek nooit sal oordeel nie en dat ek steeds altyd my meisiekind se hand sal vat daar waar sy struikel, maak nie saak wat nie!

Vertroue in hulle as paartjie: Ek kan nie sit en dagdroompies droom oor al die dingetjies wat hulle sit en doen om mekaar te ontdek nie.  Sies!  Tot hulle my nie verkeerd bewys nie, mag ek hulle nie om elke hoek en draai wantrou nie.  Beide ouerpare stel grense en hulle altwee het genoeg kennis van die blommetjies en die bytjies om te weet en te verstaan hoekom daar grense is.  Ten spyte van die tiener hormone, moet ek darem vir hulle eers die voordeel van die twyfel gee dat hulle sal weet wanneerdit tyd is om asem te skep.  En as hulle wel in ‘n situasie kom waar hulle die grense verbysteek, te vertrou dat hulle twee ten minste genoeg teenwoordigheid van gees sal hou om ‘n volwasse besluit daaromtrent te neem!

Vetroue bo alles:  ‘n Vader God wat alles sien!

Dit is die beste vir laaste.  Waarom wantrou ek enigsins as ek weet dat my kind op ‘n pad is wat God vir haar aanwys?  God is die enigste een wat wéét wat in elkeen se hart aangaan, wat daar is wanneer hulle bymekaar is.  Hy het ons dan geskape met al die gevoelens wat ons ervaar!  Ek MAG Hom volkome vertrou om Sy altyd wakende oog oor ons kinders te hou en dat Hy vir hulle deur die Heilige Gees die rigting sal aanwys.  Ek is ook Sy kind en Hy het dalk ook al Sy hande saamgeslaan oor die stupid goed wat ek al in my lewe aangevang het en die pad wat ek al hoeveel keer byster geraak het, maar Hy vergewe en lei my weer op die regte pad, want Hy bly lief vir my, maak nie saak wat gebeur nie.  Hoekom sal ek dit nie vir my kind wil doen nie?  Hoekom sal ek my kind wil verwerp as sy dalk nie aan my verwagting voldoen van ‘n perfek-voorbeeldige kind nie?  God wil die beste vir my hê en Hy wil die beste vir my kind hê.  En ek wil die beste vir my kind hê. Hy sal hulle mos nie verlaat in die hitte van die stryd en eers wag dat hulle hulle koppe stamp en dan kom sê:  “Whê la ke pêla, ek het julle gesê dit gaan gebeur” nie?  Hoekom sal ek en my man dit dan wil doen?

Nee, ek is jammer mense, julle kan maar dink ek is naïef oor hierdie kind van my, maar ek weet, selfs al raak my kind die pad byster, sal haar fondament, haar innerlike krag en haar God vir ons en vir haar stylvol daardeur kry sodat ons dit agter ons kan laat en ‘n wonderlike lewe lei!

Ek hoop dat sy en haar kêrel vir nou mekaar sal geniet binne die perke wat hulle eie beginsels en waardes vir hulle stel en as daar ooit ‘n tyd kom dat hulle paadjie skei, sal ek dan maar liewer bekommer oor hoe ek ‘n gebreekte hartjie moet probeer regplak, tot die volgende kêrel op die horison wink 😉

Mag julle ‘n wonderlike dag hê!

Advertisements

Goeie diens en dank met grasie

Ek vind dat mens soms sommer net weer herinnner word aan dinge in die lewe wat vir ons nie juis belangrik voel nie, maar vir ander mense die wêreld se verskil maak.  As mens in ‘n werk is waar jy ‘n diens lewer aan ander, dink jy meer aan die feit dat dit jou werk is, as wat jy dink aan dit wat die persoon ervaar teenoor wie jy ‘n diens lewer en ons besef nie hoe ons optrede mense kan seermaak nie.

 

Ek was aan die ontvangkant van diens wat gelewer is so ‘n paar jaar terug wat met baie emosie gepaard gegaan het. In een van my vorige blog-inskrywings het ek vertel van hoe baie siek ons seuntjie was en omdat die siekte wat hy gehad het, een van daai was waaroor dokters leer op universiteit, maar bykans nooit in hulle loopbane ondervind nie, moes die pediater redelik baie belwerk en naslaanwerk doen om hom te diagnoseer en natuurlik optimaal te behandel.  Daar was ook tye wat sy in die nagte moes inkom vir ekstra antibiotika as die gevaar van infeksie gedreig het, dus was sy nogal besig met hierdie pasiëntjie van haar.  Aan die einde van sy siekte moes ‘n finale teater-parade gedoen word en terwyl ons wag vir sy teater-beurt, het die pediater daar opgedaag en het ek met ‘n ligter hart vir haar dankie gesê vir alles wat sy gedoen het tot dusver.  Sy het my net aangekyk en gesê:  “You don’t have to thank me – remember, it is my job”.  Nou kyk, ek was natuurlik oor-emosioneel as gevolg van al die stremming van sy siekte, maar ek was SO ontsettend afgesit!  Ek het haar net aangestaar en het nie woorde gehad nie en soos ‘n wurm gevoel.  Dit was nie asof ek regtig oortuig was  dat sy die bepalende faktor was dat hy gesond geword het nie, of dat sy ‘n wonderwerk verrig het nie.  Ek weet sy het net haar werk gedoen, maar ek mag haar mos bedank omdat sy lojaal en passievol genoeg was om dit goed te doen?  Ek het gevoel dat sy darem genoeg aanvoeling sou kon hê in haar beroep om darem net my dankie met grasie te kan aanvaar en aan te beweeg.  (Noudat ek nugter daaroor kan dink, besef ek dat sy dalk al baiekeer in situasies gekom het waar mense werklik ‘n opgeblase heldeverering teenoor haar gehad het en sy dalk maar net gevoel het om konteks te behou, so ek hou dit darem nie teen haar nie!)

 

Maar, soos die Here werk, was ek aan die ander kant skaars ‘n paar maande later en het ek dit eers werklik goed verstaan.  Ek werk vir ‘n mediese fonds en een van die lede het my vroeg een oggend gebel en vertel dat hulle baie vinnig ‘n familielid in ‘n rehabilitasiesentrum moes kry.  Met dwelmafhanklikheid, het die familie ‘n baie kort venstertyd as die persoon toestemming gee om hulp te kry, want die siklus kan baie vinnig verander.  Ek het gou vinnig twee oproepe gemaak, hom gebel en gesê alles is gereël en die sentrum wag vir hulle, my koffie gaan maak en met my dagtaak aangegaan.  Dit was nie eers moeite nie en binne 5 minute afgehandel.  ‘n Maand of drie later het ek die lid raakgeloop en hy was vol lofprysing en dank vir dit wat ek op daardie oggend vir hulle gedoen en beteken het.  Hy het vir my opgewonde vertel dat, as gevolg dit wat ek gedoen het, kon ‘n jongmens hulp kry, ‘n lewe kon omgeswaai word na die Lig, en nuwe hoop en verwagtinge het hulle hele familie omhels.  Toe dink ek aan die pediater, en ek weet, ek kan maklik vir die persoon sê : “Ag, dis deel van my werk, en het nie eers 5 minute van my tyd geneem nie, so jy hoef regtig nie so vreeslik vir my dankie te sê nie.”  Maar, ek het sy dank met grasie aanvaar en saam met hom bly gewees dat dit so ‘n goeie einde gehad het.  Ek het weer met klaarheid besef, hy dink nie dit is ek wat die alfa en die omega is nie, maar in hulle donker wêreld daardie oggend, het God my strategies as instrument op die regte plek gesit, en ek moes net gehoorsaam wees en dit doen, en ek het.  Dus mag hy vir my dankie sê en moet ek die aanvoeling hê om sy dank met grasie te aanvaar!

 

Mens vergeet maklik so ‘n insident as dit so lank terug is en gou weer word mens se diens aan jou naaste ook maar weer iets waarna jy nie altyd uitsien nie en dan raak ek moedeloos om soms ‘n paar keer op ‘n dag vir dieselfde mense dieselfde dinge te moet vertel en luister na klagtes.  Tot ‘n week of twee terug waar ek maar gou vir ‘n tannie help met haar navragie by die administrateur, in plaas daarvan dat sy hulle self bel om dit uit te sorteer.  Toe sê sy vir my iets wat my laat dink het:  “Baie dankie dat jy my gehelp het.  Die Here sal vir jou werklik seën, en ek bedoel dit.  Jy moet nooit dink dat dit wat jy doen net bloot jou werk is nie.  Julle besef nie hoe dit vir my voel wat aan hierdie kant sit, om net iemand te hê wat vir my help met iets so klein soos hierdie navragie nie. Om ‘n goeie diens te lewer is nie altyd maklik nie, ek weet dit, maar vir die mens aan wie jy die diens lewer, laat jy ‘n gevoel op hulle hart wat hulle nooit sal vergeet nie.  Of dit goeie diens is of nie, jy vergeet dit dadelik, maar vir die ontvanger, bly dit altyd daar.”

 

Ek was bly om weer herinner te word hieraan.  Ons plig op aarde is om ‘n goeie diens met ‘n goeie hart te lewer aan ons naaste, of dit ons werk is, ons famlie, ons kerk, ons algemene omgang met mense, ‘n sagte woord, ‘n klein gebaar, ‘n sms.  Sonder om iets terug te verwag, maar met die aanvoeling vir wat dit vir daardie persoon beteken op daardie oomblik.

 

En natuurlik, as daardie persoon dankie sê, die nodige aanvoeling te hê om die dank met grasie te aanvaar en aan te beweeg sonder om die persoon te laat voel dat jy dit maar net uit blote plig gedoen het, en ook sonder om te voel dat jy werklik daardie dankie verdien het!

 

Want aan die einde van die dag, was die gebaar God s’n – jy was net gelukkig genoeg om die instrument te wees om dit te kon uitvoer aan God se kind vir wie Hy so lief is!

21 Mei 2011: Ontmoeting met ons Skepper

En daar is sononder verby en geen berigte van wegraping of die einde van die wêreld nie (tensy die verslaggewers en nuusmense die eerstes was om opgeraap te word en ons dus salig onbewus is daarvan …)

Wat so ironies is, is dat hierdie voorspellings tog op baie mense se lippe was en ek het die idee gekry dat hierdie mense tog senuagtig-versigtig was om te veel te terg oor hierdie aankondiging, want sê nou net dit is waar?

Ek glo egter die bybel wat sê dat God op Sy eie tyd sal besluit wanneer hierdie dinge moet gebeur en nie eers die engele in die hemel weet wanneer daardie uur aanbreek nie.  Dit het my egter aan die dink gesit, veral toe ek ‘n sms van iemand kry wat net laat weet dat hulle baie lief is vir ons, net vir ingeval hulle nie weer die kans sal kry nie.  (Bygesê, die sms het my nogal laat wonder of ek nie eintlik bekommerd moet raak nie … )

Maar in elkgeval ….

Toe Jesus op die aarde was – hoeveel mense het werklik geglo dat Hy die seun van God is? Maar tog, was Hy vir dié wat nie geglo het nie, ‘n doring in die vlees, so dat hulle Hom wou doodmaak.  Dit is in vandag se tyd ook so – Christene raak ongelukkig fyner gesaai oor die aarde, maar alles wat met ons geloof gepaard gaan is op so baie mense se lippe, van die ateïs, die godlasteraar, die valse profete, tot die politici wat “gesalfdes van God” uitwys om politieke steun te verwerf.  Christenskap is steeds groter as enige onderwerp, selfs al word dit nie beoefen nie. Dit sê vir my baie – dat daar altyd ‘n bewustelikheid van God is, al wil hulle Hom nie erken nie.

Ongelukkig maak dit ook weer die onderwerp oop vir enige een wat graag wil maak of hy meer weet, of wil voorgee dat hy werklik ‘n uitverkorene is, amper soos in ‘n fantasiewêreld.  Die bybel waarsku tog teen valse profete en is dit nie waarvan soveel mense weereens slagoffers was met hierdie voorspelling nie?  Van wanneer af sal God jaartalle en wiskundige berekeninge doen om die datum en tyd vas te stel van Sy koms?  Dink mense werklik dat Hy in Sy Almagtigheid so voorspelbaar sal wees?  Weet hierdie mense, en die mense wat senuwee-agtig raak oor hierdie voorspellings dan niks?

Dit is al asof God so ‘n raaisel vir mense is, dat hulle nie anders kan nie as om aan Hom menslike eienskappe te gee, en ek dink dit is ‘n gevaarlike speletjie om te speel.   Die mense wil amper ‘n stappie “voor” Hom wees, om een of ander duistere punt te probeer bewys.  God is DIE Almagtige Skepper van hemele, aarde en van die wesens wat daarop woon en NIEMAND sal ooit kan weet wat is die omvang van Sy Godheid nie – allermins die mense wat wil maak asof Hy hulle uitgekies het om iets te openbaar.  Hy het ons as mense gemaak volgens Sy beeld, dus as sy skepsels en “net minder as hemelse wesens”.  Nie een van ons is in werklikheid God nie, dus sal ons nooit weet hoe Hy dink ni

Ek het al baie gedink aan Adam en Eva. Hulle was die eerste mense op die aarde.  Hulle het gewoon in ‘n paradys.  Daar was geen kwaad nie, geen politiek, geen oorlog, niks.  Alles was perfek.  Ek kan nie eers myself so ‘n plek indink nie.  God het saam met hulle in die tuin kom stap en hulle het die perfekte verhouding gehad met hulle Skepper.  Hulle was van aangesig tot aangesig met Hom en was nie bang of skaam voor hom nie. Ek kan nie help om matelose simpatie met hulle te hê nie.  Hulle het geen kennis gehad van goed en kwaad nie.  Slegs een vermaning, dat hulle nie van die boom in die middel van die tuin mag eet nie.  Hulle het nie werklik die omvang van hulle sonde besef toe hulle God se vermaning verontagsaam het nie.  Kan jy jou indink hoe hulle moes gevoel het toe hulle die vrugte geëet het? Skielik het hulle al hierdie kennis van goed en kwaad, hul Skepper is woedend vir hulle en jaag hulle uit hierdie wondelike paradys waar hulle gewoon het in ‘n koue, onbekende wêreld in.

Adam en Eva het een kans gehad …. en hulle het dit verbrou.  Vir altyd.  Hulle verhouding met God sou nooit weer dieselfde wees nie.  Nou is hulle skaam, bang, ontbloot en bevlek van sonde ….

Met ons, miljoene jare later, is daar nie meer sprake van ‘n paradys, vrede en ‘n perfekte wêreld nie, maar die goeie nuus vir ons is, dat dit nog nie vir ons te laat is nie.  Alhoewel die einde van die wêreld nie aangebreek het nie, beteken dit egter nie dat ons nou kan ontspan en rustig raak tot die volgende voorspelling nie!

Nee

Ons moet ons liewer beywer om ons lewens in orde te kry, sodat ons nie eers hoef te bekommer oor voorspellings of wanneer Hy besluit om ons te kom haal nie.  Ons moet liewer opkyk boontoe en ophou luister na dinge wat verkondig word, maar wat inderwaarheid dinge is wat vir ons verborge is.

En tweedens moet ons natuurlik vir almal om ons ook aanspoor om hulle lewe aan Hom te gee, want onthou, ons is Sy dissipels en as ons nie mense na Hom toe lei nie, mag ons dalk eers moet agterbly na die wegraping en die toets van die tye deurstaan tot Hy ons finaal kom haal.

Ons moet ons oog gerig hou op Jesus, ons Verlosser, met die Heilige Gees wat ons elke dag lei en aanspoor om ons roeping op aarde te vervul.

Dan sal God ons kom haal, en sal ons in die Huis van die Here bly tot in lengte van dae.

Motor neuron disease: konfrontasie met ons sterflikheid

Ek dink dit is die ergste wat met ons as mens kan gebeur:  daardie dag wat jy werklik gekonfronteer word met jou eie sterflikheid.  Solank dinge goedgaan, is ons mos maar oortuig dat ons vir ewig gaan lewe.  Maar, as jy oud word, kan jy voel hoe jou liggaam swakker word, mense met kanker weet dat daar slegs ‘n 50/50 kans is dat hulle sal genees of in remissie gaan.  Ouers van siek kinders weet dit is net God se genade wat sal bepaal of hul kind voor hul sal kan grootword.  Joost word gediagnoseer met ‘n rare, baie afbrekende siekte waaroor daar min kennis is en bykans geen behandeling nie.

 

Ek glo nie aan toeval nie, maar hoe raar ookal hierdie siekte is, is daar twee mense in my binnekring van kennisse wat hierdie siekte het.

 

Wilfred is in ons kerk en is so jaar of twee gelede daarmee gediagnoseer.  Hy het geestelik ‘n lang pad gestap, maar tot bekering gekom.  Die siekte het sy bene en arms eerste aangetas, maar elke Sondag is hy in die kerk en sit heel voor sodat hy goed kan hoor.  Laas Sondag nog het hy nog met baie ondersteuning in die kerk ingestap, maar tussen toe en nou is hy so verswak dat hy vandag  met ‘n rolstoel ingestoot is.  Maar, wat is so merkwaardig aan hom? Hy is besig om vanuit hierdie posisie waar sy liggaam nie meer werk nie en hy geestelik so afhanklik van God is, dagstukkies te skryf wat mense sal bemoedig en hy gaan dit laat publiseer.  Hy het die keuse geneem om, ten spyte van sy liggaam wat stukkie vir stukkie afbreek, sy sterk, gesonde gees te gebruik om alles moontlik te doen om iets positiefs uit sy siekte te laat voortleef as hy die dag nie meer daar is nie.

 

Zelia het ek nog nooit ontmoet nie, maar ons bid aktief vir haar.  Sy is in die gimnasiumklas van een van ons bejaarde omgeegroep lede. Met haar het die siekte weer by haar keel begin en haar spraak aangetas.  Sy kan nie meer sluk nie en moet buisvoeding kry.  Sy kan nie eers meer haar speeksel inhou nie en loop heeldag met ‘n snesie voor haar mond.  Maar, sy gaan steeds gimnasiumklas toe en sy het die keuse geneem om, ten spyte van die siekte wat haar liggaam afbreek, steeds voort te gaan, steeds rondom mense te wees, selfs al kan sy nie meer kommunikeer met hulle nie.

 

Ons vra:  hoekom gebeur sulke dinge?  Wel, ek weet een ding:  die persoon wat ‘n slim, teologiese antwoord hieroor kan gee, het dalk nie al die feite beet nie, want ons weet almal dat ons  in ‘n dowwe spieël kyk en  ‘n raaiselagtige beeld sien.  Niemand op aarde het hierdie antwoorde nie, al is hulle hoe geleerd.  Al wil sommige mense dit nie noodwendig weet nie, is daar maar dinge wat verborge sal bly vir ons sterflinge, todat ons eendag ons Skepper ontmoet.

 

Ek dink dit is dan wanneer ‘n mens meer na teksgedeeltes in die bybel moet kyk waar God ons laat weet dat Hy ons soms moet snoei sodat ons vrugbaar kan wees. God het ‘n doel met elkeen se lewe.  Sommige se pad is betreklik gelyk, en hulle kan getuies van God se genade wees (of maar net voel dat hulle God nie nodig het in hulle lewe nie), maar sommige moet eers op hulle knieë gedwing word en meer as een keer gesnoei word, sodat hulle werklik lewendige getuies van God kan wees.  Ek kan simpatie hê vir Wilfred en Zelia en Joost en hulle op ons gebedslys plaas en aktief vir hulle bid vir genade elke dag en dat God deur hulle sal werk en Sy liefde elke dag aan hulle sal betoon op ‘n manier dat hulle dit sal raaksien, maar hulle is die mense wat vanuit hulle swakheid, werklike getuies kan wees van ‘n lewende God.  Hulle is die mense na wie geluister sal word as hulle praat van die effek van ‘n siekte op hulle lewe, want hulle wéét.  Hulle sal kan vertel hoe dit voel as jou verstand helder is soos enige ander mens, maar jou liggaam toon geen reaksie nie, of jou stem kan nie meer getuig of sing tot Sy eer nie, al is jou behoefte so groot.

 

Dit maak tog op die ou end nie saak wie of wat jy is, wat jy in jou lewe reg of verkeerd gedoen het nie.  As God ‘n opdrag het vir jou, sal Hy jou tot stilstand bring, en vir jou die pad aanwys.  Dan is dit vir jou om te besluit of jy daardie nuwe weg wil inslaan en Sy wil doen.  Dan is dit net vandag wat saakmaak en wat JY met vandag gaan doen.  Dit is menslik om die pad op een of ander stadium in jou lewe byster te raak, maar dis Genade om weer op die pad te kom.  Ons besef nie hoe tydelik ons lewe op aarde is nie.  Ons liggaame is almal broos en kwesbaar, maar ons gees kan sterk wees, en solank jou gees sterk is, behoort jy verby jou liggaam se gebreke te kan kyk, want niemand kan jou gees breek sonder jou toestemming nie.

 

Ek kan net bid dat die Here in Sy groot genade oor hierdie mense, en ALLE mense wat deur ‘n snoeiproses gaan sal waak, dat hulle elke dag Sy teenwoordigheid sal kan sien en aanvoel en ook daaroor sal getuig om weer ander mense te kan bemoedig.  Ek bid dat hulle in alle omstandighede, in alles vir God sal raaksien:  in die sonsopkoms of sonsondergang, in die natuur, in hul familie, kinders, vriende en medegelowiges, maar bowenal in hulleself en hul talente.

 

Ek weet nie veel van Joost nie, omdat ek nie rugby kyk nie en my ook nie steur aan sensasionele mediaberigte oor mense se persoonlike lewens nie, maar ek en my omgeegroep sal bid dat hy op een of ander stadium ook berusting sal ervaar, sy hand sal uitsteek na sy Vader wat hom liefhet, dat sy gees versterk sal word soos sy liggaam swakker word en dat hy op die punt sal kom dat hy vind dat dit baie meer bevredigend is om ‘n lewende getuie van God te wees as om sonder hoop te lewe.  En dat hy die opdrag wat aan hom gegee word, met sy sterk gees sal uitvoer!  Dit mag dalk nie nou al gebeur nie, maar God sal nooit geduld verloor met enige iemand wat deur ‘n snoeiproses moet gaan nie, want die vrugte wat daaruit kom, sal mooier wees as ooit!

 

Mag julle week geseënd wees en mag God se liefde seëvier oor almal!

Spiritualiteite en ware menseliefde

Ons bybelstudiegroep doen ‘n kursus oor ware spiritualiteit.  Wat is ware spiritualiteit en hoe kan ons dit uitdra.

Ek is al klaar benoud, want ek begin wonder hoeveel ek eintlik tekort skiet.

Die eerste les van die kursus:

Jy moet die Here jou God liefhê  met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele krag en met al jou verstand, en wat hiermee gelykstaan is, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. (Matt 22:37)

Dit is ‘n bitterlike sterk boodskap om nou te kry so voor die verkiesings met dit wat mens alles lees oor die politieke partye en politieke liedere wat geskryf word en kontraversie skep, asook al die skandelike dinge wat gesê word, wat mens se maag sommer laat omdraai.

Wat beteken dit? En ek het bietjie geskrik toe dit tot my deurgedring het …

Ons kan wel dade en woorde veroordeel, maar ons MOET ALLE mense, selfs vir Malema en al die ander politici LIEFHê, al stem ons nie met hulle saam nie en maak hulle ons baie benoud vir die toekoms. Ons moet hulle liefhê soos God hulle liefhet. Ons kan nie onsself ewe skynheilig christene noem as ons self besluit vir wie ons gaan liefhê geoordeel aan hulle dade nie.

Goeie toets vir ons as Christene? Net ek en jy gaan weet of ons hierdie toets gaan slaag!

In plaas van veroordeel en oordeel uitspreek oor ons land se toekoms, staan liewer saam, kyk op na ons Almagtige God en bid soos nog nooit tevore nie. Betoon liefde aan ALLE mense, want op hierdie manier kan ons baie meer bereik deur God se liefde oor te dra aan ALLE mense as wanneer ons sommige mense oordeel aan ons eie vereistes en hulle verklein in die oë van ander mense.

Ek wil nie vir daardie bedelaar iets gee nie, want hy snuif heel waarskynlik gom en drink spirits.  Het ek egter ooit daaraan gedink dat, op daardie stadium wat hy bedel, is dit ‘n gebed vir genade, al weet hy self dit nie?  En EK is die persoon op daardie oomblik, wat sy gebed kan verhoor deur tog maar ‘n broodjie te smeer en te gee. Mag ek dit regtig weier?  Dit het dan so maklik geraak om net die kop te skud en nee te sê.  Die Here waarsku dat ons eendag geoordeel gaan word aan ons dade.  Gelukkig is dit nie te laat om te begin nie!

Ek het alreeds hierdie dinge begin besef toe Bin Laden doodgeskiet is. Dit is ‘n massiewe oorwinning vir Amerika om ‘n terroris te soek en dood te skiet omdat hy ‘n terroris was en duisende mense se bloed aan sy hande gehad het. En hoeveel mense se tone het omgekrul van lekkerte dat hy doodgeskiet is en hoeveel mense voel dit was die regte ding om te doen..

Maar, was dit die regte ding om dit te doen? Jesus het vir die moordenaar wat saam met Hom aan die kruis gehang het (wie ook skrikwekkend was en ook hoeveel mense se bloed aan sy hande gehad het), vergewe en in die Koninkryk toegelaat. Wat ‘n wonderlike voorbeeld van vergifnis was Jesus aan die kruis vir ons wat in Hom glo!

Kan ek werklik vir my kind wat hierdie dinge in die nuus lees, sê dit was die regte ding om te doen om ‘n terroris dood te skiet want hy het baie mense doodgemaak? Is it werklik ‘n goeie voorbeeld wat Amerika stel met hulle “oorwinning” vir kinders regoor die wêreld wat toekomstige landsregeerders moet wees en self eendag daardie besluite moet neem?

 

Ek wonder maar net …

Is die gras aan die ander kant van die draad groener?

So met alles wat aangaan in ons pragtige land, is dit nogal iets wat gereeld opkom.  Ek sit ander oggend en dink hieraan – dit is werklik ‘n baie belangrike vraag om te vra.  Is die gras groener aan die ander kant? Sonder om wetenskaplik te wees, dink ek dat ek wel di antwoord het …

JA, die gras aan die ander kant van die draad is beslis groener. 

Ons almal sien dit dan!  Kyk net! 

MAAR,

het jy al vir die tuinier gevra hoekom is sy gras aan sy kant van die draad groener?  Die antwoord is dalk baie anders as wat jy gedink het: 

  • Ek as tuinier is dankbaar vir die stukkie grond wat aan my uitgemeet is.  Ek het dus die keuse geneem om my stukkie grond te bewerk na die beste van my vermoë, al is dit nie ‘n groot stuk grond nie, dis myne en ek het ‘n verantwoordelikheid teenoor dit!
  • Dit is harde werk, dit kos bloedsweet, ek moet dag en nag daaraan werk, want as ek my oë uitvee, kom daar onkruid in of gaan my gras dood.  Maar, die harde werk hou my uit die kwaad uit!
  • Ek kyk nie na ander se grond in afguns nie – ek konsentreer op my eie grond, want ek wil ‘n sukses maak van my grond, dit leer my selfwaarde.
  • As ek vind dat ek of die mense naby aan my op hulle eie mishopies sit en koning kraai, vat ek sommer daardie mis en werk dit in die gras in – dit help vir my en vir hulle om weer met ons voete lekker stewig op die aarde te staan, en maak ons lappie grond vrugbaar. 
  • Ek kyk boontoe vir Lewende Water om my gras te voed.
  • Ek loop elke dag met trots op my gras rond en dank die Skepper van my aarde dat my gras so mooi groei en dat Hy my help daarmee.  Ek is trots op elke worteltjie en blaartjie van my tuin en weet dat dit net genade is – en ek verdien nie al die genade nie.  Ek is nie skaam om my sukses met ander te deel en vir hulle van raad te bedien om hulle gras ook so mooi te maak nie.  Ek wil graag hê dat hulle ook moet voel dat die porsie wat aan hulle uitgemeet is, ook goed genoeg is, al gaan dit nie aldag so maklik nie. 
  • As die lewensstorme om my woed en my gras verniel, staan ek op en begin dit dadelik weer bewerk.  Snaaks genoeg, elke keer as ek opstaan en stukkie vir stukkie my grond weer begin bewerk, is ek sterker as ooit tevore!  Dan weet ek, ek het lesse geleer en doen ek dinge nou beter en meer effektief.
  • As daar klippe op my grond val, struikel ek wel daaroor, maar sodra ek opgestaan het, neem ek dit en bou ‘n sterk huis daarmee.  Dit help mos nie ek los dit daar om my heeltyd te herinner hoe hard ek gestruikel het nie!  Maar dit help wel om na my mooi, sterk huis te kyk en te weet dat ek die struikelblokke in my pad kon gebruik om iets positiefs tot stand te bring!
  • Ek is nie skaam om te bely dat dit nie my eie toedoen is dat my gras so mooi is nie, maar dat ek eintlik in diens staan van ‘n Skepper wat my help en vir my raadgee oor my tuin.  Hy het die meeste kennis en waar ek sukkel, is Hy nooit te ver of te besig om my te help nie. 
  • Ek het ook die harde pad geloop om te besef dat my Skepper die gras daar neergesit het en alles tot my beskikking gestel het om dit te bewerk en mooi te maak, maar dat Hy dit in my hande laat om te bewerk.

Ons kyk na ons land en ons kele trek toe oor wat alles aangaan, die korrupsie, die probleme, ons fokus so op al die slegte dinge dat ons in ons harte glo dat ons land op ‘n afdraende afstuur – ons kyk na ander lande waar alles so “glad” verloop en alles so wonderlik is, en ons wil net soontoe vlug.  Ek dink dit is meer waar persepsien inkom. Ons sien werklik ‘n volmaakte prentjie, omdat ons dit sien soos ons dit wil sien, maar sien daardie mense dieselfde prentjie?  Kyk hulle nie dalk na ons en sien by ons weer ‘n volmaakte prentjie nie?

Ek dink die groot ding kom by “ownership” van ons stukkie aarde. Ons verslind nuusberigte en koerante oor al die slegte goed wat gebeur, en in die tussentyd, word al die slegte nuus ook maar net so aanhoudend gepubliseer omdat dit die enigste nuus is wat werklik gelees word.  Dit is asof daar nie meer enige ‘incentive’ is om goeie, opbouende, positiewe berigte te publiseer nie, want dit is nie die tipe berigte wat sensasie veroorsaak en verkoop nie.  Ons moet dus self positiewe dinge gaan soek.  En glo my, daar is baie!!

Genesing moet binne onsself plaasvind.  Elkeen moet sy eie stukkie gras vat en mooi daarna kyk.  As jou stukkie gras mooi groen is, SAL dit uitkring na die mense rondom jou. Die mense om jou sal sien hoe positief jy is, hoe jy opstaan na elke terugslag, hoe jy jou hande deurwerk om jou stukkie gras mooi te hou.  Hulle sal sien hoe trots is jy, want niemand kan jou trots wegneem, behalwe jyself nie.   Hulle gaan by jou wil weet hoe jy dit regkry, en jou positiewe houding gaan hulle help om te begin fokus op hulle eie gras.  Hulle gaan weer die woord versprei aan die mense naaste aan hulle en voor ons sien, het ons ‘n massiewe stuk groen gras wat vanuit die buitenste ruimte gesien kan word.  En almal gaan na ons kyk en wonder hoe ons dit dan regkry om met soveel teenstand so ‘n wonderlik groen stuk aarde tot stand kon bring!

Ek glo in my hart dat ons land ‘n mooi toekoms het, dat daar baie positiewe dinge gebeur.  En ek dank God elke dag vir die land waarin ek kan bly, dat ek dit regkry om vanuit my groen lappie aarde rondom my kan kyk en kan besef, dat op my lappie, is God steeds in beheer.  Ek leer dit vir my kinders, sodat hulle ook hulle toekoms met hierdie wete kan ingaan en ek WEET, dat hulle gras ook baie groen en vrugbaar sal wees en dat hulle ook ‘n verskil in hierdie land sal mag maak.

Mag almal se gras goen en vrugbaar wees en mag die mense julle wonderlike, positiewe houding sien en dit hulle eie maak!

Deure

Oral is daar deure. Deure word opgemaak, toegemaak, afgehaal, opgesit.

Deure laat jou in, of sluit jou uit.

Ek het nou die oggend besef dat vir ‘n ma is die moelikste deur wat in jou gesig toegemaak kan word sekerlik ‘n hospitaal teaterdeur.  Maak nie saak of dit ‘n groot operasie of ‘n klein proseduretjie is nie.  Jy sit en staar na daardie deur, met geen gedagtes nie.

Jy is bloot te bang om ‘n gedagte te hê, want jy wil amper voel of jy jou kind aan die lewe kan laat vashou as jy aan niks dink nie.

Mens wil natuurlik nie op daardie stadium dink aan wat kan verkeerd loop nie, en veral nie aan daardie gru-stories waar die verkeerde ledemaat afgesaag word of organe ge-oes word (of wat ookal) terwyl hy salig in ‘n wêreld tussen lewe en narkose gelê het nie, want dan gaan jy histeries raak en straks deur daardie deure bars en jou kind sommer gaan haal en die vlaktes in hardloop.

Jy wil ook nie noodwendig positiewe gedagtes hê nie, want sênou dit plaas ‘n tipe van oordeel oor die operasie en dan loop dinge nie goed af nie?  (Ons kan lekker kleingelowig wees as ons in ‘n situasie is waar ons nie ‘n “comfort zone” kan vind nie)

Dan swaai die teaterdeure skielik oop, en jy skrik, jy is bang … sênou hulle het slegte nuus … die teaterdeure mag nie nou al oopgaan nie, dis nog te vroeg!  Wat is fout!  Dan is dit iemand heeltemal anders wat uitstap en na jou groot oë kyk en sekerlik simpatie het, of dalk nie eers nie, want dalk sien hulle dit elke dag.

Ek was in ‘n situasie waar ek 3 keer in een maand voor die teaterdeure moes sit – my 4 jarige seuntjie het ‘n aaklige bakterie gekry wat toksiene afgeskei het en veroorsaak het sy liggaam sy vel verwerp – sy hele vel het begin afpeul van sy lyfie af.  Hul moes ‘n diep aarvoeding in sy lies onder narkose insit omdat sy vel eenvoudig saam met alles afgeval het wat hulle op hom of in hom probeer sit het en drie dae daarna moes hy weer teater toe om sy vel te behandel en skoon te maak onder narkose. En ‘n maand later moes ons die mangels verwyder waarin die bakterie nog gesit en broei het en van so ‘n aard was dat ons dit kon gebruik het om ‘n toksiese oorlog daarmee te begin.

Die eerste keer was die ergste.  Daar het ek alleen gesit – my man moes ons dogter huis toe vat, omdat sy baie getrumatiseerd was en ons het nie die “luxury” van famlie by ons nie.  En ek het alleen daar gesit en gestaar.  Die teaterdeure was voor my – die ICU waarheen hy moes gaan langs my. En ek het nie geweet watter een is erger nie.  Agter die teaterdeur waar sy liggaampie onder skok is van die vel wat al hoe vinniger afpeul en sy lewensdraadjie so vinnig kortgeknip kon word, of die ICU tussen die mense met kunsmatige asemhaling en pype uit hulle kele uit wat sterf terwyl jy daar sit, maar waar ek darem ten minste kan sien dat hy asemhaal, alhoewel hy nie regtig van my bewus is weens die verdowing nie?

Ek dink dit is eintlik waar die verskil inkom.  Om te kan sien daar is lewe, al is daardie lewetjie ook maar heeltyd in die land van die saligheid danksy verdowing en morfien, of om agter ‘n toe deur te sit en nie te weet wat daar binne aangaan nie.  Dit is daardie oeroue vrees vir die onbekende.  Die drang in ‘n ma om haar kind te kan vashou, te kan beskerm, om net vir haar kind te kan sê:  mamma is hier, alles sal regkom, al hoor die kind dit nie.

Een ding wat ek besef het, was dat ek voor daardie teaterdeure te bang was om te bid.  Wat bid ek?  Dat my kind daar sal opstaan en uitstap en niks makeer nie (wat tog nie op daardie oomblik moontlik was nie)?  Dat God se wil geskied, en Sy wil is anders as my wil?  Dat hy moet genees terwyl dit dalk nie God se wil is nie?  Dat hy liewerster verlos moet word van daardie onnoembare pyn in sy liggaampie?

Die tweede keer was bietjie beter, want toe was die bakterie se rug geknak en was hy op die herstelpad, alhoewel hy gelyk het of hy ‘n oorlog oorleef het.  Weer moes ek daar voor die teaterdeure sit en wonder hoe gebeur sulke dinge?  Sênou hy het permanente skade op sy velletjie? Dit het nie gebeur nie, natuurlik nie, waar was my geloof ??

Die derde keer toe die vrot mangels uitgehaal is, was nie meer snaaks nie.  Almal het hom nog herken en my herinner aan daardie aaklige tyd, skaars ‘n maand vantevore.  Toe het ek na die teaterdeure gekyk en darem geweet dat ons nie weer by die ICU se deur gaan inbeweeg nie, maar ek onthou nou nog elke lyntjie op die grys deur, elke krakie, hoe die muur lyk, hoe die dak lyk.  Hoe my boude gevoel het van so vasgekluister sit aan die ongemaklike bank, my mond bitter van die koffie.  Maar ek was ontsettend verlig toe ek uiteindelik daar kon opstaan en later met my kind by daardie hospitaaldeure uitstap, in die sonskyn en die lewe in.

Vanoggend moes my suster se seuntjie gaan vir ‘n besnydenissie. Hy is amper drie.  En alhoewel ek geglimlag het oor al die verskriklike trauma en drama en geskarrel en geskenke koop oor hierdie verskriklike (klein) proseduretjie, kon ek nie help om letterlik in die gees daardie hele 30 minute saam met haar te sit en staar nie.  Dit kom vanself.  Tussen my werk deur, het ek kort-kort bewus geword van staar teen ‘n grys deur, onderdrukte gevoelens, trauma wat mens nie in woorde kon uitdruk nie.  En ek het besef – dit vat aan jou diepste menswees soos niks anders nie.  En dit sal jou bybly … vir altyd.

Gelukkig weet die Here genadiglik waardeur mense gaan as hulle voor die teaterdeure sit en gee Hy tog die nodige krag.  Ek dink dat dit een van die min kere in ons lewens is wat ons werklik die kans kry om doodstil  in die Vader se teenwoordigheid te sit,

sonder woorde,

sonder gedagtes,

… totaal en al afhanklik van God ,

…  soos ons kinders afhanklik van ons is ..

…. en die wete dat Hy ook by daardie kind daar binne is, wat weer afhanklik is van hande wat moet afsny, uitsny, heelmaak, toemaak, besluite neem, kennis gebruik.

….. Hande wat weer afhanklik is van God se wil wat moet geskied in daardie tyd tussen lewe en vergetelheid…

Maar, na ‘n leeftyd, gaan die teaterdeur oop en die dokter loer ewe casual en vrolik uit en vertel in detail wat hulle gedoen het, dat alles goed afgeloop het en verby is, en dan voel dit soos ‘n berg van jou skouers af.  En dan kan jy weer jou kind vashou en hom ‘n soentjie gee en dan is die wêreld weer soos dit moet wees.

En hopelik onthou jy hierdie sit voor die teater met dankbaarheid teenoor God en diepe afhanklikheid, en getuig jy daarvan teenoor almal wat jy ken, want ek weet en jy weet dat jy maar bloot net een van die “gelukkiges” was,

 … want niks wat jy doen of sê het jou uitgesonder om daardie genade te verdien nie ….