Archive | Oktober 2017

Vir my mooi dogter

Elke jaar sit ek ‘n mooi wens vir jou op Facebook vir jou verjaarsdag.  Vanoggend sien  ek al die Facebook memories van al die wense wat ek nog vir jou gestuur het en skielik besef ek dat ek na 19 jaar se wense sekerlik nie meer veel kan wens wat ek nog nie gewens het nie.

So, hierdie jaar gaan ek selfsugtig wees en iets vir myself wens op jou verjaarsdag.  So, hier is dit, my mooiste meisiekind.

Ek wens ek kan jou sielvolle oë skilder wanneer jy die mooi om jou bewonder, voor jy dit perfek deur ‘n lens vasvang.  Dan kan ek die wêreld altyd deur jou oë sien.

Ek wens ek kan die grasie van jou menswees in ‘n dans opvang, sodat ek altyd lig en vry op die maat van die musiek kan dans.

Ek wens ek kan die passie in hart jou omsit in ‘n simfonie, sodat die klanke daarvan altyd my siel sal streel.

Maar omdat ek nie kan skilder, dans of ‘n simfonie skryf nie, wens ek maar net dat ek die mens wat jy is, in ‘n flessie kan opvang sodat ek altyd na jou kan kyk en wéét die wêreld is ‘n beter plek, net omdat jy daarin is!

Maar, nadat ek al hierdie wense vir myself gewens het, weet ek dat ek jou tog uiteindelik sal vrylaat, sodat jy jou ragfyn vlerke kan sprei en die wêreld oorwin.

So, dan wens ek liewer maar weer vir jou ‘n wens, my mooi meisiekind:

Dat jy sal aanhou om die wêreld te sien vir sy moontlikhede deur jou sielvolle oë,

Dat jy die ritme van die lewe sal dans, al is die musiek nie altyd mooi nie,

Dat jou passie nooit sal minder raak in die dinge waarin jy so sterk glo nie.

Dat jy altyd so sterk sal glo dat jy van die wêreld ‘n beter plek kan maak.

Want jy kan.

Want jy is tot alles in staat.

Jy maak ons trots.

Ons lief jou tonne!

(Foto:  Tamcam photography)

Advertisements

Nogtans ….

Die Weskaap gaan gebukkend onder die ergste droogte wat nog ooit opgeteken is.  Die damvlakke word nou elke dag saam met die weer op die radiostasies aangekondig.  Almal word gewaarsku om soveel water as moontlik te spaar en te begin berg.  Ons hou die reënberigte bekommerd dop en draai hartseer weg as ons sien hoe min verskil die klein bietjie reën maak.

‘n Nuwe woord word die nuwe spreektaal, amper soos ‘n aankondiging van die oordeelsdag:

DAG ZERO

… die dag wanneer ons waterpype amptelik gaan leegloop …

Dit voel of die wêreld begin verlep soos die seisoen draai en die reënseisoen amptelik verby is.

Maar tog, gaan die skepping sy gang.  Die Weskus veld-blomme het hulle pos ingeneem, kiertsregop  gestaan en met hulle gesiggies die son gevolg.  Hulle kleur en vrolikheid uitgestraal vir elkeen wat dit kon waardeer.  Die bome floreer terwyl hulle wortels die water diep onder die aarde intrek.  Die voëls trek heen en weer tussen die twee vleilande in ons omgewing wat al hoe droër word, maar tog gaan hulle hulle  gang.

Die nag word dag.  Elke dag wys nuwe hoop en belofte.  Die skepping gaan eenvoudig sy gang.

En ek wonder elke dag.  Weet die skepping dan nie dat daar nie water is nie?  Weet die skepping nie dat daar ‘n groot krisis in ons land en in die Weskaap is nie!?

Wat is dit wat ons nie verstaan nie?

Maar, dan besef ek dit is eintlik alles in een woord opgeteken.  ‘n Moeilike woord wat moeilik is om te gebruik en te verstaan.

Die woord:  Nogtans

Habbakuk het die spyker op die kop geslaan met hierdie woord.

Al sou die vyeboom nie bot nie.  En daar geen druiwe aan die wingerde wees nie.

Al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie.

Al sou daar geen reën hierdie seisoen gewees het nie en die damme leegloop sodat mense oor die dorre aarde sal moet struikel om water te gaan haal uit tenkwaens wat aangery is.

Al sou daar geen kleinvee, in die kampe meer wees nie omdat voëlgriep die bestaan van hoenders en eiers bedreig en kospryse maar net weereens verder die hoogte gaan inskiet.  En die armes weereens net armer gaan word.

En die beeskrale sonder beeste wees omdat hulle doodgemaak moet word, omdat daar geen water en goeie voer in hulle krippe meer is nie.

Nogtans, sal ons saam met die skepping juig.   Sal ons jubel in ons God, die Here!!

Vir my maak dit nie sin om te jubel as dinge so sleg gaan nie.

Maar, as ek mooi daaroor dink kan ons miskien wel jubel ….

Miskien … omdat ook hierdie sal verbygaan.

Miskien …. sodat ons as mensdom vir ‘n slag kan leer om dankbaar te wees vir seëninge uit God se hand wat ons as vanselfsprekend aanvaar en elke dag so vermors.  Vir ons as gesin was dit nie eers moeite om ons watergebruik te halveer toe hulle waterbeperkings ingestel het nie.  Dit was letterlik ‘n kwessie van dink voor jy ‘n kraan oopmaak.  Van kreatief wees.  Van nuwe dinge uitdink om water te spaar.  Dit maak vir ons weer ‘n nuwe denkwyse oop sodat ons in die toekoms slimmer gaan wees om hierdie situasie te voorkom of ten beste te beheer.  Is dit noodwendig ‘n slegte ding?  Ek dink nie so nie.  Hoe anders gaan ons leer?

Miskien … omdat, in die span van ons lewe, is hierdie een slegte seisoen in ons lewe, en is die belofte steeds daar van voorspoed.  Want ons gaan die volgende seisoen in met die wete dat ons nooit weer dit wat op die aarde vir ons gegee is om te gebruik, as vanselfsprekend sal aanvaar nie.

Miskien omdat die Here steeds vir ons krag en seëninge skenk.  Elke dag.  Ja, soms moet ons dit soek of net weer mooi kyk om dit raak te sien.  Maar dit is daar.  In ons werk, in ons dak oor ons kop, in ons kinders, in ons vriende, in ons kerk, in ons gemeenskap, in die feit dat ons lewe. In onsself (ek dink dit is die moeilikste een, want is die EK nie maar die moeilikste mens om tevrede te stel nie? …)

Hy maak steeds ons voete soos ‘n ribbok. Hy gee vir ons vlerke.  Hy laat ons veilig loop op hoë plekke.

En per slot van rekening is Hy net so ver van ons af as wat ons knieë van die grond af is.

Dalk moet ons ‘n slag die woord nogtans meer gebruik.  Dalk moet ons meer dankbaar wees vir wat ons het en die lesse leer as dit weggeneem word.  En ophou om dinge vir onsself toe te eien en alles as vanselfprekend aanvaar.  En uit ons hoekie van selfbejammering klim en ander help in die stryd.

En leer by die skepping van nogtans.

En nogtans vir die Here dankie sê dat Hy dit nog met ons uithou! Want die vet weet, aan Sy liefde (en geduld met ons) sal daar werklik geen einde wees nie 😉