Archive | November 2012

O Krismis! Is dit alweer daardie tyd?

My gedagtes is nooit baie georden nie, dus moet ek my lewe orden as ek iets gedoen wil hê. Ek lewe dus van lysies af. Ek het honderde lysies en spreadsheets van alles waaraan mens maar kan dink, sodat ek tog niks vergeet nie.

Nou is dit weer daardie tyd van die jaar waar ek sit met die krismis spreadsheet. Wat gaan ek koop vir wie en wat gaan dit kos? En natuurlik moet daar geskenkpapier, ‘n strikkie en ‘n kaartjie bykom. En dan praat ek nie van die blote gedagte aan die gejaag om dit alles te kry midde-in die krismis crazy winkels nie – vir iemand soos ek wat nie eers daarvan hou om shopping te doen nie!

Dan breek Kersdag aan. Ons maak gou geskenke oop, bewonder hulle, berei die kos voor (wat van ‘n baie lang lys op die spreadsheet af gekoop is!), dink heeltyd in die kersdiens dat die skaapboud gaan uitdroog as die dominee nie vinnig maak nie, huis toe gaan, ons trommeldik eet en slaap tot skemerte toe….. En teen nuwejaar is ons net dankbaar dat Kersfees verby is en dat ons nou weer kan aangaan met ons lewe met nuwe voornemens om nie in die nuwe jaar ons brood so dik aan altwee kante te botter nie (nie dat ons meer geld oor het vir botter nie, maar toemaar).

En dit voel elke jaar vir my so verkeerd. Is dit werklik hoe Kersfees moet wees? Vir my om eerstens te sit en bekommer oor hoeveel die kersgeskenke my hierdie jaar uit die sak gaan jaag, en tweedens te onthou: O ja! dit gaan mos oor Jesus se geboorte? Skielik wens ek daar was regtig ‘n Kersvader wat sommer uit die liefde van sy hart vir almal geskenke koop en gaan aflaai. Dan neem dit ten minste meeste van die druk van my skouers af en hoef ek net te bekommer oor die feesmaal ….

Toe lees ek nou die dag die oorsprong van Vader Kersfees, aka Saint Nicholas (daars verskeie variasies, maar ek bly by hierdie een om praktiese redes). Saint Nicholas was ‘n man in die 4de eeu met ‘n oneindige, ongelooflike simpatieke hart vir die armes. Hy was bekend as ‘n wonderwerker, want hy het homself vermom en skelm in die nagte vir die arm mense kos en geld deur hulle vensters gaan gooi. Sommige van die geld het in die proses binne-in skoene en kledingstukke beland (hulle huise was seker net so deurmekaar soos myne …) en die armes het later die gebruik gehad om hulle skoene naby die venster te sit en kouse in die kaggel op te hang in die hoop dat hulle die volgende oggend gaan wakker word en daar kos of geld in die skoene of kouse sou wees. Daar is baie volksvertellings en romantiserings rondom hom en hoe die hele Kersvader storie ontstaan het, en dalk ook nie enigsins waar nie, maar die kern van hierdie storie staan vir my uit:

‘n Mens wat God se roepstem gehoor het en hom ontferm het arm mense, deur skelm vir hulle geskenke in die nag aflewer, en in die proses vir hulle HOOP te bring dat daar Iemand is wat hulle raaksien en na hulle omsien. En hulle al die eer aan God kan gee, omdat hulle nooit die voorreg gehad het om die mens gesien het wat dit gebring het nie, maar weet dat die geskenk uit ‘n Vaderhart gekom het.

Klink dit bekend?

‘n God wat Sy kinders so liefhet, dat Hy Sy seun vir hulle aarde toe stuur, om vir hulle HOOP te gee dat daar Iemand is wat hulle raaksien en na hulle omsien. En hulle al die eer aan God kan gee, omdat nie almal die voorreg gehad het om die mens te sien het wat dit gebring het nie, maar weet dat die geskenk uit ‘n Vaderhart gekom het.

Dit het my laat wonder: Leef ons as christene werklik ooit die WARE betekenis van Kersfees uit? Ja, ons lees die Kersverhaal en ons sing Kersliedere en sê dankie vir God se genade, maar lééf ons dit? Ons kom bymekaar as familie en ruil lekker geskenkies uit onder mekaar binne ons geslote kring, met geen gedagte nie. Ons laat ons kinders uitsien na Kersvader wat net nog speelgoed en lekker dinge bring wat vir ons plesier verskaf. Terwyl daar armes is wat vergeefs hulle verslete skoene en kouse uitsit in die hoop vir ‘n geldstukkie om in hulle daaglikse behoeftes te voorsien.

Ek glo nie dit word van ons verwag om van huis tot huis te gaan, en geld in armes se huis te gooi nie. Nie in vandag se tyd nie, in elkgeval. (Dit mag in ‘n waarskynlike hofsaak opeindig oor poging tot inbraak, veral as jy die venster moet breek om die geskenke in die huis te kry as daar nie ‘n skoorsteen is nie 🙂 )

Maar, ek dink net dat ons moet met ‘n breër visie en sensitiwiteit na daardie spreadsheet kyk van geskenkies wat ons vir mekaar uitdeel wat sommer net lekker is om te kry, teenoor dinge wat ons medemens nodig het as deel van hulle daaglikse brood. Hoeveel keer word daar nie hierdie tyd van die jaar gevra vir ‘n skoenboksie met lekkernye in nie? Vir ‘n stelletjie klere, ‘n teddiebeertjie. Besef ons ooit wat sulke klein, 2de handse geskenkies kan beteken vir ‘n kinderhartjie wat nog nooit ‘n geskenkie ontvang het nie? ‘n Paar ou skoene vir ‘n kaalvoetkind? ‘n Pakkie koekies vir ‘n gesin wat nie eers elke dag brood het om te eet nie?

Ons moet besef dat ons God se hande hier op aarde is – veral nou in hierdie tyd waarin ons lewe! Hy bring die mense in ons teenwoordigheid omdat HY vir hulle wil sorg. Hulle is dan ook Sy kinders! Moenie wegdraai van mense wat iets vir jou vra nie. Jy doen dit nie om mense te beïndruk of om in God se goeie boekies te kom nie.  Jy doen dit, want jy het ge-commit om God se dissipel te wees, en daarom wil jy ook vir Sy kinders sorg. Hy seën jou juis met oorvloed met die gedagte dat jy jou oorvloed deel sonder om jouself tekort te kom. Hy vertrou JOU om sy liefde aan Sy stukkende mense-kinders uit te dra.

My uitdaging vir 2012 is:  Trek bietjie jou “rooi jassie” aan hierdie jaar en wees bietjie Krismisvader. Kyk om jou en maak jou hart oop vir die mense wat in jou teenwoordigheid kom.  Kyk na jou seëninge en deel bietjie daarvan uit, veral as jy weet dat dit jou nie armer gaan maak nie.  Leer vir jou kinders om kersvadertjies te wees deur daardie ou teddiebeer of inkleurboek vir ‘n kind te gee.  Die geskenk wat jy gaan kry daaruit, sal groter wees as enige geskenk op aarde en dit sal iets wees wat geld nooit sal kan koop nie.  Jou Vader sal in liefde op jou neerkyk en wéét dat jy iets besef van Kersfees, omdat jy Hom help om weer hoop in hierdie mense se harte te vestig.

Mag vrede heers hierdie Kersfees en as die wêreld nie op 21 Desember op ‘n einde kom nie, bid ek dat die nuwe jaar ook nuwe vooruitsigte en HOOP sal bring vir jou en ook vir almal wat jy gaan aanraak met jou Kersvader gesindheid!

Om mekaar te kan help

Ek gaan koop nou die dag alleen kruideniersware en toe ek uitstap, besef ek dat as daar een ding is wat ek nooit eers hoef aan te dink nie, is dit die feit dat daar altyd iemand regstaan – nie net om die trollies te bêre nie, maar ook om mense te help om hul trollie kar toe te stoot en die kruideniersware netjies in die kar in te pak.  Dit is amper vir my vanselfsprekend dat daar maar altyd iemand sal regstaan om te help en ek besef dat ek nie altyd dankbaar genoeg is dat dit wel gebeur nie, want dit maak my lewe darem baie makliker!  Elke keer voel ek effens skuldig oor die ou klein fooitjie wat ek gee, terwyl ek ‘n hele kattebak vol kruideniersware het.  En tog is hy dankbaar vir elkeen wat ten minste bereid is om ietsie te gee, want vir hom is dit glad nie vanselfsprekend nie.

Is dit nie hoe dit ook met God se genade en seëninge werk nie?  Ons aanvaar dit so as vanselfsprekend – dit is mos maar daar.  Maar dink ons ooit daaraan dat ons ook ons kant moet bring deur aan ons naaste genade te betoon en ook op daardie manier God se genade vir hulle ‘n werklikheid te maak?

Het jy al ooit vir ‘n bedelaar sommer net op die ingewing van die oomblik ietsie in die hand gestop en dan skielik kyk die bedelaar jou in jou oë en sê met opregtheid vir jou:  “Baie dankie mevrou.  Die Here sal vir jou seën!” ?  En dan voel jy skielik hierdie eienaardige koue rilling oor jou gaan as jy besef dat hierdie bedelaar, in jou oë die laagste tipe mens op aarde, dalk meer verstaan van die seën van die Here en van genade as wat jy self ooit in jou lewe en wandel op aarde sal besef?

En dan besef jy wat daardie rilling was:  Dit was God die Vader wat Sy hand op jou skouer gesit het en gesê het:  “Dit verseker Ek jou my kind:  Vir sover jy dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het jy dit aan My gedoen …….”  (Matt 25:40)

Mag ons werklik ooit ons kop skud en wegdraai ? ……