Archive | Augustus 2014

Aanneemkinders

Toe ek in die hoërskool was het ek ‘n sussie persent gekry. Die plaaslike kinderhuis het nie fasiliteite vir babas gehad nie en dit, tesame met die feit dat my ma altyd graag ‘n derde kind wou hê, het ons die klein rondewang poppie gaan haal om by ons te kom bly. Sommer binne ‘n paar weke het ons een ding geweet: ons wil haar nooit, ooit weer teruggee nie!

Na ‘n paar lange jare van naelbyt, red tape en kinderwette en dinge, kon my ma-hulle na ‘n uitmergelende dag by die kinderhof met haar by die huis aankom as hulle eie dogtertjie en soos die Wet sê: asof sy uit hulle gebore is. Ons het ‘n groot koek gebak en sommer al die kersies wat ons kon kry aangesteek en ballonne opgeblaas en dit behoorlik gevier!

Die penarie natuurlik met so ‘n klein dogtertjie in die huis was dat as ek en my kêrel (nou manlief) in die winkel stap met die klein poppie aan die hand, die mense dadelik met versigtig-vriendelike-vraende nuuskierigheid na ons gekyk het. Soms het ons net stilletjies gelag (ek was maar 18) en ander kere het ons maar verduidelik.

Maar dit was maar altyd bietjie van ‘n innerlike vraagteken in ons gemoed – hoe ver moet mens aan elke persoon wat ons teëkom verklaar dat sy ‘n aangenome kind is? Mens het mos maar ‘n ingebore eerlikheid dat ons voel as ons nie alles verklaar nie, dan is ons nie eerlik nie, maar is dit nodig dat almal weet?

Maar, tog het ons die antwoord gekry.

Om bietjie agtergrond te gee:  Wat besonders is van my sus, is dat sy en my ma presies eenderse kleur oë het.  Ek praat nie van bruin of groen of blou oë nie.  Ek praat van daardie kleur oë wat ‘n grys basis het, maar afhangende van hulle gemoedstoestand of klere wat hulle dra, sal die kleur van die oë wissel van hemelblou tot groen.  Dit is ‘n baie rare verskynsel wat ek nog min gesien het.

So gebeur dit toe dat my ma eendag ‘n vrou ontmoet wat dadelik kommentaar lewer oor die ongelooflike eenderse oë van hulle twee. My ma voel toe dat dit niks anders as reg is nie om maar vir die vrou te noem dat dit eintlik net toevallig is, omdat sy eintlik ‘n aangenome kind is. Waarop die vrou sommer dadelik antwoord:

“Jy hoef nooit verplig te voel om vir iemand te vertel dat jou kind ‘n aangenome kind is nie. Jy moet onthou, toe sy in moederskoot aanmekaar geweef is, was dit gedoen met jou in gedagte, want sy was van die begin af bestem om jou kind te wees. Natuurlik sal daar iets wees wat almal sal laat besef dat sy aan julle behoort.”

Dit het my hele siening verander. Ons het nooit so daaraan gedink nie! En tog maak dit sin, want die Here ken ons dan voor ons nog mens is – Hy weet mos vir wie elke kindjie bestem is! As dit nie in gelaatstrekke is nie, sal dit in persoonlikheid wees, of in gedeelde belangstellings, eenderse sieninge. Kyk maar – daar sal altyd iets wees tussen ‘n aangenome kind en sy/haar ouers wat ooreenstem, wat jou laat besef dat God geweet het wat Hy doen toe hy daardie kindjie gemaak het.

Ek dink vir mense wat nie so gelukkig soos ons is om ‘n mensie persent te kon kry nie, is dit emosioneel baie frustrerend en uitmergelend om te moet wag vir daardie mensie wat vir jou bestem is.

Maar ek dink die troos lê daarin dat so ‘n mensie met ekstra tyd en sorg aanmekaar gesit word, want daardie mensie deel nie in jou bloed en gene nie. Daardie mensie moet ‘n deel van jou hart hê, in jou gedagtes gegraveer word, in wese aan jou vasgemaak word. Daardie mensie sal jy ekstra liefhê, want dit was nie ‘n natuurlike proses wat daardie mensie in jou lewe geplaas het nie, dit was ‘n spesiale voorbedagte en met sorg beplande proses, spesiaal met JOU in gedagte.  En ongelukkig neem hierdie tipe van volmaaktheid langer as wat ons wil hê dit moet.

Maar, daardie dag sal kom wanneer daardie spesiale mensie in jou huis inkom, dan bak jy die grootste koek, steek al die kerse aan en blaas al die balonne op en vier fees!

Want jy het ‘n gratis geskenkie van Bo gekry – nie op die tyd wat jy verwag het nie, maar op die perfekte REGTE tyd!

Hemelkinders

Een van my ma se vriendinne het ‘n dogter wat as baba breinskade opgetel het na ‘n operasie. Sy is nou al meer as 30 jaar oud, maar met die verstand van ‘n 2-jarige kind. Wat my altyd opgeval het , is hoe gemaklik die tannie was oor hierdie kind van haar, ten spyte van al die baie uitdagings. Sy het nooit gekla of moedeloos gelyk nie, nooit simpatie gesoek nie – sy gaan blymoedig haar gang en doen wat nodig is om haar kind gelukkig te hou en die klein dingetjies te geniet. Ek onthou dat dit vir my onverstaanbaar was dat mense met Down sindroom kindertjies, of kindertjies met verstandelike gestremdhede net normaal kan voortgaan terwyl hulle elke dag ‘n berg uitdagings het en in hierdie kindjie se oë moet kyk wat nooit met enige vorm van intelligente herkenning sal terugkyk nie.

Maar, alhoewel ek nie in daardie situasie is nie, het ek dit tog in ‘n ander lig begin sien.

Toe ons vriende onlangs hulle dogtertjie gedoop het, het sy dit so geniet dat sy sommer ewe prettig haar handjie in die water gesit het en haar mamma en pappa ook gedoop het. Skielik het ek in my geestesoog gesien hoe Jesus die kindertjies geniet het en hulle genooi het om op Sy skoot kom sit. Ek sien hoe Hy sy beskermende arms om hulle sit en sommer kwaai vir die mense gesê het dat hulle nie die kinders mag wegjaag nie, want dis juis dié wat soos hulle is wat die Koninkryk gaan beërwe.

Dit is wat my toe laat dink het oor hierdie spesiale hemelkindertjies wat aan sommige ouers toevertrou is. En soms wonder ek of die ouers van hierdie kindertjies al ooit daaraan gedink het dat hulle regte engele huisves wat reeds ‘n kykie op die Konkinkryk het? Jesus se belofte is dat Hy elke liewe kind op Sy skoot sal hou en sal beskerm van die bose totdat daardie kind oud genoeg is om keuses uit te oefen oor hulle lewenspad. Dan eers, wanneer die kind besluit om God aan te neem as Sy saligmaker (of nie), sal daardie kind van Jesus se skoot afklim en sy eie paadjie stap.

Maar, hierdie altyd laggende, geheel onskuldige gesiggie-kindertjies sal nooit van Jesus se skoot hoef af te klim nie, want kinders soos hulle sal nooit besluite kan neem oor hulle lewe nie. Hulle het nie kennis van goed en kwaad nie, kan nie ‘n keuse uitoefen tussen lig en duisternis nie. Die bose kan hulle nie aanraak nie, want hulle word hulle lewe lank geheel en volkome beskerm deur Jesus. Die aarde is vir hulle bloot ‘n speelgrond, maar hulle gees en gedagtes is daar waar ons hulle nie kan bereik nie, daar waar hulle op Jesus se skoot sit. Ek wonder soms of hulle in hulle algehele onskuld dalk in hulle gees wysheid huisves bo ons begrip, dat hulle gedagtes ver verhewe is bo ons s’n, want ons sien hulle met ons aardse oë. Hulle sien ons met Jesus se oë.

Want God maak nie onvolmaakte mense nie. Die liggaam is bloot die stoflike spasie waarin ons gees gehuisves word is. En wie weet of hierdie kinders nie eintlik die volmaakte koninkrykskinders van God is wat oor ons waak nie, terwyl ons dink dis andersom?

Geen wonder Jesus sê ons is geseënd as ons lewens nie volgens ons plan verloop nie, want dis juis daar in dit wat ons as die grootste uitdagtings sien, waar die Koninkryk vir ons ‘n werklikheid word!

Om ‘n Jintelmens te wees

Ek kan nie in die woordeboek die regte Afrikaanse vertaling vir ‘n “gentleman” kry nie. Veral daardie deel wat die “gentle” beskryf nie – wat die hoflikheid uitbeeld van ‘n regte gentleman nie. My woordeboek reken dit is ‘n jintelman.  Dit beteken straks nog minder omdat ek nie ‘n verklaring van ‘n jintel kan kry nie, maar vir praktiese doeleindes gebruik ek maar die woord omdat dit Afrikaans is.

Ek is een van die mense wat elke liewe werksdag in ‘n bus klim en vir ‘n 45 minute rit trakteer word op die mooiste deel van ons stad Kaapstad wat berg, vlei, see en wolkekomberse betref, en vanmiddag weer dieselfde pad terugry en uitsien om by die huis uit te kom na ‘n volle dag se werk. Ek ry in spitstyd, dus klim al wat leef en beef in die bus en die wat nie sitplek kry nie, hang vir al wat hulle werd is aan waar ookal hulle kan vashou, want in wil hulle in, ongeag van die feit dat daar oor 6 minute weer ‘n bus sal wees.

Wat ek egter oplet tussen al die gedruk en mensemassas, is dat elke keer wanneer ek in die bus is, het die meerdherheid van die mense ‘n hoflikheid wat vir my verstommend is. Daar is die jong swart studenteseun wat onmiddellik sal opspring vir ‘n vrou om te sit (al was daardie vrou laaste in die bus en kon sy vir die volgende bus gewag het). Daar is die man wat ‘n vrou langs hom sien staan, en opstaan sodat sy kan sit. Daar is die skoolkinders wat weier om te sit as hulle sien iemand staan. Daar is die ma wat haar groot kind op haar skoot sal laat sit sodat iemand wat staan, langs haar kan sit. Daar is iemand wat my op die skouer kom klop en uitnooi om te gaan sit as ek nie gesien het daar gaan ‘n sitplek oop nie en dit terwyl daar nog heelwat mense staan en nie op die sitplek gaan sit het nie.

Te midde van ons wêreld van negatiwiteit en onbeskofte mense, kan ek nie anders as om te besef dat daar nog baie positiewe dinge is wat gebeur nie. Niemand dwing hierdie mense om hulle sitplekke op te gee nie (behalwe as hulle in ‘n plek sit vir mense met gebreke). Daar is tog aangeleerde en/of ingebore hoflikheid in die gemiddelde mens en selfs jongmens. En ek wil beklemtoon dat ek glad nie net hier praat van mense van my nasie, volk en taal nie. Ek praat van verskillende kulture, volke, tale en ouderdomme. Ek praat van soveel pragtige mense van elke stand van die lewe wat my vriendelik sal groet as hulle langs my inklim in die bus. Selfs in die verbygaan op pad bus toe.  Mense wat met my glimlag omdat ons mekaar elke dag op dieselfde tyd en op dieselfde plek sien.

Ons moet regtig ophou om mense te oordeel aan wie ons dink hulle is en kosbare oomblikke soos hierdie troetel en besef dat daar in elke persoon ‘n jintelman is. Dit is nie so raar soos ons dink nie – ons moet net weer ons koppe oplig van ons selfone af en om ons kyk. Jy sal verbaas wees oor wat jy dalk raaksien.

So, geniet die jintelmense wat oor jou pad kom, en moet nooit ophou om vir ‘n ander mens ook ‘n jintelmens te wees nie, want jy sal nooit weet hoeveel dit vir daardie persoon op daardie oomblik beteken nie!