Archive | Januarie 2015

Oor ‘n vis wat nie boomklim nie en ‘n vriendin

Everybody is a genius. But if you judge a fish by its ability to climb a tree, it will live its whole life believing that it is stupid.

Is dit nie ongelooflik hoe lief mense is om ander te oordeel aan hulle eie standaarde en dit wat hulle dink perfek is nie? Dit is so maklik om jou eie prentjie te skep van wat in ‘n ander persoon se lewe aangaan, sonder dat jy ooit eers naastenby die feite ken. Niemand van ons weet tog ooit wat in ander mense se huise aangaan en wat hulle daaglikse uitdagings en wroegings is nie. Tog is dit maklik vir ons sommer te besluit dat die lewe wat hulle lei nie reg is nie en dat as hulle dinge anders doen, gaan hulle die lewe vir hulleself baie makliker maak.   En ek wil amper soos my 9-jarige sê: ‘Seriously???’

Eleanor Rooseveld het gesê:  “Do what you feel in your heart is right – you will be criticised for it anyway

Ek leef by hierdie filosofie, want as ek my leefstyl moet aanpas volgens ander mense se idees oor hoe my lewe moet lyk, sal die lewe allesbehalwe makliker vir my wees ….

Tog maak dit seer. Dit sal vir my nooit lekker wees as mense ons weeg en te lig bevind, net omdat ons lewenswyse dalk anders is as hulle s’n nie. Omdat ons doen wat ons in ons hart voel reg is vir ons en ons kinders, maar dit nie strook met hulle idilliese idees van hoe ons ons lewens moet lei nie. Aan die einde van die dag moet die fondament van onvoorwaardelike liefde tog steeds alles oorwin, nie waar nie?

Maar, gelukkig het ek ‘n vriendin wat my weer laat glo in die mensdom. Waar ek een dag sit met hierdie tameletjie van visse wat nie boomklim nie, stap ek die volgende dag by haar huis in en sy gryp my kinders teen haar vas dat hulle nekkies kraak, komplimenteer hulle oor die kleinste dingetjies, en hulle blom oor haar opregte belangstelling.   Sy kyk met begrip verby alles wat dalk skeef lyk na die hart van die mens wat voor haar staan. Sy laat my vissies glo dat hulle kan boomklim as dit hulle droom is en sy is lief vir hulle presies nes hulle is, al het sy haar eie kinders. In haar huis steek sy al wat ‘n kind is aan die werk om te help kosmaak, sy duld nie lyfwegsteek nie en hulle kry gereeld raas as hulle nie hulle borde gaan bêre nie. Maar hulle is ongelooflik lief vir haar, want sy kritiseer hulle nooit, ooit nie. Sy laat hulle nooit voel asof alles wat hulle doen verkeerd is nie. Sy laat hulle nooit minderwaardig voel nie. Sy vergelyk hulle nie met ander nie. Sy behandel elkeen met wie sy in aanraking kom, volwassene of kind, as ‘n unieke mens met die respek wat daardie mens verdien. Onvoorwaardelik. Hoe sy dit so goed regkry, weet ek nie. Maar ek weet een ding, haar waarde is ver bo korale en ek ag myself gelukkig om een van die mense in haar liefdeskring te wees!

Ek het een ding besef: as jy ander mense oordeel volgens wat jy dink is reg, beteken dit jy fokus net op dit wat in jou oë verkeerd is. Jy sal in ‘n miljoen jaar nooit die hart sien van die mens wat binne daardie prentjie sit nie. Jy sal nooit ‘n band van liefde met daardie mens kweek nie, want jy klou vas aan jou eie skanse van voorwaardelikheid, omdat jy nie bereid is om lief te wees ondanks alles en ten spyte van nie. En dit, my liewe mens, is jou verlies.

Een van die baie dinge wat ek by my vriendin geleer het, is dat almal in hulle harte eenders is. Almal wil net daardie bietjie erkenning hê, bietjie opregte belangstelling en voel dat hulle aanvaar word. En ek sal dit my lewenstaak maak om anders na mense te kyk en hulle net lief te hê, want ek weet nie regtig wat in hulle huise en lewens aangaan nie, maar ek kan dalk net die sonskyn bring wat hulle vandag nodig het!

Advertisements

Op ‘n nuwe jaar!

Ek besef dat ek lanklaas iets geskryf het. En dit pla my effens dat ek niks het om oor te skryf nie – asof daar niks is wat my inspireer nie. En nou wonder ek skielik of ek in my middeljare ingaan en anders na die lewe om my begin kyk.

Maar nee, dit is nie dit nie. As ek terugdink, was 2014 vir my ‘n anderster jaar. Met die leemte wat my pa se dood in ons lewe gelaat het, is dit asof my hele lewe van voor af moes aanpas by hierdie skielike gaping van ‘n gebroke sirkel. Dit is asof my aarde stadiger gedraai het en ek eers vir ‘n rukkie afgeklim het net om te kan sien waarheen my gedagtes met my gaan. Selfverwyt omdat ons so min gesels het, hartseer omdat ek nie weer sy stem sal hoor nie. Ons het al die eerstes beleef. Die eerste Kersfees sonder hom, sy verjaarsdag, vadersdag, die “laasjaar hierdie tyd” se herinneringe toe ek hulle verras het met ‘n langnaweek se kuier, die eerste herdenking van sy dood. Ek het besef dat mense verkeerd is as hulle praat dat mens “oor” die dood van iemand kom. Mens kom nie “oor” die dood van iemand naby aan jou nie. Mens moet aanpas aan by die nuwe leemte wat daar in jou lewe is. Jy kry later vertroosting in herinneringe, maar mis dit altyd om met daardie persoon te kan gesels.

En voor ek my oë kon uitvee, was ‘n jaar verby en tog was my gemoed beter en effe ligter omdat al die eerstes verby is en nou gaan dit mos sommer baie beter gaan? Verkeerd. Daar sit ek toe Kersdag in die hartjie van ‘n warm Karoo in ‘n stil, koel kerk. Met ‘n orrel wat speel en elke pragtige kerslied word gesing. En daar trek my keel toe en die trane loop. Arme manlief moes later vir my gaan toiletpapier haal, want niemand het verwag dat ek so sou sit en grens dat die vlaktes antwoord gee nie. En die tannie voor my het net so gesit en huil, wat dit nog moeiliker gemaak het vir my, want toe huil ek sommer ook uit simpatie vir haar! Manlief het nogal oorweeg om haar tissues te steel toe sy opstaan en dit op die bank bly lê, maar het gelukkig daarteen besluit, want mens kan nie lag én huil in die kerk nie!

Maar ek moet sê, ek was eintlik verbaas dat die koue arms van eensaamheid sonder my pa my so skielik omvou het. Ons het mos al ‘n eerste Kersdag sonder hom gevier? Maar eintlik het ek besef dat daardie eerste Kersdag was twee maande na sy dood. Toe was ons nog verslae, my ma, broer en suster was by ons en ons het mekaar in ‘n kokonnetjie vertroos en lekker saam gekuier met honderde dinge om ons aandag af te lei, amper te bang om emosioneel te raak.

Maar toe dit nou weer Kerstyd word, was dit anders. Ons eie familie was nie weer bymekaar nie en in die stilte van die Karoo, was my siel skielik ontbloot en het al die emosies goed huis skoongemaak. Dit was ‘n goeie ondervinding, maar het my leeg gelaat na soveel intense emosie.

Ek is nog effe in die na-skok van daardie ondervinding, maar 2015 het wonderlike moontlikhede om ‘n goeie jaar te wees. Ek weet darem uit ondervinding dat sulke intense emosie gewoonlik ‘n hupstoot is vir goeie emosionele groei en dit gee my selfvetroue dat ek nuwe uitdagings nou weer met albei hande sal kan aangryp en die beste van alles kan maak wat my kant toe kom!

Mag dit vir almal ‘n goeie jaar wees!