Archive | Augustus 2016

Kitspap-oplossings

Ons kerk beplan ‘n oggendtee en dit is vir my so lekker om weer ‘n slag kreatief te dink en te beplan hoe ek my tafel gaan mooimaak.  Arme manlief luister  maar net kopskuddend na my honderde  idees, want dit wat vir my naastenby prakties klink, moet hy maak werk.   Toe hy uiteindelik deur al hierdie dinge vir my vra of ek ooit al daaraan gedink het dat die mense aan my tafel sekerlik moet eet ook, was dit nie eers ‘n problem nie.  Ek gaan sommer klaargemaakte tertdoppies en daardie reeds-aangemaakte koekmengsels kry en hier en daar ‘n ietsietjie by die winkels en dan is ons uitgesorteer!

Sommer ‘n lekker kitsoplossing.  Darem kan die mense dan my keurige teetafel bewonder terwyl hulle kitsoplossing-kos eet.

Dit laat my toe sommer dink.  Is dit nie die lekkerste lewe wat ons as bevoorregtes lewe nie, selfs al kla ons so baie?  Vir alles is daar ‘n kitsoplossing.  As jy brood en melk moet koop, betaal jy sommer met jou kaart.  As jy nie lus het vir winkels nie, kan jy aanlyn bestel en dan kom lewer hulle af.  As ons lig wil hê, druk ons ‘n skakelaar.  As ons Pick n Pay toe moet gaan, vat ons die kar,  al is dit 8 minute se stap van die huis af.  Dis so vanselfsprekend en so …. maklik.

Ons mooiste stories word in flieks omgesit sodat ons nie deur ‘n boek hoef te worstel vir dae aaneen en ons verbeelding te vermoei nie.  Nou hoef ons net vir 2 ure stil te sit om ‘n opgesomde weergawe van die boek op die skerm te kyk,  uitgebeeld deur iemand anders  se interpretasie van die storie.  Met popcorn op die koop toe.

Geen wonder dit voel of ons lewe so vinnig en gejaagd word nie.  Alles is op ons vingerpunte.  Ons kry baie meer gedoen.  En hoe meer ons gedoen kry, hoe meer kapasiteit het ons om nog meer te doen.  En hoe meer ons gedoen kry, hoe meer is daar om te doen.

So eintlik ervaar ons dat die lewe makliker word, maar inderwaarheid word die lewe moeiliker, want ons doen so baie dat die tyd al hoe minder raak.  Terwyl ons liggaam en intellek groot hoogtes bereik en deurbrake maak, raak ons siel al hoe meer verhonger.  Ons sien nie meer ander se swaarkry nie.  Ons raak nie meer betrokke by ‘n goeie saak en doen moeite nie, want ons het nie meer tyd nie.  Die gevolg is dat ons al hoe meer onrustig jaag na die volgende kitsoplossing om tog net ons lewe makliker te maak sodat ons onsself kan vertel dat ons gelukkig is.  En laai ons liewer meer spanning op ons skouers terwyl ons reeds so swaar dra aan alles wat nog gedoen moet word.

Wat ons vergeet, is dat tyd nog presies is soos wat dit miljoene jare gelede was toe dit geskep is.  ‘n Minuut was en is nog steeds 60 tellings lank.  ‘n Uur 60 minute.  Niks het ooit verander aan tyd nie.  Ons aarde wentel steeds rustig om haar eie as vir 24 uur lank, en pak haar reis om die son aan vir 365 en ‘n kwart dae.  Sonder steurnis, sonder om dit vinniger gedoen te kry.  Dis net die mensdom wie se persepsie van tyd verander.

En as mens mooi daaroor dink, help dit nie ons probeer ons lewe makliker en meer effektief maak sodat ons alles vinniger kan doen nie, want soos alles op sy tyd gebeur, gebeur alles in ons lewe ook op sy tyd.  Alles wat ons ken, kan verander in ‘n oogwink, of eers oor 50 jaar.

Met alles wat ‘n kitsoplossing op ons vingerpunte is, verleer ons om tyd te neem om te lééf, te beleef, te ervaar – die beste wat die Skepping en die tyd ons bied!  Wat is lekkerder as om die wêreld uit te skakel om rustig ‘n goeie boek te sit en lees?  Wat is lekkerder as om met ‘n koppie tee in die son te gaan sit en net te kyk hoe die son deur die blare skyn, die voëltjies kwetterend jubel oor die dag?  Die wind te hoor suis.  Die branders te sien breek?  Sonder om haastig te moet dink waarheen ek volgende moet gaan.

Ek het hierdie jaar besluit om myself te verryk met ‘n kursus of twee en tot stilstand te kom.  Selfs my Kindle lê effe wees in my handsak, want ek lees weer boeke.  Lywige boeke.  Hulle maak my drasak  swaar, maar stimuleer my siel.  Ek kyk weer rond, ek bewonder die prag van die skepping.  Ek glimlag met mense.  Ek asem vars lug in.  Ek kleur in.  Ek leer.  En skielik het ek meer tyd vir sommer-net-nietighede soos tyd spandeer aan die kleinste detail vir ‘n teetafel – goedjies wat net so weggegooi gaan word as die tee verby is.

Ek wil wel noem dat die kitsoplossing vir my kostafel darem nie so blatant is soos ek dit laat klink nie, want ons werk almal saam en omdat ek voltyds werk kan ek ongelukkig nie na hartelus bak en brou nie.  Maar om skielik die voorreg van tyd te hê om kreatief te wees, is soos om iets van myself wat gevange gehou is, vry te laat om weer te ontdek.  En ek het nie nodig gehad om enige iets in my lewe te verander of iets in te boet nie!

Daar is ‘n oer-oue lekkerte aan betrokke raak by iets, ‘n mens, ‘n saak.  Om ‘n konstruktiewe iets te kry om te doen, en veral om tyd te spandeer daarop.  Jou siel en wese daarin te sit met die oog om dit vir daardie persoon of daardie geleentheid spesiaal te maak.

En sodra die siel gevoed is, lyk alles in die wêreld dan sommer eksie-perfeksie, selfs al het niks van my uitdagings beter geword of enige van my probleme weggegaan nie!

DIT is mos die lewe!