Archive | April 2016

Die sage van die selfoon

So sit hierdie moederhen met ‘n krisis.

Skaars het ek gewoond geraak dat my ou kuikentjie op die wyse ouderdom van 10 self skool toe en terugjaag met sy rooi fiets (en sy eie rekord probeer breek van hoe vinnig hy dit kan doen), nou is sy selfoon gesteel waarmee hy ons moet laat weet as enige iets met hom of sy fiets gebeur tussen die huis en die skool.

En ek is sommer moedeloos.  Hierdie kind mag aandagafleibaar wees en sukkel met organisasievermoë en alles wat daarmee gepaard gaan, maar een ding kan ek van hom sê:  hy pas sy goed op.  Hy het nog nooit iets sommer net verloor, gebreek of laat wegraak nie.  Elke oggend was die selfoon diep in die voorste sak van die skooltas gebêre en elke middag is dit weer daar uitgehaal om te laai sodra hy by die huis kom.  Vir meer as ‘n jaar gaan dit nou al so sonder enige probleme.  Tot op daardie een dag toe iemand anders in sy sak loop grawe het terwyl hy sport doen.

Ek is nie hartseer oor die foon nie, want mens sal dom wees om ‘n foon met enige waarde skool toe te stuur, maar ek is tog hartseer dat hy op die harde manier moes leer dat mens se goed kan wegraak of jy dit oppas of nie.

En boonop is ek benoud.  Wat as iets  met hom gebeur en hy kan ons nie kontak nie?

Maar, amper dadelik besef ek dat beste selfoon eintlik maar steeds die een is wat nooit gesteel kan raak nie – die een van gebed en vertroue.  Ek hoef dit nie te herlaai nie, niemand kan dit van my steel nie, en dit werk!  Ek is al lankal in die gewoonte om, sodra ek aan my man en kinders dink, te bid vir hulle veiligheid en dat dit ‘n goeie dag vir hulle sal wees.

So, die dag waarop die selfoontjie gesteel is, was ‘n goeie dag.  Want my kind was steeds veilig.  En so ook sy geliefde rooi fiets wat sy pappa met baie liefde opgebou het en spesiaal vir hom Ferrari rooi gesprei het.  Dit wat van hom weggeneem was, het geen waarde in vergelyking met alles waarvoor ons steeds dankbaar is nie.  Dit kon anders gewees het.

Dan skud ek maar net my kop vir myself.  Hoe gebeur dit dat ons so afhanklik raak van ‘n aardse ding?  Dit soos om ‘n kruk te gebruik as jou been nie seer is nie en dan te huil as iemand dit wegvat.

 

So, les geleer, en nou gaan die lewe aan.  Sonder selfoon is meneer nie te gelukkig nie, maar hy kon darem terugval op ‘n ou selfoontjie wat net kan sms en bel as daar ‘n krisis is.  Nou kan hy nie meer speletjies speel en Minecraft videos kyk nie, en ontdek hy weer ‘n ander lewe buite die skerm van die selfoon.

So, met alles wat gebeur, is daar altyd iets goed wat daaruit kom.  En altyd hope om voor dankbaar te wees!

Advertisements

Die misterie van die pakkie op die Karoovlakte

 

3_S2R2629Dis nou nie dat ek ligsinnig raak nie, maar ek begin voel dat dit dalk goed is om sekere gebeure te dokumenteer vir die nageslag.  Net vir ingeval die nageslag soms wonder ….

Nou ja, as iemand ooit gewonder het oor ‘n vreemde pakkie in die middel van niks en nêrens op ‘n vaal Karoovlakte, gee ek graag die oplossing daarvoor.  Maar wees gewaarsku, dis ‘n k@kkerige storie, so as jy weghardloop van die liggaamsgebeurlikhede van babas (soos die pappa en sussie in hierdie verhaal), wil jy dalk nie verder lees nie ….

Boeta was 7 maande oud.  As gevolg van laktose intolleransie (wat ons eers na die tyd uitgevind het), was die magie onvoorspelbaar…

So trek ons sak en pak op Kimberley toe om vir meneertjie te laat doop daar waar ons familie en vriende agtergebly het toe ons destyds Kaap toe getrek het.  Die pad terug Kaap toe, was op ‘n stil, loom Sondagmiddag.  Ons was hartseer om ons familie agter te laat en die pad het sommer warm, lank en droewig gevoel nog voordat ons oor die eerste bult was.  Sussie sit voor by haar pappa, half aan die slaap, en ek slaap sommer lekker diep agter by Boeta met my kop teen sy karstoeltjie, moeg gekuier.

So in my slaapbenewelde toestand raak ek op ‘n stadium bewus van ‘n klein handjie wat so uit sy karstoeltjie met my gesig speel.  Ek steur my nie te veel daaraan nie, want sodra ek reageer, wil hy speel.  Maar so stadig maar seker dring iets tot my deur ….

Hierdie handjie wat oor my gesig streel, is … wel .. nie droog nie!

Nog voor ek kon reageer, begin die sitters van die voorste gestoeltes snuf in die neus kry. Manlief gee een kyk in die truspieël na my en die volgende oomblik is dit soos ‘n aksiefliek wat afspeel  ….

Jy sien net ‘n kar wat skielik woes brieke aanslaan dat die bande fluit en sommer so skuinsweg met ‘n spoed by ‘n verlate plaaspad injaag en in ‘n magtige stofwolk tot stilstand kom.  Voor die kar behoorlik stilstaan, gaan twee deure gelyktydig oop.  Sonder om eers die kar af te skakel, vlieg die twee insittendes soos vet uit in verskillende rigtings – sussie suidwaarts waar sy omtrent ‘n kilometer verder tot stilstand kom.  Manlief lê die rieme neer noordwaarts agter die stofwolk in.  Boeta is so opgewonde dat die kar tot stilstand gekom het, hy maak sommer nog ‘n poep net daar waar die doek nou al ‘n lekker gaping gemaak het.

En hier sit ek,  beteuterd,  en wonder hoe de duiwel gaan ek hierdie spul skoonkry?  Want ek was die laaste voorwerp wat hy geverf het toe hy eers daai gaping in die doek ontdek het ……

Ewenwel.  Na twee pakke wetwipes om die kind, die karstoel, die ruit, die deur se binnekant en vir myself skoon te kry, het die enigste waardigheid wat ek nog kon oorhou in die stof in verdwyn toe ek besef het dat die Kaap nog 8 ure ver is!  En Boeta handjies-klap net, want hy besef dat hierdie mamma glad nie baie vriendelik lyk nie.

En pappa en sussie?  Wel hulle het ‘n halfuur later skoorvoetend weer (effe wit om die kiewe) gesig gewys …

… en al wat agtergebly het om sy eie storie te vertel, is ‘n misterieuse wit inkopiesak in ‘n verlate plaaspad, op ‘n kaal verlate Karoovlakte ….  ‘n sak met ‘n vuil doek, ‘n waslap, 2 pakke se vuil wetwipes  en ‘n babygrow wat vir ‘n 7 maande oue baba sal pas daarin …. en amper ‘n pappa en ‘n sussie ook net om nog meer misterie aan die sakie te gee  ….

Ons het altyd gewonder wat mense gaan dink oor daardie pakkie, maar die vet weet, ons kon dit nie vervoer tot by die volgende dorp wat eers 200km verder was nie!

 

My kind, my hart

Mens se kinders is jou kosbaarste besitting.  Dit is nou ‘n feit soos ‘n koei.20150328_184827

Iemand het eendag vir my gesê dat sy baie lief is vir haar kinders, maar haar seun is maar net haar hart.  Ek het haar baie snaaks aangekyk omdat dit vir my geklink het dat sy haar seun liewer het as haar meisiekinders.  Tot ek natuurlik ook ‘n seun gekry het.  Dit is ongelooflik hoe eenders en ook hoe anders mens jou kinders liefhet.  Jy sal nooit kan kies wie jy die meeste liefhet nie, want jy het elkeen ewe lief op ‘n unieke manier.   Een sal jou hart wees, waar die ander een weer jou geesgenoot sal wees, of wat ookal.  Hulle is net eenvoudig ‘n samestelling van die beste in jul menswees en elkeen het ‘n unieke plek in jou lewe wat nooit gevul sal word deur enige iemand anders nie.

Hoekom ek so liries raak oor hierdie saak is omdat my seunskind (nou ‘n baie wyse 10 jaar oud), om elke hoek en draai my deesdae probeer vasvang oor wie ek die liefste het – hom of sy sussie.  Sussie is 6 jaar ouer, ‘n pragtige, emosioneel volwasse, sterk akademiese meisiekind – ons trots – ‘n kind oor wie enige ouer maar net kan droom, maar soms ook maar effe stief met hom weens die ouderdomsverskil, so dat hy soms spelenderwys vir my vra of ons haar nie maar kan verkoop vir R30 nie. Dit is dus nie vir hom moontlik om te dink dat ek vir haar ook kan lief wees nie.  🙂

En  nou loop ek en hy boonop skool toe, so hy het baie tyd om my uit te daag oor allerhande lewenskwessies tot ons by die skool kom.  En glo my, hy put baie genot daaruit om te sien hoe ek moet dink om alles mooi en versigtig in woorde om te sit!  Want glo my, elke woord word opgevang en teen my gebruik as ek nie versigtig is nie!

Ander oggend wil hy toe nou eers weer weet wie ek die liefste op aarde het.  Maar dit mag net een persoon wees, behalwe natuurlik Liewe Jesus, want mens moet Hom “obviously” liewer hê as ander mense.

Ek probeer toe maar my beste om te verduidelik dat ek vir almal op ‘n unieke manier liefhet.  Soos byvoorbeeld my kinders, sy pappa, ons familie en vriende. Ek kan nie sê ek het een persoon liewer as die ander nie.  Of vir enige een liewer as vir hom nie.

Dit bring hom toe op die volgende vraag.  Is ek so lief vir pappa dat as hy doodgaan, sal ek ook doodgaan van hartseer?  Want hy het eendag gehoor dat dit al gebeur het dat wanneer ‘n man doodgaan, sy vrou haar doodtreur omdat sy nie sonder hom kan lewe nie.

Ek verduidelik toe vir hom dat dit seker wel so kan wees, maar as mens kinders het, dink ek is dit dalk anders.  As mens kinders het en jou man sterf, is jou kinders die grootste rede waarom jy nog wil aangaan en lewe.  Ek dink hulle word jou hartklop as jou hart wil gaan staan van hartseer.

Toe ek dit sê, gaan staan hy doodstil en kyk my peinsend-grootoog aan en sê:

“That is the most precious thing anybody has ever explained to me!”

Toe weet ek:  hierdie kind is beslis my hart!

Ouma, die legende (‘n lekker herinnering)

Bolla1Kyk, dit is nou maar so dat ‘n ouma seker die grootste rol in die bewaring van jou kinders se lewens speel.  As daar nou ‘n moederhen is wat heeldag met ‘n kommerfrons op haar voorkop loop oor haar kuikens wat iets kan oorkom, is dit sy.  Sy sal eiehandig berge versit om haar kleinkinders veilig te hou.  Of halfpad verdrink … soos in hierdie storie.

So gebeur dit dat hulle ‘n klompie jare terug vir ons kom kuier.  Dis nou my ouers en my sus wat toe 16 jaar oud was.  Ons meisiekind was ‘n hele wyse 3 jaar oud. Ek en manlief moes nog werk en ouma kou toe al haar naels deur omdat daar ‘n swembad en ‘n 3-jarige in een erf is.

So besluit my sus en Bollabeertjie hulle gaan nou swem.  Maar moenie dink ‘n 16-jarige word vertrou met ‘n 3 jarige se lewe nie, so ouma is soos ‘n hommelby heeltyd by die venster om te loer om seker te maak dat haar kleinkind nie verdrink nie.

En toe speel hulle ‘n speletjie ….

Bollabeer staan doodstil op die enkeldiepte muurtjie in die swembad en kyk vir my sus wat onder die water ingaan en allerhande snaakse goed doen.  Sus is naby en hou haar dop van onder die water.

Dis egter toe nou net op daardie onder-water oomblik wat ouma vir die honderste keer by die venster uitkyk, en al wat sy gewaar is Bollabeertjie wat stoksiel-salig-alleen op die muurtjie in die swembad staan.

En dis net daar waar ouma se hoender-instink inskop:  sy skrik haar vere skoon opdraende en vlieg met arendsvlerke by die huis uit, klere en al, binne-in die diepkant van die swembad in – nie eers naby waar Bollabeer staan nie.

Dit alles nog voordat sus kon opkom vir asem.

Jy kan jou indink wat alles deur Sus se kop gegaan het toe sy opkom vir asem en ouma staan so ewe langs haar in die swembad met al haar klere aan en skel so dat die voëls verskrik uit die boom uit in die mure in vasvlieg.

En die drenkeling?  Baie verontwaardig dat ouma hulle speletjie kom breek!   En watwou uit die swembad uitklim – ons speel!

Op die einde moes sus (al laggende) vir ouma (al skellende), uit die diep waters red.  Selfs oupa moes deurloop, want die petalje wat hy moes aanskou toe hy om die hoek van die huis kom, het hom ook al sy waardigheid laat verloor en te lekker laat lag.

Ai Ouma – ons ewige hero.  Sy bly ‘n legende.

Die maanmuur

20160331_161908

Daar êrens in ‘n bos is ‘n muur in die sand

Met ‘n volmaan hier en ‘n wêreld anderkant

My siel sien ‘n gaping tussen more en nou

As ek waag om oor te tree, as ek sou wou …

 

Wat sal ek sien as ek waagmoedig sou wees?

Sal ek jou gedagtes in die sterre kan lees?

Sal die son in jou lag sy eie weg baan?

‘n Reënboog blink soos ‘n juweel in jou traan?

 

Ek kyk in ‘n spieel en die beeld bly dof

Trane word riviere, die liggaam word stof

Maar anderkant die muur, is ‘n nuwe begin

Word alles helder, maak alles dan sin

 

Tot tyd en wyl is my plek steeds hier

Waar my menswees versigtig-blymoedig die lewe vier

Maar waag en wen – vorentoe reis, dis gewis

Na eendag, na êrens waar jy nou is.

 

Want, jou siel skyn deur die blare, my hart kan dit lees,

Leef die lewe voluit my kind,

….   maar soms moet ons ook waagmoedig wees!

(vir my pa wat vandag sy verjaarsdag in die hemel vier)