Archive | Julie 2015

Wortels van die siel

20150221_104308Ek werk in die hartjie van Kaapstad en loop sommige middagetes uit om my litte los te maak by die naaste gym.  So ‘n jaar of wat gelede merk ek ‘n mamma en pappa-eend met nie minder nie as 4 pofgeel baba-eendjies wat snaterend agter hulle ouers aanstap op die eiland van Adderleystraat.  As hulle besluit om die pad te kruis, kom Kaapstad tot stilstand om hulle veilig oor te laat, maar omdat die hele lengte van die eiland ‘n grag het met water in, het hulle besluit om die eiland hul tuiste te maak en het mens hulle elke dag daar gesien.  Natuurlik is dit nie die beste plek vir mamma en pappa-eend om hulle kroos groot te maak nie en neem ek aan het die eend-bewaarders hulle (op meer as een geleentheid) probeer lei na groener weivelde.  Maar, as ek weer sien, is die gesinnetjie na ‘n paar dae maar net weer terug op die eiland, en so gelukkig soos net eendjies in die water kan wees.  Daar is baie mense wat middagetes in die loom sonnetjie van ‘n perfekte Kaapse dag buite op die sitplekke onder die bome sit en hulle broodkrummels met die eende deel, en hulle het seker gedink dit is nou wat hemel op aarde beteken.  Ek loop hulle nou nog gereeld raak, maar die kinders is natuurlik uit die huis uit en sien ek nie meer die gesinnetjie saam nie.  Vanoggend loop ek vir eend-se-kind raak wat sommer nou al ‘n groot man is en op sy eie by die Artscape die wêreld verken en sommer snaterend met die mense raas as hulle te na aan hom verbyskuur (want glo my, ons is nie bang vir mense nie!).

Toe wonder ek:  wat is dit wat maak dat eend-se-kind gaan wortel skiet in die warboel van ‘n raserige stad met glas en beton, bittermin gras en water, met mense wat in ‘n dolle gejaag verby hulle loop en hulle dalk nie eers raaksien nie, behalwe die paar mense wat soggens vir hulle ‘n groot bak met pap daar neersit?  Ek meen, daar is Kirstenbosch waar die eende die natuur en vryheid het sonder perke.  Daar is selfs die Mount Nelson hotel waar mense nog dink hulle swem lekker en dan pop daar ‘n eend of vyf langs hulle in die swembad op.  Wat maak dat ‘n spesie wat ‘n hart, verstand en instink het, homself inwortel in ‘n omgewing wat alles behalwe rég is vir hom?

Toe ons jare gelede Kaap toe getrek het, het ek nooit kon dink dat ek ooit hier gelukkig sou wees nie.  Ou Kaapstad moes vir jare veg om ‘n plek in my hart te kry.  Mense het ons gewaarsku – die stad is nie die ideale plek om ‘n kind groot te maak nie.  Moenie in hierdie en daardie omgewing huis koop nie, want die lug is besoedel en jou kinders gaan sieklik en verstandelik agter wees van die slegte lug wat hulle inasem.  Die Kaap is wind en reën en storms, jy gaan van jou kop af raak.

En net soos eend-se-kind wat besluit het om ten spyte van hulle instink oor gevaar tog hul kinders in die hartjie van Kaapstad groot te maak, het ons ook besluit om ons kinders in Kaapstad groot te maak, daar waar ons afgeraai is om te bly. Dat ons op die ou end buitengewone gesonde kinders het met goeie skoolprestasie is nie eintlik ter sake nie.

Wat ter sake is, is dat ek besef het dat ek met siel en liggaam wortel geskiet het in hierdie ongelooflike pragtige stad.

Daar is vir my niks so sielsbevredigend as om op ‘n stil dag by die see te staan en te besef:  soveel soos wat dinge verander soos die branders wat oor jou voete spoel en nooit twee keer agter mekaar dieselfde lyk nie, soveel bly dinge tog dieselfde soos ou Tafelberg wat in sy rotsvaste anker al vir miljoene jare daar staan in die wind en weer.

Daar is niks so verruklik as om in die woeste Suidooster jou staan te kry, en te sien hoe die wind die wolke met geweld oor Tafelberg stoot sodat dit soos ‘n waterval lyk nie – so dat jy wens jy kan aan die sysagtheid daarvan raak.

Daar is niks so verfrissend as om op in die bus te sit op pad werk toe en skielik, onverwags die koel sout-klam seebries deur die vensters voel waai en dit diep-diep in jou longe in te trek sodat jy glimlag van die skielike prikkelende energie wat deur jou are bruis nie.

Daar is niks so heerlik soos die reën op die dak op ‘n koue wintersaand en die wete dat die veld se blommeprag hierdie jaar éérs mooi gaan wees na soveel reën nie.

Daar is niks so volmaak soos die blommegesiggies na ‘n koue en nat winter waar hulle in hulle prag letterlik oral opskiet in velde, langs sypaadjies, sommer op die grasperk ook nie!

Is ek naïef om te maak asof alles volmaak is en hier nie probleme is nie?  O nee.  Dalk is dit is net omdat ek met my geestesoog langer en dieper kyk as ander mense.

Soos ek dit sien is die paradys is nie op die aardie nie, so almal moet ‘n kompromie aangaan met een of ander mate van onvolmaaktheid.  En eers as jy die volmaakte binne-in die onvolmaakte raaksien, sal jy werklik wortel skiet.  En as jy goed en stewig wortel skiet, raak die kwaliteit van jou vrugte ook al hoe beter!

En om wortel te skiet, kan werklik enige plek gebeur.  In die gevaarlike stad, in die platteland, in jou hart, of sommer net in jou uitreik na mense wat nie so bevoorreg soos jy is nie.