Ons seën en swaarte van God se kinders grootmaak

Ek dink ouerskap is die grootste voorreg wat ons het, maar dit kan ook die moelikste een wees.  Dit is een ding as jy gelukkig getroud is, daar genoeg finansies is,  en jou kinders gesond en normaal is en goed doen op skool, dan ervaar mens ouerskap in sy heel beste vorm en kan jy wel dankbaar wees vir hierdie seëning.  Maar dit is nie vir almal beskore nie.

Om die waarheid te sê, is dit einlik vir min mense beskore.

Daar is byvoorbeeld die mamma wie se man oorlede is aan kanker en sy haar Down-sindroom kindjie en sy boetie alleen moet grootmaak.  Daar is ouers wat ‘n kind het met ‘n gebrek, wat elke dag moet toekyk hoe sy moedig aansukkel in ‘n wêreld van normale kinders.  Ouers van ‘n kindjie met kanker, wat weet dat elke dag bloot genade is en hulle letterlik te bang is om te gaan slaap.  Daar is die ouers van ‘n 7-jarige seuntjie wat skielik onbeheerbare diabetes gekry het en hulle beurte moet maak om elke 2 ure in die nag op te staan om sy bloedsuiker te toets en hom te spuit.

Ouers soos hierdie kan nie een oomblik van die dag hulle waaksaamheid verslap nie.  Hulle moet elke dag met hierdie uitdagings lewe, sonder dat hulle ooit te ver in die toekoms kan kyk.  Hulle kan nie droom oor ‘n kind wat eendag sal kan lag en speel nie, want daardie droom is soos ‘n wolkie wat nou daar is, maar netnou wegwaai.  Wie sal ooit hierdie ouers se uitdagings kan verstaan?

Tog is daar soveel mense wat in sulke tye saamstaan en bystaan.  Mense wat hierdie ouers ondersteun sodat hulle nie alleen deur die vrae moet worstel van “hoekom juis my kind?” nie.  Vriende wat die kinders sommer “aanneem” sodat die mamma kan rus.  Familie wat sommer hulle intrek neem om te help versorg.  Ondersteuningsgroepe waar hierdie ouers kan hoor:  “Jy is nie alleen nie – ons was ook daar”.  Mense wat aanmeld om hierdie ouers te help asemhaal.  Mense wat buite die kring staan en op hulle sagte manier kom raakvat…. God se mense wat ouers kom help om God se kinders te versorg.

Maar …  dan is daar ook …

die ouers van die kind wat bipolêre depressie het, wie se vriende teen hom gewaarsku word, want “jy weet nie waarvoor jy jou inlaat as jy vriende is met so iemand nie.”  Daar is die ouers wie se kind ADHD is, of outisties, vir wie mense net hulle koppe skud oor die “ongemanierde” kind wat impulsiewe dinge doen, wat altyd uit haar beurt praat, wat rooimiere het, “want MY kinders sal nooit dit waag om so op te tree nie.  Ek foeter dit uit hulle uit.”

Wat van die ouers wie se kind besef het dat hy/sy gay is en die wêreld nou as ‘n veroordeelde moet instap?  Die ouers wie se kind met verkeerde vriende deurmekaar geraak het en nou ‘n verslaafde is?  Die ouers wie se kind die pad byster geraak het en nou in rehabilitasie is?   Die verslae ouers wie se kind probeer selfmoord pleeg het omdat sy skaduwee net té swaar geraak het om te dra, en hulle werklik nooit geweet het dat hy sukkel nie?

Waar is die ondersteuning nou?  Waar is die mense wat na hierdie ouers toe kom, en kom luister na die skok, die hartseer, die algehele verslaentheid?  Waar is die mense wat hierdie ouers se kruis kom opneem en help dra daaraan?  Waar is die mense wat hard kom praat:   Dit is nie jou skuld nie!  Jy is nie ‘n slegte ouer nie!  Moenie alleen voel nie! Waar is die mense wat vir hierdie ouers sê:  Jou kind sál sy pad weer vind, hy/sy sál grootword en ‘n wonderlike ouer vir sy/haar kind wees.  Dinge sál ten goede uitwerk – gee dit oor en gee dit tyd ….

Ek weet dat daar wel sulke wonderlike, ondersteunende mense is, maar in my ondervinding is hulle dun gesaai.   Want ons leef in ‘n samelewing van mense wat baie simpatiek kan wees met weduwees en wese, en ook met siekte en dood, maar wat terselfdertyd sadistiese behae daaruit put om te oordeel, hulle stokke op te tel en om links en regs houe uit te deel.

Miskien het ons makliker simpatie met siekte, gebrek en dood omdat ons dit in ‘n mate beter kan begryp, want dit is tasbaar deel van ons lewe.   Maar, sodra dit gaan oor iets wat ons nie kan verstaan nie, iets wat nie binne ons verwysingsraamwerk is nie, verander dit ons mentaliteit en oordeel ons baie vinnig vanuit ons gebrek aan verstaan.  Voeg daarby ‘n paar mense wat dieselfde as ons voel oor die saak, en ons verander in ‘n bloeddorstige skare wat skree:  Kruisig hom!

Ek wonder of Maria van die bybel nie dalk die beste voorbeeld is van dit wat hierdie ouers moet deurmaak nie.  Sy, die geseënde vrou wat God se kind met toewyding grootgemaak het,  moes vir ure en dae saam met haar kind loop en ‘n stomme getuie wees van hoe die barbaarse wêreld Hom oordeel, slaan, breek, verwoes, kruisig.  Bloot omdat hulle nie regtig verstaan het nie…

Ek dink veral in hierdie Kerstyd moet ons onthou dat ons as ouers geseëndes is.  Net soos Maria, maak ons almal ook God se kinders groot.

Daar mag ‘n tyd kom wanneer ons stom moet toekyk hoe die wêreld ons kinders veroordeel en verwoes, sonder dat ons kinders ‘n hand daarin gehad het.  Daar mag ‘n tyd wees waar ons kinders self keuses neem wat hulle by ‘n kruispad gaan bring met geen idee hoe om verder te gaan nie.  En in hierdie tye, gaan ons dalk alleen die getuies moet wees van hoe ons kinders daardeur moet worstel en kan ons maar net vertrouend saam met hulle die pad stap tot hulle anderkant uitkom.

Maar, as ons bevoorreg is om kinders groot te maak wat gesond, gebalanseerd, gelukkig, normaal deur die lewe gaan, moet ons weet: Ons het ‘n groot verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan. Ons mag nie stomme getuies wees van ander se leed nie.  Ons mag nie stokke optel en hulle kruisig net omdat dit wat hulle ervaar buite ons verwysingsraamwerk is nie.  Dit is dan juis ons plig om die Simon van Cirene te word wat hierdie mense se kruise gaan optel en hulle help dra daaraan.  Ons hoef nie te verstaan nie.  Ons hoef nie raad te gee nie.  Ons hoef net ‘n rukkie saam te stap en hulle las ligter maak.  Ons hoef net daar te wees vir hulle.

En mag ons nooit onsself so verhef dat ons dink dat ons iets in ons lewe gedoen het om enige van die seën wat ons so mildelik ontvang, te verdien nie.

Advertisements

11 thoughts on “Ons seën en swaarte van God se kinders grootmaak

    1. Dankie dat jy kom kuier het. Ja, my hart is swaar as ek veral so op sosiale media sien hoe party mense wat vandag so oulik en simpatiek is, net more skielik die lelikste dinge van ander mense sê. Dis so … onmenslik.

      Like

  1. Dis baie besonders geskryf. Ek was ook een van daardie ouers wat geen ondersteuning gekry het, omdat dit nie sigbare fisiese probleme was nie, maar wel die soort, wat oordeel wek. Tóg is ons daardeur, op ons eie en anderkant uit. Mens kry die krag en dit maak mens sterker en wyser, maar dis ‘n moeilike eensame pad.

    Like

    1. Baie dankie. Ek haal my hoed af vir jou. Dit moes ‘n baie bitter en eensame pad gewees het. Dis baie teleurstellend hoe mense keuses uitoefen vir wie hulle ondersteun en in watter omstandighede. Ek dink nie dit is hoe dit veronderstel is om te wees nie.

      Liked by 1 person

  2. Baie mooi geskryf. Dis ‘n onderwerp wat my na aan die hart lê. Ek was so enkel ma vandat my jongste dogter 8maande oud was. Oudste was nog nie 2jaar oud nie. Ek wou ‘n huis begin om sulke ouers te help, waar hulle en kids kon bly…

    Like

    1. Dankie vir die inloer. Sjoe, dit moes moeilik gewees het. Ek haal my hoed af vir mense wat daardie bitter pad gestap en juis daardie ondervinding gebruik om ander in dieselfde posisie te ondersteun.

      Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s