Net hier op aarde ….

Daars mense wat glo dat die hemel eintlik hier op die aarde is. Hulle reken dat, as jy net die kwaad en seer en sonde soos ‘n gordyn kon wegtrek, sal jy in die hemel in vaskyk.

Sommige mense glo dat daar plekke is – hulle noem dit “thin places” – waar die gordyn tussen ons en die hemel so dun is dat mens die aantrekkingskrag van die hemel kan voel as jy daar sit.

Vir ‘n sielsmens soos ek, klink dit wonderlik om by so ‘n plek te kan sit, maar ek glo ook dat ons wel meermale ‘n kykie in die hemel kry, maar met al die dinge in ons lewens wat ons so besig hou, kyk ons dit mis. Want dit is iets wat mens net kan ervaar as jou gedagtes stil is en jou siel oopgestel is daarvoor.

Ek het Saterdagaand so ‘n oomblik gehad. Dis eintlik ‘n klein storie wat met ‘n groot honger begin het. As jy al ooit ‘n tienerseun in die huis gehad het, weet jy dat hulle soos kommandowurms is. As jy hom nie dadelik voed nie, eet hy letterlik alles wat in die huis is stelselmatig van ‘n kant af op. Ek besluit toe dat ons maar gou ‘n paar goedjies by die Pick n Pay kan gaan kry vir hom en sommer ook die brood en kaas vir die week. Dis laat (hulle maak eers 23:00 toe) en die winkel lekker stil.

Terwyl seunskind aan die gesels raak met vriende, staan ek by die groente-afdeling rond op soek na inspirasie terwyl ek so effe afwesig luister na die musiek wat in die winkel speel. Baie mooi musiek, wel onbekend, maar dit klink soos ‘n Afrika gospel-tipe lied. Skielik begin die mense wat daar werk saggies en ritmies saamsing, sommer so terwyl hulle inpak, wegpak en produkte uitsorteer. Totaal binne-in hulle eie wêreld vasgevang – waar niemand dink aan probleme of bekommernisse of sonde of haat nie. Daar waar slegs eensgesindheid heers in die ritme van hierdie lied wat aan hulle bekend is en hulle uit hulle harte uit kan saamsing.

En net daar, midde-in hierdie sag-polsende ritme van sang en musiek besef ek dat ek in ‘n heilige oomblik vasgevang is….

In daardie kort oomblik was die gordyn gelig – en het ons almal vir ‘n klein oomblik ‘n kykie in die hemel gekry…

8 thoughts on “Net hier op aarde ….

  1. Ek dink mens sal altyd emosioneel wees as jy dit ervaar. Ek ervaar sulke tye gewoonlik wanneer die seisoene verander. Dis soos ‘n groot stilte waarin jou hele wese net tot stilstand kom en jy amper jou asem ophou om dit bietjie langer te rek as daardie paar sekondes. Ek wens ek weet hoe ek meer gereeld sulke ervarings kan hê. Dit voed mens se siel.

    Like

Leave a reply to Vlindersag Cancel reply