Die taal van engele

Niemand ken hom nie.  Dit lyk of hy een van die ander kerk se gemeentelede is wat ons kerksaal gebruik vir hulle erediens.

Maar sodra ons kerkkoor oefen vir ons Kerssangdiens, glip hy daar weg en kom sit hy en luister na ons.  Dit is nie ongewoon dat daar iemand sit en luister nie, maar as ek na hom kyk, ervaar ek iets anders as met net ‘n toeskouer.  Jy sien, hy verstaan nie wat ons sing nie, maar hy sit daar in die middel van die kerk, doodstil, kop effens gedraai sodat die goeie oor kan hoor, ‘n glimlag op sy gesig met sy oë toe.  Soos die melodie van die sang eb en vloei, sien jy hoe sy siel elke noot, elke nuanse van die melodie absorbeer en vasvang.  Soos hy die melodie leer ken, sien ek sy liggaam snaarstyf in afwagting vir daardie opbou in die lied wat ‘n hoogtepunt van lofprysing bereik en sien jy die tevrede diep sug uit die siel in die effense stilte wat nog vir ‘n oomblik in die lug hang as die lied klaarmaak.

Ek wil glo dat ons koor soos engele sing, maar ek weet dat dit wat in daardie oomblik gebeur, iets is wat soveel dieper gaan. Dit gaan verby die woorde en die lied en hoe dit uitgevoer is.  Dit gaan tot by dit wat universeel is by alle mense.  Ons oog sien die mens wat vir ons onbekend is.  Ons verstand vertel dat ons hom nie gaan verstaan as ons met hom praat nie.  Maar ons siel is in volle kontak met daardie mens en omdat die siel nie grense het nie, gee en neem dit soveel meer as bloot net dit wat sigbaar is.  Dit kan ‘n lofprysing vasvang, sonder dat een woord verstaan word.

Die taal van die siel, is die taal van musiek, van melodie, is die taal van onvoorwaardelike liefde, van oorbrugging en van insluiting.  Dit bind saam en stoot nie weg nie.  Dit onderskei nie tussen wat verstaanbaar is en dit wat onverstaanbaar is nie.

Dit is ewig.

Dis die taal van engele.

Miskien moet ons ook weer gaan sit en vir ‘n slag luister.  Met die kop gedraai sodat die goeie oor dit kan hoor, ‘n glimlag op ons gesig en ons oë gesluit.  Dalk sal ons siel ook die melodie kan opvang en absorbeer sodat ons met ander oë na die toeskouers om ons begin kyk….

 

Wat as …?

Onthou julle die film “As good as it gets”?  Dit was vir my so ‘n insiggewende film wat mens ‘n kykie gegee het in die lewe van iemand met OCD (obsessiewe kompulsiewe versteuring).  Een toneel het egter altyd in my kop bly vassteek.  Toe Marvin (wat erg OCD het) se pynlik netjiese lewe begin deurmekaar raak, het hy wild in die psigiater se kantoor ingestorm, maar sy het hom weggewys omdat hy weet hy moet ‘n asfpraak maak.  Hy het skielik in die vol wagkamer gaan staan en peinsend vir die mense gevra:

“What if this is as good as it gets?” 

Die uitdrukking op daardie arme mense in die wagkamer se gesigte het my gevang.  Ek kan nie sê hoeveel keer ek al daardie vraag gevra het as ek kyk na my lewe, na die lewens van mense naby my, na die land, na al die probleme en uitdagings nie.  Wat as dit wat vandag my lewe is, die beste is wat die lewe bied? Wat as daar werklik niks beter op ons wag vir die toekoms nie en ons aan hierdie  eindelose hoop vasklou dat dinge tog sal regkom, maar dit verander nooit werklik nie? Wat as al hierdie dinge wat ons op hierdie klein aardetjie van ons doen, hetsy reg of verkeerd, in elkgeval geen impak het op die Groter Storie van die heelal, van siende en onsiende dinge waarvan ons nie eers ‘n sandkorreltjie is nie?

What if this is really as good as it gets?

Ek het nie die antwoord nie.

Maar ek en my seunskind lees die bybel deur volgens ‘n baie goeie kinderbybel wat werklik die storie van God vertel nie met mooi kleurvolle gelukkige prentjies nie, maar met goeie skrif en goeie vertelling.  Ons is nou besig met al die wonderwerke wat Jesus gedoen het.  Dit is al deurgeleeste en bekende stories. En tog het iets my vasgevang.  Die wonderwerk van die man wie se dienskneg siek was.  Hy het vir Jesus gaan vra om tog sy dienskneg gesond te maak, en Jesus het ingestem en begin stap.  Die man sê toe vir Jesus dat hy nie verwag dat Jesus al die pad kom om die man gesond te gaan maak nie.  Jesus kan sommer maar net sê hy is gesond, dan weet hy dat die dienskneg genees is.  En Jesus het hom gesond verklaar, wel nadat Jesus baie verbaas was dat iemand se geloof so groot kan wees. En die man het omgedraai huis toe in die wete dat sy dienskneg gesond is.  Hoe het hy dit geweet?  Want hy het geglo.  Finish en klaar.  Hy moes steeds ver loop om by die huis te kom om dit te kon sien, maar hy het geweet dat sy dienskneg vir hom gaan inwag en niks makeer nie.

Toe ek weer die storie kry deur ‘n ander kanaal (vir grootmense hierdie keer), toe besef ek dat hierdie boodskap seker vir my is.  En dit is interessant dat dit die boodskap van geloof is.

Ek glo tog! …. ? ….

Maar toe besef ek dat as ek vra, ‘Wat as…?’ is my geloof dalk nie so groot soos daardie man s’n wat geweet het dat genesing plaasgevind het voordat hy dit kon sien nie.  Toe besef ek, my vraag moet liewer wees:  Wat as …. ek REGTIG begin glo?

Wat as ek glo … dat vandag nie noodwendig die beste is wat die lewe my kan bied nie, maar dat ek elke dag die beste van my lewe kan maak as ek regtig wil?

Wat as ek glo … dat verandering kan plaasvind as ons bid met geloof?  Dat dit sal reën, dat ons regering beter besluite sal neem, beter leiding neem, ons land al hoe meer positief die toekoms kan ingaan?

Wat as ek glo dat die mense vir wie ek bid genees sal word, sal uitkoms vind waar hulle gebukkend gaan onder moeilike uitdagings?

Wat as ek glo … dat ons elkeen se storie ‘n baie groter impak op die Groter Storie van die heelal het as wat ons besef en dat dit wat my lewe vandag is, net die begin is van iets groter en beter en wonderliker is as wat ek kan dink?

What if this is as good as it gets?   But what if we BELIEVE it will become much greater than this?

Ons moet net vir ‘n slag begin om te glo. Regtig te glo.

En toelaat dat die Groter Storie vertel word.

Geselsie met my pa

Laasnag het ek ‘n droom gehad ….

Kom ek begin eers hier.

Vandag is dit 3 jaar sedert my pa se dood.  Dit is ongelooflik hoe die grasie van tyd berusting en aanvaarding bring, maar dat daar steeds sekere tye kom dat die gemis jou net eenvoudig vasvang om jou hart.

Soos Sondag.  Ek wens so my pa kon in die kerk langs my ma sit en na my luister.  Hy sou so trots gewees het!  Ek wens ek kon hom vertel dat my beste herinnering van hom was dat ek as kind altyd verwonderd was as hy gebid het. Hy kon so opreg bid, so nederig, ek was altyd oortuig dat die Vader met ekstra sorg luister as my pa bid, want niemand kon soos hy bid nie.  En tot die dag van sy dood het hy altyd vir my ma gesê dat hy heeltyd vir sy kinders bid as hy so stil en peinsend raak.  Hy het altyd die mooiste wense vir ons gehad as ons verjaar het.  Sy wense vir ons en sy gebede is verweef in ons samestelling en leef deur ons.  Geen wonder ons is so geseënd nie!

En van Sondag af, het ek so ‘n hartsbegeerte om net met hom te kan gesels.

En toe droom ek laasnag.  Nie eers ‘n droom nie.  ‘n Beeld waar ek en hy ‘n heerlike doodgewone, normale gesprek voer.  Hy is gesond en gelukkig en ons het so lekker gesels!  Toe ek opstaan vanoggend, het ek sommer “content” gevoel.

Was die droom  net ‘n manifestering van my diepste begeerte?  Dalk.  Maar nee, ek glo dit nie vir een oomblik nie.  Ek glo dat daar soveel meer aangaan as wat ons dink.  Ek glo dat daar ‘n spasie is ver bo ons verstand, waar die geestelike ingeskakel is by die ewige.  Daar waar ons kan “connect” met mekaar, met God, met die Skepping.   Ek weet nie waaroor die gesprek gegaan het nie, dit was nie in woorde nie, want dit was nie in die vlees nie en ook nie op aarde nie,  maar in die tussenin wêreld waar die gees vry is en altyd-wagtend op die voleinding en volmaakte wat ons toekomsverwagting is.

Omdat hierdie dinge ver bo ons verstand is en niemand my reg of verkeerd kan bewys nie, is dit my voorreg om dit so te interpreteer.

Wat ookal, is ek bly dat ek wel met my pa kon gesels.  Dit het my gees goed gedoen!  Eendag sal ek wel weet waaroor ons rustige en lekker gesprek gegaan het.  Dit is my toekomsverwagting!

 

Kitspap-oplossings

Ons kerk beplan ‘n oggendtee en dit is vir my so lekker om weer ‘n slag kreatief te dink en te beplan hoe ek my tafel gaan mooimaak.  Arme manlief luister  maar net kopskuddend na my honderde  idees, want dit wat vir my naastenby prakties klink, moet hy maak werk.   Toe hy uiteindelik deur al hierdie dinge vir my vra of ek ooit al daaraan gedink het dat die mense aan my tafel sekerlik moet eet ook, was dit nie eers ‘n problem nie.  Ek gaan sommer klaargemaakte tertdoppies en daardie reeds-aangemaakte koekmengsels kry en hier en daar ‘n ietsietjie by die winkels en dan is ons uitgesorteer!

Sommer ‘n lekker kitsoplossing.  Darem kan die mense dan my keurige teetafel bewonder terwyl hulle kitsoplossing-kos eet.

Dit laat my toe sommer dink.  Is dit nie die lekkerste lewe wat ons as bevoorregtes lewe nie, selfs al kla ons so baie?  Vir alles is daar ‘n kitsoplossing.  As jy brood en melk moet koop, betaal jy sommer met jou kaart.  As jy nie lus het vir winkels nie, kan jy aanlyn bestel en dan kom lewer hulle af.  As ons lig wil hê, druk ons ‘n skakelaar.  As ons Pick n Pay toe moet gaan, vat ons die kar,  al is dit 8 minute se stap van die huis af.  Dis so vanselfsprekend en so …. maklik.

Ons mooiste stories word in flieks omgesit sodat ons nie deur ‘n boek hoef te worstel vir dae aaneen en ons verbeelding te vermoei nie.  Nou hoef ons net vir 2 ure stil te sit om ‘n opgesomde weergawe van die boek op die skerm te kyk,  uitgebeeld deur iemand anders  se interpretasie van die storie.  Met popcorn op die koop toe.

Geen wonder dit voel of ons lewe so vinnig en gejaagd word nie.  Alles is op ons vingerpunte.  Ons kry baie meer gedoen.  En hoe meer ons gedoen kry, hoe meer kapasiteit het ons om nog meer te doen.  En hoe meer ons gedoen kry, hoe meer is daar om te doen.

So eintlik ervaar ons dat die lewe makliker word, maar inderwaarheid word die lewe moeiliker, want ons doen so baie dat die tyd al hoe minder raak.  Terwyl ons liggaam en intellek groot hoogtes bereik en deurbrake maak, raak ons siel al hoe meer verhonger.  Ons sien nie meer ander se swaarkry nie.  Ons raak nie meer betrokke by ‘n goeie saak en doen moeite nie, want ons het nie meer tyd nie.  Die gevolg is dat ons al hoe meer onrustig jaag na die volgende kitsoplossing om tog net ons lewe makliker te maak sodat ons onsself kan vertel dat ons gelukkig is.  En laai ons liewer meer spanning op ons skouers terwyl ons reeds so swaar dra aan alles wat nog gedoen moet word.

Wat ons vergeet, is dat tyd nog presies is soos wat dit miljoene jare gelede was toe dit geskep is.  ‘n Minuut was en is nog steeds 60 tellings lank.  ‘n Uur 60 minute.  Niks het ooit verander aan tyd nie.  Ons aarde wentel steeds rustig om haar eie as vir 24 uur lank, en pak haar reis om die son aan vir 365 en ‘n kwart dae.  Sonder steurnis, sonder om dit vinniger gedoen te kry.  Dis net die mensdom wie se persepsie van tyd verander.

En as mens mooi daaroor dink, help dit nie ons probeer ons lewe makliker en meer effektief maak sodat ons alles vinniger kan doen nie, want soos alles op sy tyd gebeur, gebeur alles in ons lewe ook op sy tyd.  Alles wat ons ken, kan verander in ‘n oogwink, of eers oor 50 jaar.

Met alles wat ‘n kitsoplossing op ons vingerpunte is, verleer ons om tyd te neem om te lééf, te beleef, te ervaar – die beste wat die Skepping en die tyd ons bied!  Wat is lekkerder as om die wêreld uit te skakel om rustig ‘n goeie boek te sit en lees?  Wat is lekkerder as om met ‘n koppie tee in die son te gaan sit en net te kyk hoe die son deur die blare skyn, die voëltjies kwetterend jubel oor die dag?  Die wind te hoor suis.  Die branders te sien breek?  Sonder om haastig te moet dink waarheen ek volgende moet gaan.

Ek het hierdie jaar besluit om myself te verryk met ‘n kursus of twee en tot stilstand te kom.  Selfs my Kindle lê effe wees in my handsak, want ek lees weer boeke.  Lywige boeke.  Hulle maak my drasak  swaar, maar stimuleer my siel.  Ek kyk weer rond, ek bewonder die prag van die skepping.  Ek glimlag met mense.  Ek asem vars lug in.  Ek kleur in.  Ek leer.  En skielik het ek meer tyd vir sommer-net-nietighede soos tyd spandeer aan die kleinste detail vir ‘n teetafel – goedjies wat net so weggegooi gaan word as die tee verby is.

Ek wil wel noem dat die kitsoplossing vir my kostafel darem nie so blatant is soos ek dit laat klink nie, want ons werk almal saam en omdat ek voltyds werk kan ek ongelukkig nie na hartelus bak en brou nie.  Maar om skielik die voorreg van tyd te hê om kreatief te wees, is soos om iets van myself wat gevange gehou is, vry te laat om weer te ontdek.  En ek het nie nodig gehad om enige iets in my lewe te verander of iets in te boet nie!

Daar is ‘n oer-oue lekkerte aan betrokke raak by iets, ‘n mens, ‘n saak.  Om ‘n konstruktiewe iets te kry om te doen, en veral om tyd te spandeer daarop.  Jou siel en wese daarin te sit met die oog om dit vir daardie persoon of daardie geleentheid spesiaal te maak.

En sodra die siel gevoed is, lyk alles in die wêreld dan sommer eksie-perfeksie, selfs al het niks van my uitdagings beter geword of enige van my probleme weggegaan nie!

DIT is mos die lewe!

Batman en die reis na die paradys

Sommer ‘n lekker lawwe herinnering so op hierdie grou wintersdag.  Hiermee laat ek die kat uit die sak uit oor hoe ‘n vlermuis familiebande kan versterk!

So amper 26 jaar terug het ek my eerste werklike liefde gevind.  Ek het sommer met die knaap getrou ook lateraan, want dit het my die moeite gespaar om verder te soek na so ‘n wonderlike liefde, en ook, na die ondervinding van die vlermuis, dink ek in elkgeval nie was daar ’n keuse nie – my eer moes beskerm word!

Hierdie het gebeur nog so aan die begin van my en manlief se vry-jare.  Sy familie het my nog nie regtig goed geken nie en was nog effe skepties oor hierdie skielike liefde.  En ek was ook maar vreemd en versigtig vir hulle.  Maar, die heel lekkerste herinnering wat ek van daardie tyd het wat al die vreemdheid oorbrug het, was die gesellige stoepkuiers by Ouma Martha se huis in Kimberley.  Wanneer die son gesak het na ‘n snikhete somersdag en die sagte skemerte daal, het almal stoep toe gevlug en het ons heerlik gekuier met glase yskoue koeldrank in die hand.   Die vlermuise het ook saamgekuier, maar het ons nooit gepla nie …

… until that fateful night  ….

…   daardie een aand toe ek so ‘n lekker wye kniebroek-romp aangehad het ….

Die hele familie was weer by ouma Martha tuis en ek kuier lekker saam.  Ewe fluks gaan help ek koeldrank aandra vir die stoepsitters.  Soos die duiwel dit wil hê is dit mos net op daardie oomblik toe ek, met ‘n glas koeldrank in elke hand, oor die voordeur se drumpel tree en ‘n vlermuis met vasberade en besliste doelgerigheid op my knie kom vassuig.

Nie net op my knie kom vassuig nie ….. Met die landingslag besluit hy sommer dadelik dis tyd om sy goed te pak en te trek ferrêre noorde toe.  Hy slaan toe sy koue klam-taai pootjies hier teen my been vas en begin te klim met ongelooflike ratsheid vir iets wat eintlik veronderstel is om blind te wees.

Nou kyk, mens se eerste reaksie is dié van vlug of veg.  Maar in hierdie situasie kom logika toe gelukkig  eerste, want nou moes ek eers mooi dink oor my opsies.

Opsie 1:  Ek gooi die twee glase koeldrank net daar neer, gil die dak af, vertel die vlermuis wat ek van hom dink in my beste woordeskat en vermorsel hom.  En dan besluit my kêrel en sy familie straks dat ek dalk bietjie wild is vir hulle en word ek huis toe gestuur …

Of Opsie 2:  ek … wel ek weet nie eintlik wat die alternatief moontlik kon wees in daardie spesifieke situasie nie.

MAAR al wat ek weet, is net soos daardie vlermuis se klam-taai pootjies aan my (nou al bobeen) vasgeklou het, het ek geklou aan die koeldrankglase EN die bietjie waardigheid wat ek nog moontlik in daardie situasie kon bemeester!

Intussen wil almal van die stoep afval van die lag, want al wat ek met onderdrukte histerie kan uitkry is dat hierdie vlermuis teen my been op loop en hy wil nie stop nie!  En niemand kan vir lank genoeg ophou lag om my uit my benoude verknorsing te kom help nie!

My arme kêrel kry my jammer en wil graag probeer help, maar ons vryery het nog nie so ver gevorder dat hy gemaklik is om sommer net onder my broekrok in te grawe agter vlermuise en dinge aan nie – ten minste sekerlik nie voor sy ma-hulle nie!  Hy weet nie of hy dalk (soos die vlermuis) strakkies net meer gaan kry as waarop hy gebargain het nie!

Einde ten laaste, toe Vlermuis se mond al begin water omdat hy so naby aan sy eindbestemming is, en my oë begin traan van benoudheid, besluit sus dat sy maar sal kom hand bysit en ten minste die koeldrankglase by my wegvat. Dit laat my toe met meer vryheid om die vlermuis af te kry, maar dit is waar my tweede probleem toe inkom – probeer jy bietjie om daardie papsagte-grillerige-klam lyfie van jou lyf af weg te skeur – hy klou vir al wat hy werd is!  Ek meen, wie wil nou weggevat word as jy so naby aan die paradys is? (pardon the pun!)

Op die ou end vlieg my kêrel toe maar met ‘n “bogger dit” houding hier onder my romp in om vinnig en ferm met een haal vir Batman van plan te laat verander oor sy reisplanne.  En toe kon ek kans kry om lekker saam te lag oor hierdie episode en goed te voel dat ek ten minste my waardigheid (en twee glase koeldrank) nog behoue kon laat bly deur dit alles!

Ons lag nou nog lekker oor hierdie episode.  Ek dink dit het hoofsaaklik die ys gebreek met die skoonfamilie – veral toe hulle agterna nogal sê hulle sou my nie kwalik geneem het as ek die glase koeldrank neergegooi het nie.  Ek sal dit altyd waardeer van hulle.

Al wat ek weet, is dat ek en my skoonfamilie dalk gebind is deur Batman se taai vlermuisvlerke, wat klam-klouerig in ons harte gevestig is, maar sit, sit ons almal tot vandag toe nog vas in mekaar se harte!

My Huldeblyk

All are born to die – but it is what you live for that determines a life fulfilled and a legacy remembered. (Johan Redelinghuis)

Dit is wel so dat die enigste twee dinge waarvan ons in hierdie ou lewe seker kan wees, is dood en belasting.  Toegegee, sommige mense kry dit steeds reg om belasting te ontwyk , maar aan die dood sal niemand kan ontkom nie, maak nie saak wat jy doen nie.  Dit is ‘n feit soos ‘n koei.

Wat nie ‘n feit soos ‘n koei is nie, is as ek wonder wat mense van my gaan onthou?  Met ander woorde, wat gaan eendag op my Huldeblyk staan as ek sterf?  Dit was vir my nogal op ‘n stadium interessant om huldeblyke te lees in die koerant en my te verwonder oor al die positiewe dinge wat oor die oorledene geskryf word.

Dit laat my dink dat, wanneer ons leef, sien en ervaar ons so baie negatiewe dinge in onsself en ook in ander.  Maar, wanneer ons sterf is dit asof die negatiewe dinge saam met die aardse liggaam in stoflike partikels terugval en die positiewe in herinneringe agterbly.  Dis of die negatiewe net so aards en tydelik is soos die stoflike liggaam en die positiewe dinge wat daardie persoon agtergelaat het vir die nageslag vir ewig in hulle wese gegraveer is.

So, as ek dink aan my Huldeblyk, weet ek wel dat volgende beslis NIE daarop gaan verskyn nie:

*          Sy was altyd betyds.

*          Sy was ‘n knap huisvrou.

*          Jy kon haar altyd deur ‘n ring trek.  Sy het haarself gereeld laat opknap by die         haarkappers en haar verskeidenheid skoene, handsakke en naellak het altyd stylvol bymekaar gepas volgens die mode van die dag.

Dit klink wel droewig, maar dit is die skone waarheid rondom my.  Enige iemand wat dit ooit op my Huldeblyk sit, sal beslis deur my (en my kleurvolle cutex) besoek word! 🙂

Wat ek wel hoop op my Huldeblyk eendag sal staan is eerder dinge soos:

Dat dit in my lewe gesien kon word dat ek altyd lief was vir mense en hulle aanvaar het, maak nie saak wie en wat hulle was nie – dat ek verstaan het dat ons almal gelyk is, ongeag ons verskille.

Ek sal wil hê dat die “legacy” wat ek agterlaat, een is waar mense my sal onthou – nie vir hoe oulik ek iets kon skryf of sê nie, maar hoe dit wat ek geskryf en gesê het, hulle aangespoor het om anders na die lewe te kyk en goeie dinge uit te dra na ‘n wêreld wat dit so nodig het.

Ek sal wil hê dat my kinders moet sê dat ek altyd liewer tyd met hulle wou spandeer om gou ‘n prentjie in te kleur, Uno te speel, help met huiswerk en leerwerk, geduldig te luister na ‘n mondeling, dapper ‘n mot te verjaag twaalfuur in die nag omdat prinses bang is hy vlieg in haar mond in wanneer sy slaap, boeke vir hulle te lees met soveel stembuigings en geluide dat ons later lê soos ons lag, lekker snoesig saam met hulle in die bed in te kruip en lawwe geselsies maak wanneer dit eintlik slaaptyd moes wees.

Ek sal graag dat my man moet sê dat ek ‘n goeie vrou was (al het ek hom teen die mure uitgedryf omdat ek nie tyd kon skat nie en altyd in die moeilikheid was omdat ons gaan laat wees).  Ek hoop hy gaan sê dat ek altyd altyd bereid was om net syne te bly en ontsaglik lief te bly vir hom ondanks en ten spyte van.  Ek hoop dat hy sal skryf dat hy verstaan hoekom ek meer dankbaar was vir ‘n sweetie pie of sjokoladetjie in my handsak, of ‘n BBM beertjie wat soentjies stuur,  as vir die duurste juwele of besittings op aarde.

Jy sien, ek glo dat dit waarvoor ek lewe, is dit wat die kwaliteit van my lewe moet bepaal en nie andersom nie.   Ons lewe op aarde is net waardevol as ons dit wat vir ons vreugde verskaf kan deel en uitdra en mens aanspoor om dieselfde te doen.

Baie van hierdie dinge is dinge waaraan ek nog moet werk voor ek dit in die hiernamaals op my Huldeblyk sal kan lees, maar dit is ‘n begin.

Al wat ek hoop is dat ek dit ook eendag sal kan regkry om ‘n ewige “legacy” in mense se harte agter te laat, lank nadat my ligaam nie meer op die aarde wandel nie.

Die sage van die selfoon

So sit hierdie moederhen met ‘n krisis.

Skaars het ek gewoond geraak dat my ou kuikentjie op die wyse ouderdom van 10 self skool toe en terugjaag met sy rooi fiets (en sy eie rekord probeer breek van hoe vinnig hy dit kan doen), nou is sy selfoon gesteel waarmee hy ons moet laat weet as enige iets met hom of sy fiets gebeur tussen die huis en die skool.

En ek is sommer moedeloos.  Hierdie kind mag aandagafleibaar wees en sukkel met organisasievermoë en alles wat daarmee gepaard gaan, maar een ding kan ek van hom sê:  hy pas sy goed op.  Hy het nog nooit iets sommer net verloor, gebreek of laat wegraak nie.  Elke oggend was die selfoon diep in die voorste sak van die skooltas gebêre en elke middag is dit weer daar uitgehaal om te laai sodra hy by die huis kom.  Vir meer as ‘n jaar gaan dit nou al so sonder enige probleme.  Tot op daardie een dag toe iemand anders in sy sak loop grawe het terwyl hy sport doen.

Ek is nie hartseer oor die foon nie, want mens sal dom wees om ‘n foon met enige waarde skool toe te stuur, maar ek is tog hartseer dat hy op die harde manier moes leer dat mens se goed kan wegraak of jy dit oppas of nie.

En boonop is ek benoud.  Wat as iets  met hom gebeur en hy kan ons nie kontak nie?

Maar, amper dadelik besef ek dat beste selfoon eintlik maar steeds die een is wat nooit gesteel kan raak nie – die een van gebed en vertroue.  Ek hoef dit nie te herlaai nie, niemand kan dit van my steel nie, en dit werk!  Ek is al lankal in die gewoonte om, sodra ek aan my man en kinders dink, te bid vir hulle veiligheid en dat dit ‘n goeie dag vir hulle sal wees.

So, die dag waarop die selfoontjie gesteel is, was ‘n goeie dag.  Want my kind was steeds veilig.  En so ook sy geliefde rooi fiets wat sy pappa met baie liefde opgebou het en spesiaal vir hom Ferrari rooi gesprei het.  Dit wat van hom weggeneem was, het geen waarde in vergelyking met alles waarvoor ons steeds dankbaar is nie.  Dit kon anders gewees het.

Dan skud ek maar net my kop vir myself.  Hoe gebeur dit dat ons so afhanklik raak van ‘n aardse ding?  Dit soos om ‘n kruk te gebruik as jou been nie seer is nie en dan te huil as iemand dit wegvat.

 

So, les geleer, en nou gaan die lewe aan.  Sonder selfoon is meneer nie te gelukkig nie, maar hy kon darem terugval op ‘n ou selfoontjie wat net kan sms en bel as daar ‘n krisis is.  Nou kan hy nie meer speletjies speel en Minecraft videos kyk nie, en ontdek hy weer ‘n ander lewe buite die skerm van die selfoon.

So, met alles wat gebeur, is daar altyd iets goed wat daaruit kom.  En altyd hope om voor dankbaar te wees!