Weerkaatsing

Waterpoele is vir my ‘n oneindige bron van inspirasie. Ons as gesin is baie lief vir foto’s neem en uit al die (vir my) mooi foto’s wat ons al geneem het, is die waterweerkaatsings maar steeds dié waarna ek altyd sal teruggaan om nog ‘n keer na te kyk en te bewonder.

Die ding met ‘n waterweerkaatsing is dat dit wat mens in die weerkaatsing sien, nie werklik is nie – dit is slegs ‘n refleksie van die werklikheid. En die simboliek daarvan is vir my oneindig.

Weerkaatsing3
UCT (foto: Erani Kozé)

Die Psalmis van ouds het gesê dat die skepping die werke van God se hande besing. In hierdie waterweerkaatsings sien ek hoe die skepping weer die werke van ons mensehande reflekteer. Die enigste verskil is dat die skepping ewig is, maar dit wat ons in die refleksie sien, kortstondig, tydelik en verganklik is. Vandag is dit hier, more is dit weg en daarmee saam alles wat ons hier op aarde met soveel sorg bymekaar gemaak het en vertroetel het. Dan word dit wat ons lewe was, slegs ‘n vae herinnering van ‘n oombik waarin tyd stilgestaan het. ‘n Vergete foto van daardie volmaate lewe wat net ‘n sekonde in tyd geduur het.
En dan wonder ek, wat sal ek sien as ek by die waterpoel gaan sit en kyk na die weerkaatsing van my lewe? Wat sal my kinders se kinders sien wanneer hulle eendag die ou, vergete foto sien van dit wat my lewe was? Sal hulle slegs ‘n geblurde gejaag sien waarin my lewe maar meestal rondom my eie behoefte gedraai het? Of sal die refleksie van my lewe hulle asem wegslaan as hulle besef dat dit wat hulle daar sien, ook in hulle harte gereflekteer word, al is ek lankal nie meer daar nie?

Ek ken nie juis die antwoord nie. Intussen soek my siel die waterpoele. Want aan die einde van die dag maak die skepping altyd sin. Die lewe nie so altyd nie….

20190720_080244-01
Century City (foto: Riana Kotzé)

3 thoughts on “Weerkaatsing

  1. BAIE GOED gestel, Nig. En hoe ouer ‘n mens word hoe meer wonder ‘n mens watter weerkaatsing ander van jou lewe sien, ‘n lewe wat ook maar tydelik is maar tog ‘n weerkaatsing kan laat wat ‘n invloed op ander het. Dankie dat jy ons weer deur jou skryfsels laat dink oor alles.

    Liked by 1 person

Leave a comment