Die skoene met die pap wiele

20190527_191209-e1559038526192.jpgIs dit normaal om weemoedig te voel as jou eerste, beste, gunsteling drafskoene moes aftree?

Ek raak nie besonder geheg aan aardse besittings nie, maar as dit kom by die emosie, herinneringe en stories wat dit vertel, is dit ‘n ander storie.

Toe ek en manlief so 3 jaar gelede begin het om ons lywe in ‘n beter leefstyl en ons voete op die teer te kry, het hy vir my hierdie skokpienk ordintklike drafskoene gekoop.  Daarin is daar baie kilometers afgelê.  Hierdie skoene vertel verhale van intense moegheid, baie sweet, asemtekort en moedeloosheid omdat fiksword nie vir sissies is nie.  Maar dan vertel dit ook van die intense trotse gevoel van “accomplishment”  toe ek daardie eerste 5km, eerste 10km, eerste 12km se medaljes in ontvangs geneem het.  Dit vertel van vars seelug diep inasem, wat soos goeie wyn deur my are gevloei en my liggaam versterk het. Dit vertel van dinkdinge oor die lewe wat saam met die ritme van my voeteval in gedagtes, idees en drome verweef geraak het.  Daar was reën wat morbiede gedagtes skoongewas het en sonskyn wat muwwe kolle weggesmelt het.  Daar was die plaaspad waar die werkers se kinders vir ons water uitgedeel het en terselfdertyd vir swieties gevra het.  Daar was selfs die pad wat na my werk toe lei, wat ek elke dag vanuit ‘n busvenster sien,  waarvan ek nou ‘n heel ander perspektief het, noudat my spore ook daar lê.  En saam met dit die gedagte aan my manlief wat saam met my wegspring en weer by die einde vir my wag.  Niks is lekkerder as om hierdie dinge saam met hom te doen en te beleef nie.

Toe ek heupprobleme begin optel, reken manlief dis die skoene.  Ek het gereken dis ouderdom – ek is mos nie meer 20 (of 30….) nie.  Tot ons na die drafskoenwinkel toe gaan.   En ons die arme outjie daar moet lawe toe hy hoor hoe lank ek al met hierdie paar skoene draf….  Hy het my so een kyk gegee en gesê dat my “frame” baie sterker is as wat ek dink, want die skoene is al so gedaan dat daar niks meer oor is in die skoene wat enige skok absorbeer nie.  Elke keer wanneer my hak die teer tref, skiet die skok regdeur tot in my heupe in.  So, eintlik moes ek al meer probleme opgetel het as net pyn in my heupe….

Die einde was dat manlief maar moes styf oë toeknyp en skelm ‘n traantjie pink toe hy die geduldige kaart oorhandig vir ‘n nuwe paar drafskoene.  Hy wil baie graag hê dat ek en hy nog saam ou bene op die teerpad haal (met my sterk “frame” en al …).  😀

Ek twyfel nie dat wonderlike nuwe ervarings nog onverteld in die weefsels van die nuwe skoene skuil nie.  Maar dat my eerste skoene die voorreg gehad het om die stories van al die eerstes te kon vertel, maak dat ek weemoedig van hulle afskeid neem.

Maar my skoene het my herinner dat dit die lewe is.  Na afskeid, kom daar altyd ‘n nuwe pad met nuwe ondervindings.   En soos ons ook nou al weet, kan ons nie ‘n nuwe pad betree met ‘n nuwe tred en nuwe denke, as ons nie bereid is om die ou skoene uit te gooi wat ons begin terughou het nie.

Dis my stukkie filosofie vir die dag, so vanuit my ou skoene se perspektief.

NS.  Net omdat ek sentimenteel is, hou ek darem nie vas aan goed nie, so ek het my pienk skoene vir iemand geskenk met die “disclaimer” dat hulle afgetree is en net mag stap.  En ek glo dat hulle nog baie mooi stories gaan vertel tot hulle leeftyd verby is.

Advertisements

4 thoughts on “Die skoene met die pap wiele

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s