Spieëltjie, Spieëltjie

Is dit nie ongelooflik hoe mens altyd dink jy is reg nie? En dan word jou kinders groot en skielik begin jy die wêreld deur hulle oë sien en wonder of jy ooit regtig reg was?

Ons het ‘n dogter vir wie die wêreld nie ‘n konserwatiewe plek is met almal wat mooi netjies in boksies pas en waar ons die enigste mense is wat reg is nie. Dit is nou ons leefwyse, ons voorregte, ons geloof. Vir haar is almal eenders, almal het ‘n storie om te vertel en almal se seer is geregverdig in die fondasie van hulle verlede of die uitdagings van hulle hede. Menigte witwarm debatte is al in ons huis gevoer, veral tussen pa en dogter wat ewe hardkoppig aan hulle standpunt vasklou. Maar, aan die einde van die dag, sien ons almal een prentjie: ons kan werklik nie oordeel as ons nie in ‘n ander se skoene gestap het nie.

Ek het besef dat ons heeltyd vir ons kinders leer dat jy moet jouself aanvaar vir wie jy is. Moenie jouself sien in die spieël wat deur ‘n ander vasgehou word nie. Maar hoeveel keer hou ons die spieël vas en dwing daardie persoon om homself/haarself deur ons oë te sien?

Nou, tydens haar studies en ervaringe by die Universiteit Kaapstad, besef ons dat ons lewe in ‘n baie klein kokon gespin is en ons baie min verstaan van die bagasie wat soveel jongmense dra. Ja, daar was frustrasies met studente wat klasse ontwrig het en daar sal seker nog wees, maar dit maak nie die instansie minderwaardig nie. Hierdie mense se kwaad en frustrasie is nie niks net omdat ons dit verminder vanuit ons eie oortuigings nie. Hulle geskiedenis is nie in sy geheel aan ons bekend nie, omdat die helfte nooit vir ons vertel word nie. Ons dogter maak soveel vriende met mense wat uit verskillende wêrelde kom, letterlik en figuurlik, en ons leer elke dag deur haar hoe wonderlik en uniek elke mens is, ongeag of ons met hulle saamstem of nie.

En ek is bly dat ek die voorreg het om vir die eerste keer te kan erken dat ek my wêreldsiening verander het deur my kind en nie andersom nie. Sy leer ons dat, net omdat ons nie die seer en die frustrasie van die verlede ervaar nie, beteken dit nie dat ons nie ten minste die gesprek kan voer om te probeer verstaan nie. Dit is nie iets wat gaan weggaan nie, maar die voorreg van positiewe verandering lê op die ou end in haar wat net sonder oordeel lekker gesels as hulle om dieselfde tafel beland.  Dit lê in my wat my vooropgestelde idees eenkant toe gooi en met nuwe oë na die wêreld om my kyk en betrokke te raak. Dit lê in elke mens se hart om die besluit te neem: Ek gaan deel word van hierdie werklikheid van ons lewe met die doel om verandering teweeg te bring.

Het Michael Jackson dit nie so raakgevat nie?

I’m starting with the man in the mirror

I’m asking him to change his ways

And no message could have been any clearer

If you wanna make the world a better place, take a look at yourself and make that change!

Ek dink dat hy die spyker op die kop geslaan het. Want slegs wanneer ek in my eie spieël kyk en my eie tekortkominge raaksien en erken, sal ek werklik verstaan wat GENADE is. En dan kan ek my kokon breek en my vlerke sprei om die verskil te wees wat ek graag in die wêreld wil sien.

3 thoughts on “Spieëltjie, Spieëltjie

  1. Wow, beter as dit kan niemand dit stel nie. Wens dat elke persoon nou hul eie spieel sal vashou en so ook mense anders kan sien, met meer gesag en waardering

    Liked by 1 person

  2. Ja sjoe, dit is so waar. Ons het dit baie nodig, die oop oë en oop harte om die waarheid te kan raaksien. Waarheid is net een se opinie nie, maar daardie plek waar elkeen se opinie aan die ander mense se opinies raak en die wrywing, saam stem en die verskil(le) ‘n nuwe prentjie begin skilder wat aan elkeen van ons oop oë of oper oë gee.

    Liked by 1 person

Leave a reply to travel460 Cancel reply