Een foto … ‘n honderd stories

So besluit my neef en my oom om ‘n genealogie saam te stel van ons Kilian-familie.  Die familie is groot.  My ma-hulle was 8 kinders (sommige van hulle het nou al agterkleinkinders).  En soos ek verstaan was my oupa-hulle 12 kinders.  So, dis ‘n paar mense om deur te werk.

En daar kom my neef af op ‘n klompie antieke foto’s van my tannies, ooms, grootouers en groot-grootouers.  En hy plaas dit op op ons familie se Facebookblad en vra dat almal kommentaar lewer oor datums, plekke, tye en staaltjies.

En net daar is dit asof ‘n nuwe era vir ons aanbreek!  Skielik is dit nie meer net foto’s nie.  Dit is regtige mense wat lewendig word en met ons begin gesels oor wie hulle is, wanneer die foto’s geneem is, wat die omstandighede was, waar al die ander was.  En ons verkyk ons aan hierdie stukkie geskiedenis wat breek deur die weefsels van tyd.  Ons slurp dit op en maak dit deel van ons.  Ons kinders, wat nie eers hierdie mense ken nie, lag en huil saam oor die herinneringe.

Hier besef ek toe weereens die waarde van sosiale media.  Ja, dit is ‘n euwel en dit maak dat ons meer anti-sosiaal raak.  Maar hoe anders sou ons as familie wat ver van mekaar bly, weer kan saamsit, al kuierende rondom die mense wie se gene in ons ingeweef is?  Hoe sou ons andersins in verwondering weer net kon besef, ons behoort aan mekaar?

En ek dink dit is net daar waar die lekkerte inkom.  Ons kom weer in ons gejaagde lewe bymekaar en besef, ons behoort.  Ons behoort aan ‘n familie waar almal ingesluit is.  Van die kindjie wat net 2 daggies geleef het, tot by die ekstras wat nie in dieselfde gene deel nie, maar wat behoort aan ons familie.  Ons is ‘n gekoesterde eenheid wat nie opgebreek kan word nie, want die kode van die lewe is in ons gene ingegraveer nog voor ons gebore is.  Wat ‘n wonderlike besef!

Ons het weer besef dat ons ‘n ongelooflike geseënde familie is.  Ons het predikante, bikers, onderwysers, kunstenaars, enterpreneurs en gewone mense wat almal geseënd is met baie of met min.  Ons het getroudes, geskeides, verliefdes, maar sover ek weet nie enige iemand wat kwaad is vir mekaar nie.  Ons koester herinneringe van geliefdes wat gesterf het aan kanker, siekte, aan die hand van ander, ongelukke.  Daar is kinders, kleinkinders, agter-kleinkinders, katte, honde, perde en my broer se 3 ganse (die 3 Stooges).  Daar is rykes, armes en die gewones wat wens hulle was ryk.

Maar een ding bind ons met onbreekbare bande – ons is mekaar s’n.  Ons behoort aan mekaar en ons het ‘n leeftyd se herinneringe om met mekaar te deel.  Ons kan saam onthou van ons kinderjare  by oom Jan en tannie Anna met Kersfees.  Ons het kano op die dam gery en perde in die veld ( vir die wat kon bo bly). Ons het kersopvoerings gehad vir die familie, en selfs die donkie het al engel gespeel toe die engel besluit sy praat nou nie meer ‘n woord verder nie.  My oom was ‘n byeboer en ons het tussen die bye ons Kersete geniet.  Hulle het net vir my gesteek, so almal anders was veilig.  Ons het in die perskebome gesit en ons siek geëet aan die perskes, net om dit maar weer te doen volgende keer – mens leer nooit as dit by perskes en moerbye kom nie.  Ons het swart en wit filmpies gekyk en ons doodgelag vir Laurel en Hardy wat so vinnig geloop het.

Herinneringe is vir my die bloudruk van ons bestaan.  Dit is soms sleg en soms goed.  Dit help ons om te leer uit ons foute, maar ook om mekaar weer te kan waardeer.  En soms vat dit net ‘n ou swart en wit foto om ons weer te herinner aan wie ons is en hoe nodig ons mekaar het.

Maar, aan die einde van die dag, moet ons seker ook nooit vergeet dat die kode van die lewe ook in diegene ingegraveer is wat nie in ons gene deel nie.  So, leef die herinneringe, maar onthou ook om nuwes te bou met die mense om jou.  Ons almal hier op aarde het nodig om te voel dat ons aan iemand behoort.

Mag julle 2018 vol nuwe herinneringe wees, en mag die beste van die ou herinneringe julle versterk en koester in die jaar wat voorlê!

 

Advertisements

4 thoughts on “Een foto … ‘n honderd stories

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s