Die taal van engele

Niemand ken hom nie.  Dit lyk of hy een van die ander kerk se gemeentelede is wat ons kerksaal gebruik vir hulle erediens.

Maar sodra ons kerkkoor oefen vir ons Kerssangdiens, glip hy daar weg en kom sit hy en luister na ons.  Dit is nie ongewoon dat daar iemand sit en luister nie, maar as ek na hom kyk, ervaar ek iets anders as met net ‘n toeskouer.  Jy sien, hy verstaan nie wat ons sing nie, maar hy sit daar in die middel van die kerk, doodstil, kop effens gedraai sodat die goeie oor kan hoor, ‘n glimlag op sy gesig met sy oë toe.  Soos die melodie van die sang eb en vloei, sien jy hoe sy siel elke noot, elke nuanse van die melodie absorbeer en vasvang.  Soos hy die melodie leer ken, sien ek sy liggaam snaarstyf in afwagting vir daardie opbou in die lied wat ‘n hoogtepunt van lofprysing bereik en sien jy die tevrede diep sug uit die siel in die effense stilte wat nog vir ‘n oomblik in die lug hang as die lied klaarmaak.

Ek wil glo dat ons koor soos engele sing, maar ek weet dat dit wat in daardie oomblik gebeur, iets is wat soveel dieper gaan. Dit gaan verby die woorde en die lied en hoe dit uitgevoer is.  Dit gaan tot by dit wat universeel is by alle mense.  Jy sien, ons oog sien die mens wat vir ons onbekend is.  Ons verstand vertel dat ons hom nie gaan verstaan as ons met hom praat nie.  Maar ons siel is in volle kontak met daardie mens en omdat die siel nie grense het nie, gee en neem dit soveel meer as bloot net dit wat sigbaar is.  Dit kan ‘n lofprysing vasvang, sonder dat een woord verstaan word.

Die taal van die siel, is die taal van musiek, van melodie, is die taal van onvoorwaardelike liefde, van oorbrugging en van insluiting.  Dit bind saam en stoot nie weg nie.  Dit onderskei nie tussen wat verstaanbaar is en dit wat onverstaanbaar is nie.

Dit is ewig.

Dis die taal van engele.

Miskien moet ons ook weer gaan sit en vir ‘n slag luister.  Met die kop gedraai sodat die goeie oor dit kan hoor, ‘n glimlag op ons gesig en ons oë gesluit.  Dalk sal ons siel ook die melodie kan opvang en absorbeer sodat ons met ander oë na die toeskouers om ons begin kyk….

 

Advertisements

4 thoughts on “Die taal van engele

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s