Batman en die reis na die paradys

Sommer ‘n lekker lawwe herinnering so op hierdie grou wintersdag.  Hiermee laat ek die kat uit die sak uit oor hoe ‘n vlermuis familiebande kan versterk!

So amper 26 jaar terug het ek my eerste werklike liefde gevind.  Ek het sommer met die knaap getrou ook lateraan, want dit het my die moeite gespaar om verder te soek na so ‘n wonderlike liefde, en ook, na die ondervinding van die vlermuis, dink ek in elkgeval nie was daar ’n keuse nie – my eer moes beskerm word!

Hierdie het gebeur nog so aan die begin van my en manlief se vry-jare.  Sy familie het my nog nie regtig goed geken nie en was nog effe skepties oor hierdie skielike liefde.  En ek was ook maar vreemd en versigtig vir hulle.  Maar, die heel lekkerste herinnering wat ek van daardie tyd het wat al die vreemdheid oorbrug het, was die gesellige stoepkuiers by Ouma Martha se huis in Kimberley.  Wanneer die son gesak het na ‘n snikhete somersdag en die sagte skemerte daal, het almal stoep toe gevlug en het ons heerlik gekuier met glase yskoue koeldrank in die hand.   Die vlermuise het ook saamgekuier, maar het ons nooit gepla nie …

… until that fateful night  ….

…   daardie een aand toe ek so ‘n lekker wye kniebroek-romp aangehad het ….

Die hele familie was weer by ouma Martha tuis en ek kuier lekker saam.  Ewe fluks gaan help ek koeldrank aandra vir die stoepsitters.  Soos die duiwel dit wil hê is dit mos net op daardie oomblik toe ek, met ‘n glas koeldrank in elke hand, oor die voordeur se drumpel tree en ‘n vlermuis met vasberade en besliste doelgerigheid op my knie kom vassuig.

Nie net op my knie kom vassuig nie ….. Met die landingslag besluit hy sommer dadelik dis tyd om sy goed te pak en te trek ferrêre noorde toe.  Hy slaan toe sy koue klam-taai pootjies hier teen my been vas en begin te klim met ongelooflike ratsheid vir iets wat eintlik veronderstel is om blind te wees.

Nou kyk, mens se eerste reaksie is dié van vlug of veg.  Maar in hierdie situasie kom logika toe gelukkig  eerste, want nou moes ek eers mooi dink oor my opsies.

Opsie 1:  Ek gooi die twee glase koeldrank net daar neer, gil die dak af, vertel die vlermuis wat ek van hom dink in my beste woordeskat en vermorsel hom.  En dan besluit my kêrel en sy familie straks dat ek dalk bietjie wild is vir hulle en word ek huis toe gestuur …

Of Opsie 2:  ek … wel ek weet nie eintlik wat die alternatief moontlik kon wees in daardie spesifieke situasie nie.

MAAR al wat ek weet, is net soos daardie vlermuis se klam-taai pootjies aan my (nou al bobeen) vasgeklou het, het ek geklou aan die koeldrankglase EN die bietjie waardigheid wat ek nog moontlik in daardie situasie kon bemeester!

Intussen wil almal van die stoep afval van die lag, want al wat ek met onderdrukte histerie kan uitkry is dat hierdie vlermuis teen my been op loop en hy wil nie stop nie!  En niemand kan vir lank genoeg ophou lag om my uit my benoude verknorsing te kom help nie!

My arme kêrel kry my jammer en wil graag probeer help, maar ons vryery het nog nie so ver gevorder dat hy gemaklik is om sommer net onder my broekrok in te grawe agter vlermuise en dinge aan nie – ten minste sekerlik nie voor sy ma-hulle nie!  Hy weet nie of hy dalk (soos die vlermuis) strakkies net meer gaan kry as waarop hy gebargain het nie!

Einde ten laaste, toe Vlermuis se mond al begin water omdat hy so naby aan sy eindbestemming is, en my oë begin traan van benoudheid, besluit sus dat sy maar sal kom hand bysit en ten minste die koeldrankglase by my wegvat. Dit laat my toe met meer vryheid om die vlermuis af te kry, maar dit is waar my tweede probleem toe inkom – probeer jy bietjie om daardie papsagte-grillerige-klam lyfie van jou lyf af weg te skeur – hy klou vir al wat hy werd is!  Ek meen, wie wil nou weggevat word as jy so naby aan die paradys is? (pardon the pun!)

Op die ou end vlieg my kêrel toe maar met ‘n “bogger dit” houding hier onder my romp in om vinnig en ferm met een haal vir Batman van plan te laat verander oor sy reisplanne.  En toe kon ek kans kry om lekker saam te lag oor hierdie episode en goed te voel dat ek ten minste my waardigheid (en twee glase koeldrank) nog behoue kon laat bly deur dit alles!

Ons lag nou nog lekker oor hierdie episode.  Ek dink dit het hoofsaaklik die ys gebreek met die skoonfamilie – veral toe hulle agterna nogal sê hulle sou my nie kwalik geneem het as ek die glase koeldrank neergegooi het nie.  Ek sal dit altyd waardeer van hulle.

Al wat ek weet, is dat ek en my skoonfamilie dalk gebind is deur Batman se taai vlermuisvlerke, wat klam-klouerig in ons harte gevestig is, maar sit, sit ons almal tot vandag toe nog vas in mekaar se harte!

Advertisements

8 thoughts on “Batman en die reis na die paradys

  1. Hehe dis kostelik. Vlermuise is eintlik baie oulike troteldiere. Ons het al ‘n paar van hulle met die bottel grootgemaak as hulle uit die nes geval of hulle familie deur ander roofdiere opgeëet is. Die hoogtepunt is wanneer hulle weer suksesvol vrygelaat word.

    • Ek het dit al gehoor en foto’s gesien van hulle mooi gesiggies. Dis hoekom ek so gesukkel het om die dierasie van lyf af weg te kry. My hart is net so sag soos daai lyfie. Ek sou hom nie hardhandig kon behandel nie. Ek kan dink dat dit wonderlik is om ‘n diertjie met ‘n bottel groot te maak en in sy eie wêreld vry te laat.

  2. Baie oulik Vlindersag. My toekomstige swaer het gedink hy maak ‘n grap en “maak” asof hy die skinkbord met tee laat val, maar hy verloor toe sy balans en niemand het gedink dit is snaaks nie (behalwe ek wat toe nog in laerskool was en daaroor was ek in die moeilikheid by my suster).

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s