Die sage van die selfoon

So sit hierdie moederhen met ‘n krisis.

Skaars het ek gewoond geraak dat my ou kuikentjie op die wyse ouderdom van 10 self skool toe en terugjaag met sy rooi fiets (en sy eie rekord probeer breek van hoe vinnig hy dit kan doen), nou is sy selfoon gesteel waarmee hy ons moet laat weet as enige iets met hom of sy fiets gebeur tussen die huis en die skool.

En ek is sommer moedeloos.  Hierdie kind mag aandagafleibaar wees en sukkel met organisasievermoë en alles wat daarmee gepaard gaan, maar een ding kan ek van hom sê:  hy pas sy goed op.  Hy het nog nooit iets sommer net verloor, gebreek of laat wegraak nie.  Elke oggend was die selfoon diep in die voorste sak van die skooltas gebêre en elke middag is dit weer daar uitgehaal om te laai sodra hy by die huis kom.  Vir meer as ‘n jaar gaan dit nou al so sonder enige probleme.  Tot op daardie een dag toe iemand anders in sy sak loop grawe het terwyl hy sport doen.

Ek is nie hartseer oor die foon nie, want mens sal dom wees om ‘n foon met enige waarde skool toe te stuur, maar ek is tog hartseer dat hy op die harde manier moes leer dat mens se goed kan wegraak of jy dit oppas of nie.

En boonop is ek benoud.  Wat as iets  met hom gebeur en hy kan ons nie kontak nie?

Maar, amper dadelik besef ek dat beste selfoon eintlik maar steeds die een is wat nooit gesteel kan raak nie – die een van gebed en vertroue.  Ek hoef dit nie te herlaai nie, niemand kan dit van my steel nie, en dit werk!  Ek is al lankal in die gewoonte om, sodra ek aan my man en kinders dink, te bid vir hulle veiligheid en dat dit ‘n goeie dag vir hulle sal wees.

So, die dag waarop die selfoontjie gesteel is, was ‘n goeie dag.  Want my kind was steeds veilig.  En so ook sy geliefde rooi fiets wat sy pappa met baie liefde opgebou het en spesiaal vir hom Ferrari rooi gesprei het.  Dit wat van hom weggeneem was, het geen waarde in vergelyking met alles waarvoor ons steeds dankbaar is nie.  Dit kon anders gewees het.

Dan skud ek maar net my kop vir myself.  Hoe gebeur dit dat ons so afhanklik raak van ‘n aardse ding?  Dit soos om ‘n kruk te gebruik as jou been nie seer is nie en dan te huil as iemand dit wegvat.

 

So, les geleer, en nou gaan die lewe aan.  Sonder selfoon is meneer nie te gelukkig nie, maar hy kon darem terugval op ‘n ou selfoontjie wat net kan sms en bel as daar ‘n krisis is.  Nou kan hy nie meer speletjies speel en Minecraft videos kyk nie, en ontdek hy weer ‘n ander lewe buite die skerm van die selfoon.

So, met alles wat gebeur, is daar altyd iets goed wat daaruit kom.  En altyd hope om voor dankbaar te wees!

Advertisements

3 thoughts on “Die sage van die selfoon

  1. Toe my kinders so opgeskote begin raak, vra ek eendag my ma of mens ooit ophou worry oor mense se kinders. Haar antwoord: “Nee, maar ek het geleer om julle soggens in die Here se hande te gee en dan aan te gaan met my dag. Ek het geglo Hy sou julle bewaar, soos dit Sy wil is.” Ek dis amper 30 jaar later en ek gee my kinders nog steeds eerste ding soggens vir die Here.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s