My kind, my hart

Mens se kinders is jou kosbaarste besitting.  Dit is nou ‘n feit soos ‘n koei.20150328_184827

Iemand het eendag vir my gesê dat sy baie lief is vir haar kinders, maar haar seun is maar net haar hart.  Ek het haar baie snaaks aangekyk omdat dit vir my geklink het dat sy haar seun liewer het as haar meisiekinders.  Tot ek natuurlik ook ‘n seun gekry het.  Dit is ongelooflik hoe eenders en ook hoe anders mens jou kinders liefhet.  Jy sal nooit kan kies wie jy die meeste liefhet nie, want jy het elkeen ewe lief op ‘n unieke manier.   Een sal jou hart wees, waar die ander een weer jou geesgenoot sal wees, of wat ookal.  Hulle is net eenvoudig ‘n samestelling van die beste in jul menswees en elkeen het ‘n unieke plek in jou lewe wat nooit gevul sal word deur enige iemand anders nie.

Hoekom ek so liries raak oor hierdie saak is omdat my seunskind (nou ‘n baie wyse 10 jaar oud), om elke hoek en draai my deesdae probeer vasvang oor wie ek die liefste het – hom of sy sussie.  Sussie is 6 jaar ouer, ‘n pragtige, emosioneel volwasse, sterk akademiese meisiekind – ons trots – ‘n kind oor wie enige ouer maar net kan droom, maar soms ook maar effe stief met hom weens die ouderdomsverskil, so dat hy soms spelenderwys vir my vra of ons haar nie maar kan verkoop vir R30 nie. Dit is dus nie vir hom moontlik om te dink dat ek vir haar ook kan lief wees nie.  🙂

En  nou loop ek en hy boonop skool toe, so hy het baie tyd om my uit te daag oor allerhande lewenskwessies tot ons by die skool kom.  En glo my, hy put baie genot daaruit om te sien hoe ek moet dink om alles mooi en versigtig in woorde om te sit!  Want glo my, elke woord word opgevang en teen my gebruik as ek nie versigtig is nie!

Ander oggend wil hy toe nou eers weer weet wie ek die liefste op aarde het.  Maar dit mag net een persoon wees, behalwe natuurlik Liewe Jesus, want mens moet Hom “obviously” liewer hê as ander mense.

Ek probeer toe maar my beste om te verduidelik dat ek vir almal op ‘n unieke manier liefhet.  Soos byvoorbeeld my kinders, sy pappa, ons familie en vriende. Ek kan nie sê ek het een persoon liewer as die ander nie.  Of vir enige een liewer as vir hom nie.

Dit bring hom toe op die volgende vraag.  Is ek so lief vir pappa dat as hy doodgaan, sal ek ook doodgaan van hartseer?  Want hy het eendag gehoor dat dit al gebeur het dat wanneer ‘n man doodgaan, sy vrou haar doodtreur omdat sy nie sonder hom kan lewe nie.

Ek verduidelik toe vir hom dat dit seker wel so kan wees, maar as mens kinders het, dink ek is dit dalk anders.  As mens kinders het en jou man sterf, is jou kinders die grootste rede waarom jy nog wil aangaan en lewe.  Ek dink hulle word jou hartklop as jou hart wil gaan staan van hartseer.

Toe ek dit sê, gaan staan hy doodstil en kyk my peinsend-grootoog aan en sê:

“That is the most precious thing anybody has ever explained to me!”

Toe weet ek:  hierdie kind is beslis my hart!

Advertisements

6 thoughts on “My kind, my hart

  1. Ek sê altyd vir my kinders…ek is die liefste vir jou van al my oudste,middelste of jongste kinders….afhangend in watter posisie die kind is vir wie ek dit sê.
    Pragtig geskryf!

    • Ek maak ook so! Sê vir my seunskind hy my liefste seunskind in die wêreld en meisiekind is my liefste meisiekind. Sy is al matriek, maar geniet nog steeds haar ma se liefiewoordjies 🙂

  2. Dit is n pragtige stukkie skryfwerk. My seun is nou al halfpad in die dertig en sy pa is dood toe hy twaalf was. Daardie deursit en deurdruk omdat jy die kind liefhet is wonderlik om jou as ouer aan die lewe te hou. Ons twee sê steeds ons is lief vir mekaar en wys dit met n drukkie. Ek was en is nie n mens wat my gevoel maklik wys nie terwyl hy sy pa se manier het van omhels en net n druk gee! Dit help my weer om vir hom liefde te kan wys!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s