Ouma, die legende (‘n lekker herinnering)

Bolla1Kyk, dit is nou maar so dat ‘n ouma seker die grootste rol in die bewaring van jou kinders se lewens speel.  As daar nou ‘n moederhen is wat heeldag met ‘n kommerfrons op haar voorkop loop oor haar kuikens wat iets kan oorkom, is dit sy.  Sy sal eiehandig berge versit om haar kleinkinders veilig te hou.  Of halfpad verdrink … soos in hierdie storie.

So gebeur dit dat hulle ‘n klompie jare terug vir ons kom kuier.  Dis nou my ouers en my sus wat toe 16 jaar oud was.  Ons meisiekind was ‘n hele wyse 3 jaar oud. Ek en manlief moes nog werk en ouma kou toe al haar naels deur omdat daar ‘n swembad en ‘n 3-jarige in een erf is.

So besluit my sus en Bollabeertjie hulle gaan nou swem.  Maar moenie dink ‘n 16-jarige word vertrou met ‘n 3 jarige se lewe nie, so ouma is soos ‘n hommelby heeltyd by die venster om te loer om seker te maak dat haar kleinkind nie verdrink nie.

En toe speel hulle ‘n speletjie ….

Bollabeer staan doodstil op die enkeldiepte muurtjie in die swembad en kyk vir my sus wat onder die water ingaan en allerhande snaakse goed doen.  Sus is naby en hou haar dop van onder die water.

Dis egter toe nou net op daardie onder-water oomblik wat ouma vir die honderste keer by die venster uitkyk, en al wat sy gewaar is Bollabeertjie wat stoksiel-salig-alleen op die muurtjie in die swembad staan.

En dis net daar waar ouma se hoender-instink inskop:  sy skrik haar vere skoon opdraende en vlieg met arendsvlerke by die huis uit, klere en al, binne-in die diepkant van die swembad in – nie eers naby waar Bollabeer staan nie.

Dit alles nog voordat sus kon opkom vir asem.

Jy kan jou indink wat alles deur Sus se kop gegaan het toe sy opkom vir asem en ouma staan so ewe langs haar in die swembad met al haar klere aan en skel so dat die voëls verskrik uit die boom uit in die mure in vasvlieg.

En die drenkeling?  Baie verontwaardig dat ouma hulle speletjie kom breek!   En watwou uit die swembad uitklim – ons speel!

Op die einde moes sus (al laggende) vir ouma (al skellende), uit die diep waters red.  Selfs oupa moes deurloop, want die petalje wat hy moes aanskou toe hy om die hoek van die huis kom, het hom ook al sy waardigheid laat verloor en te lekker laat lag.

Ai Ouma – ons ewige hero.  Sy bly ‘n legende.

Advertisements

10 thoughts on “Ouma, die legende (‘n lekker herinnering)

    • En dis nou al jare later – ouma is al 70, maar steeds staan sy haar oë en droog kyk in die straat om seker te maak haar kleinkinders kom veilig van die skool af. En sy raak sommer erg paniekerig as hulle net 5 minute laat is 🙂

      Ons is erg lief vir haar en waardeer elke oomblik van haar.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s