Passie

Ek wonder soms of daar nie ‘n sintuig uitgelaat is toe mense agtergekom het dat ons sintuie het nie. Ek praat hier van PASSIE. Daardie passie wat jy vir iets het, wat jou wese so vul dat jy dit net wil uitjubel met alles wat in jou is.

Jy sien, my opinie is dat passie nie ‘n keuse, lewenspad of vaardigheid is nie. Dis nie iets wat jy besluit om te hê of kan wegneem of vervang as jy moeg is daarvoor nie.  En niemand kan dit wegvat van jou af nie. Vir my is dit iets wat in die ragfyn weefsel van elke mensesiel ingeweef word die oomblik wanneer ‘n nuwe mens begin, net soos met jou sintuie. Daardie saadjie van passie lê diep, diep in jou wese en wag op daardie oomblik wanneer jou spirituele wese aangeraak word.  Dan is dit gereed om wortel te skiet en te ontkiem. Dan groei dit tot volle wasdom en het jy die voorreg om dit toe te laat om jou wese te vul en dit uit te leef met jou hele hart, jou siel en jou verstand.

Ek dink passie is ‘n spesiale geskenk wat die Skepper vir Sy kinders gegee het. En ek dink dis die grootste voorreg om dit te ontdek en dit jou eie te maak. Om elke dag en in alle omstandighede jou passie, wat dit ookal is, te kan uitleef en jou Skepper daardeur te verheerlik.

Om jou passie uit te leef, vul mens se wese met ‘n tevredenheid wat nie beskryfbaar is nie. Dit gee jou vrede as die lewe se storms om jou woed. Dit gee jou perspektief as chaos heers. Dit voed jou siel met dit wat saakmaak. Dit bevredig jou gemoed as jy iets kon skep en uitleef sonder dat jy ooit iets moet inboet daarvoor.  Dit is ‘n gebed as jy nie die woorde het nie.

Want dit kom nie uit jou geleerdheid, ondervinding, talente of geld nie. Dit kom uit jou diepste wese, en leef voort deur jou uitlewing daarvan. Dit is belangrik om werk te maak daarvan wanneer jy jou passie ontdek en dit ten volle uit te leef, want die uitlewing van jou passie is juis die aanraking wat die volgende spirituele wese nodig het om sy/ haar passie te laat ontkiem.

Mag julle elkeen die voorreg hê om julle passie uit te leef met julle hele wese! Want ek dink as mens na die groter prentjie kyk, is dit jou passie, en niks anders nie, wat van jou ‘n besondere mens maak.

Want as jy iets met jou hele hele hart, jou hele verstand en al jou sintuie doen en bevrediging daaruit put, dan is jy bevoorreg om ‘n besondere glimps van die Koninkryk van God te kry.  ‘n Koninkryk wat nie so ver buite ons bereik soos ons dink nie …

Advertisements

One thought on “Passie

  1. Ja, passie moet defnitief Godgegewe wees. Want maak nie saak of jy geld of tyd het nie, dit broei in jou hart en wil jy dit uitleef. Daar is ook niks wat jou dan meer ‘vervulling’ in die lewe gee, wanneer jy na ander uitreik.

    Mooi stukkie geskryf.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s