Nie net engele verrig take nie

My ma het ‘n paar jaar terug ‘n ongelooflike ding oorgekom.  Sy was op pad kerk toe, toe hulle huistelefoon lui.  Sy was haastig want sy was koster vir die kerk en moes gaan oopsluit.  Maar, soos wat my ma maar is, draai sy toe vining om en gaan antwoord maar gou, want sê nou net dis een van die kinders?  Toe sy antwoord, sê die persoon aan die anderkant van die lyn in ‘n sagte, verskonende stem:  “Ag jammer mevrou, dit was die verkeerde nommer”.  My ma, altyd positief van geaardheid, antwoord toe sommer:  “Ag toemaar wat, op so ‘n pragtige sonnige oggend mag jy maar die verkeerde nommer skakel!” En so is die gebeurtenis vergete.

‘n Paar weke daarna bel moeder my met ‘n bewende stem en vertel my dat sy sopas ‘n oproep ontvang het ….  en so omvou die verhaal van Hariet.

Hariet het erg gesondheidsprobleme opgetel en as gevolg van die siekte wat sy gehad het, het die retinas van beide haar oë onomkeerbare skade opgetel.  In so ‘n mate dat haar sig met rasse skrede verswak het en het die spesialis vir haar gesê dat sy heeltemal blind gaan word – daar was niks wat hulle medies kon doen om die skade te herstel nie.  Sy het huis toe gegaan en net besef dat sy nie kan aangaan nie.  Sy kan nie lewe met die wete dat sy blind gaan word nie.   Hoe kan ‘n mens lewe sonder sig?  Sy besluit toe om ‘n einde aan haar lewe te maak.  So ernstig was sy, dat sy alles mooi beplan het, selfs besluit om vir haar vriendin te bel en te laat weet waar al haar papiere is, want sy wil tog nie hê dat almal moet wonder waar alles is nadat sy dood is nie.  Sy besluit op die datum.  Dit sal ‘n Sondag wees.  Vroeg Sondagoggend sal sy haar vriendin bel om ‘n geselsie aan te knoop en terloops noem waar al haar goedjies is wat hulle nodig sal kry na haar dood.

En so breek die Sondag aan, en in haar effense paniek, ruil sy onwetend twee syfers in die telefoonnommer om en daar antwoord my ma die telefoon.

Wat merkwaardig is, vertel sy vir my ma, dat die oomblik toe my ma praat van die pragtige sonnige oggend, toe gaan haar geestesoë skielik oop en sien sy meer in haar geestesoog as wat sy tot nog toe met haar eie oë gesien het.  Sy sien haar lewe voor haar afspeel, sy sien die dag toe sy getroud is, toe haar kinders gebore is, haar kleinkinders, haar pragtige tuintjie wat sy so mooi onderhou.  Skielik tref die wete haar dat sy nie sig nodig het om dit wat die belangrikste in die lewe is, te kan sien nie!  Skielik besef sy dat die herinneringe en dit wat in haar hart leef, altyd in haar gedagtes gaan bly en dat sy eintlik bevoorreg is om dit aan haar hart te kan dra.

Sy het net die volgende dag ‘n berader gaan soek en besluit dat nou die tyd is dat sy moet begin lewe in alle volheid.  Sy het toe vir die berader gevra of sy my ma mag bel en hiervan vertel, want sy onthou toe nog waar sy die fout met die telefoonnommer gemaak het.

Nou ja, wat van Harriet geword het, wonder ons maar nog steeds.  Sy het nie weer kontak gemaak nie.  Maar een ding weet ek – dit was ‘n grootse Godsoomblik wat op daardie dag, op daardie tyd gebeur het.  Iemand het die voorreg gehad om direk deur God aangeraak te word.  En iemand was op daadie oomblik in tyd gebruik as ‘n instrument in ‘n keuse tussen lewe en dood…..

Dit maak my bang.  Weet ons werklik hoe ‘n groot opdrag ons op aarde het?  Weet ons dat ons dalk vandag met ons woorde of houding die hemel kan oopsluit vir iemand wat dit SO nodig het.  Of dit kan toesluit vir ewig  …….

Dat ons die katalisator kan wees tussen lewe en dood …

Dat God ons as Sy instrumente vertrou om Sy aanraking te wees op aarde.

Mag ons dit altyd onthou in ons omgang met mense.  Dit kan dalk net ons wêreld ‘n heerlike plek maak om in te woon!

Advertisements

2 thoughts on “Nie net engele verrig take nie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s