I want to ride my bicycle, I want to ride it now …..

Die deuntjie is al uitgesing – nie die Freddie liedjie nie, maar die een van toe ons kinders was, toe die lewe so wonderlik en so veilig was en fietsry skool toe was so natuurlik soos jou asem …..

Wat wat my vandag daaraan laat dink is toe Boeta vanoggend uiteindelik sy sin kon kry om met sy fiets skool toe te ry. Dit was ‘n groot ding vir my. Ek het dit probeer uitstel vandat hy dit die eerste keer genoem het. Want dit is nie veilig nie. Ons bly in ‘n baie besige straat en hy moet ‘n baie groot pad oorsteek skool toe en die taxi’s, jy weet …. Dit het nie vir lank water gedra nie. Toe besluit ek dan gaan ek ‘n voorwaarde stel wat hy nooit sal kan nakom nie: as hy vir my kan wys dat hy elke oggend kan klaarmaak wanneer hy opstaan sonder dat ek aan hom moet karring, kan ons dit probeer. En wraggies, daar hou ek weer nie rekenskap met sy begeerte om fiets te ry nie en daar wys hy vir my dat hy voor my in die oggend kan klaar wees as daar so ‘n groot motivering is.

En dan sê my tiener ook nog vir my: mamma weet hy sal dit een of ander tyd moet doen….

Toe kan ek nie meer verskonings uitdink nie en besluit toe maar dat ons dit kan probeer. Ons stap in elkgeval skool toe in die oggend omdat dit naby my busstop is, so ek kan net sowel vir halfprys saamdrawwe wanneer hy met sy fiets ry sodat ek kan seker maak my kuiken kom veilig by die skool aan.

So, vandag is toe die dag. Hy klim op sy fiets met helm en al en ek stap agterna om ‘n oog te hou.

En wat ek vind soos ek hom dophou, maak my stom.

  • Hy ry met die grootste selfvertroue en versigtigheid.
  • Hy stop en wag geduldig langs die pad tot die karre hom nooi om die pad te kruis, dan klim hy van sy fiets af en stoot dit oor die pad.
  • Hy wag by die robot van die groot pad tot ons oulike verkeerskonstabel wat die kinders se veiligheid oor die groot pad verseker, tot by hom is om hom oor te vat. En dan stap hulle gesels-gesels oor.
  • En sodra hy ander kinders sien met hulle fietse, sluit hy bloot by hulle aan en daar gaan hy.

En ek staan beteuterd daar en wonder wanneer het dit dan gebeur dat my afhanklike, liefdevolle seuntjie sommer so groot en onafhanklik geword het?

Ek sal beslis nog saamstap vir die afsienbare toekoms, omdat my busstop ook daar is en omdat ek nie die verkeer vertrou nie, maar ek het besef dat ons nie veel van ‘n keuse het nie. As ons kinders vlerke kry, moet ons hulle laat vlieg. Dis nie maklik nie, maar tog noodsaaklik dat hy sy vlerke eerder nou toets binne ‘n beskermde omgewing as wat ek hom eendag moet vrylaat en nie eers weet of hy bewus is daarvan dat hy vlerke het nie!

Al is dit nog steeds nie vir hierdie ma lekker nie.

Advertisements

3 thoughts on “I want to ride my bicycle, I want to ride it now …..

  1. Ag, dit is pragtig. Wys dat moeder tog n goeie grondslag gelê het. Hy weet hoe om betyds klaar te maak, padreëls te volg en om saam met ander te kan ry.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s