Tienertjie liefde

My tienerdogter het haar eerste kêrel en dis sommer ‘n ernstige storie.  As mamma is dit vir my die ergste om na my meisiekind se amper-vrou lyfie te kyk wat so pragtig ontwikkel, en te weet dat daardie lyfie nou begin om gevoelens en sensasies te ervaar wat die kinder-onskuld so stadig maar seker agtertoe skuif.  En my hart huil.  En ek kyk na die mense om my wat allerhande skimpe gooi oor die jonge liefde en vandag se kinders en statistiek ek sien sommer die mense wat dink ek is naïef as ek dink dat my kind nog so onskuldig is.  En ek wil vir hulle skree en sê:  dit is nie soos julle dink nie!!  Maar ek bly stom, want is dit nie tog maar soos hulle dink nie?

Toe besef ek, wat die mense dalk nie regtig van my weet nie, is dat ek geensins naïef is nie, maar dat mens twee keuses het wanneer dit by moeilike situasies kom:  jy kan “devil’s advocate” speel waar jou siel voltrek is van donker negatiwiteit oor wat verkeerd kan gaan, of jy kan volkome vertroue hê en met ‘n positiewe gesindheid met jou lewe aangaan!

Om “devil’s advocate” te speel in hierdie geval, is om hulle te verdink van alles wat jy gedoen het toe jy ‘n tiener was.  Want “ek was mos daar, ek weet mos”.   Om dit met ‘n tiener te doen, gaan waarskynlik die gevolg hê dat hulle sal reken dat jy hulle in elkgeval nie vertrou nie, so dan kan hulle mos maar doen wat jy gedoen het, want jy het per slot van rekening steeds goed uitgedraai, ten spyte daarvan dat jy die dinge gedoen het wat jy nie moes nie …..

Dus het ek besef dat vertroue gaan baie verder as wantroue.  En vertroue in hierdie geval gaan om baie meer as om net my kind te vertrou en al my hoop op haar te plaas dat sy sal sterk staan en versoekings afweer.

Daar is dus meer aan vertroue:

Vertroue in myself en my man:Ek kan nie my kind die wêreld instuur en blootstel en verwag dat sy haar waardes sal behou en sterk sal staan teen versoeking as ek nie vertroue het in die fondament, beginsels en waardes wat ek en my man in haar menswees gevestig het nie?  Want as ek eerlik kan sê dat ons ‘n stewige fondament gelê het, weet ek dat al haar besluite ten minste op daardie stewige fondament gebou word.  As die fondament dus rotsvas is, is die bouwerk reeds halfpad afgehandel en die res bloot detail.  Wat as sy die pad byster raak vra jy?  Wel, die fondament sal steeds daar wees – onthou ‘n rotsvaste fondament sal nie sommer verbrokkel nie, so ons sal bloot net almal dan saamwerk om weer te help om die stene te lê ….

Vertroue in haar krag: As ons ‘n rotsvaste fondament neergelê het, kan ons mos nie twyfel in haar krag nie?   Sy is dan die produk van die fondament wat vir ons gelê is deur ons ouers en waarop ons weer voortgebou het!  Natuurlik sal sy nie sommerso holderstebolder in ‘n situasie intuimel sonder om eers te dink nie!  As sy dus die pad byster raak, sal dit nie uit onkunde gebeur nie, maar met die volle wete dat sy self aan haar fondamente skud en dit teen haar waardes en beginsels indruis.  Sy sal dus op haar innerlike krag moet staatmaak om in te gee, of oor te gee en daarna weer haar vertroue in haarself moet stabiliseer om vorentoe te gaan.  Dit sal nie maklik wees nie, maar nooit onmoontlik nie.

Vertroue in die band wat ons bind: Ek en sy het nog altyd ‘n baie goeie ma-en-dogter verhouding en sy weet sy kan my enige tyd, enige iets vertel.  Ek moet volkome vertroue hê dat sy in haar moeilikste tye, daar waar sy dalk in ‘n situasie kom waar sy voel dat sy vir ons en haarself gefaal het, juis die vrymoedigheid sal hê om met my te praat daaroor.  Ek vertrou dat sy sal weet dat ek nooit sal oordeel nie en dat ek steeds altyd my meisiekind se hand sal vat daar waar sy struikel, maak nie saak wat nie!

Vertroue in hulle as paartjie: Ek kan nie sit en dagdroompies droom oor al die dingetjies wat hulle sit en doen om mekaar te ontdek nie.  Sies!  Tot hulle my nie verkeerd bewys nie, mag ek hulle nie om elke hoek en draai wantrou nie.  Beide ouerpare stel grense en hulle altwee het genoeg kennis van die blommetjies en die bytjies om te weet en te verstaan hoekom daar grense is.  Ten spyte van die tiener hormone, moet ek darem vir hulle eers die voordeel van die twyfel gee dat hulle sal weet wanneerdit tyd is om asem te skep.  En as hulle wel in ‘n situasie kom waar hulle die grense verbysteek, te vertrou dat hulle twee ten minste genoeg teenwoordigheid van gees sal hou om ‘n volwasse besluit daaromtrent te neem!

Vetroue bo alles:  ‘n Vader God wat alles sien!

Dit is die beste vir laaste.  Waarom wantrou ek enigsins as ek weet dat my kind op ‘n pad is wat God vir haar aanwys?  God is die enigste een wat wéét wat in elkeen se hart aangaan, wat daar is wanneer hulle bymekaar is.  Hy het ons dan geskape met al die gevoelens wat ons ervaar!  Ek MAG Hom volkome vertrou om Sy altyd wakende oog oor ons kinders te hou en dat Hy vir hulle deur die Heilige Gees die rigting sal aanwys.  Ek is ook Sy kind en Hy het dalk ook al Sy hande saamgeslaan oor die stupid goed wat ek al in my lewe aangevang het en die pad wat ek al hoeveel keer byster geraak het, maar Hy vergewe en lei my weer op die regte pad, want Hy bly lief vir my, maak nie saak wat gebeur nie.  Hoekom sal ek dit nie vir my kind wil doen nie?  Hoekom sal ek my kind wil verwerp as sy dalk nie aan my verwagting voldoen van ‘n perfek-voorbeeldige kind nie?  God wil die beste vir my hê en Hy wil die beste vir my kind hê.  En ek wil die beste vir my kind hê. Hy sal hulle mos nie verlaat in die hitte van die stryd en eers wag dat hulle hulle koppe stamp en dan kom sê:  “Whê la ke pêla, ek het julle gesê dit gaan gebeur” nie?  Hoekom sal ek en my man dit dan wil doen?

Nee, ek is jammer mense, julle kan maar dink ek is naïef oor hierdie kind van my, maar ek weet, selfs al raak my kind die pad byster, sal haar fondament, haar innerlike krag en haar God vir ons en vir haar stylvol daardeur kry sodat ons dit agter ons kan laat en ‘n wonderlike lewe lei!

Ek hoop dat sy en haar kêrel vir nou mekaar sal geniet binne die perke wat hulle eie beginsels en waardes vir hulle stel en as daar ooit ‘n tyd kom dat hulle paadjie skei, sal ek dan maar liewer bekommer oor hoe ek ‘n gebreekte hartjie moet probeer regplak, tot die volgende kêrel op die horison wink 😉

Mag julle ‘n wonderlike dag hê!

Advertisements

One thought on “Tienertjie liefde

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s