Deure

Oral is daar deure. Deure word opgemaak, toegemaak, afgehaal, opgesit.

Deure laat jou in, of sluit jou uit.

Ek het nou die oggend besef dat vir ‘n ma is die moelikste deur wat in jou gesig toegemaak kan word sekerlik ‘n hospitaal teaterdeur.  Maak nie saak of dit ‘n groot operasie of ‘n klein proseduretjie is nie.  Jy sit en staar na daardie deur, met geen gedagtes nie.

Jy is bloot te bang om ‘n gedagte te hê, want jy wil amper voel of jy jou kind aan die lewe kan laat vashou as jy aan niks dink nie.

Mens wil natuurlik nie op daardie stadium dink aan wat kan verkeerd loop nie, en veral nie aan daardie gru-stories waar die verkeerde ledemaat afgesaag word of organe ge-oes word (of wat ookal) terwyl hy salig in ‘n wêreld tussen lewe en narkose gelê het nie, want dan gaan jy histeries raak en straks deur daardie deure bars en jou kind sommer gaan haal en die vlaktes in hardloop.

Jy wil ook nie noodwendig positiewe gedagtes hê nie, want sênou dit plaas ‘n tipe van oordeel oor die operasie en dan loop dinge nie goed af nie?  (Ons kan lekker kleingelowig wees as ons in ‘n situasie is waar ons nie ‘n “comfort zone” kan vind nie)

Dan swaai die teaterdeure skielik oop, en jy skrik, jy is bang … sênou hulle het slegte nuus … die teaterdeure mag nie nou al oopgaan nie, dis nog te vroeg!  Wat is fout!  Dan is dit iemand heeltemal anders wat uitstap en na jou groot oë kyk en sekerlik simpatie het, of dalk nie eers nie, want dalk sien hulle dit elke dag.

Ek was in ‘n situasie waar ek 3 keer in een maand voor die teaterdeure moes sit – my 4 jarige seuntjie het ‘n aaklige bakterie gekry wat toksiene afgeskei het en veroorsaak het sy liggaam sy vel verwerp – sy hele vel het begin afpeul van sy lyfie af.  Hul moes ‘n diep aarvoeding in sy lies onder narkose insit omdat sy vel eenvoudig saam met alles afgeval het wat hulle op hom of in hom probeer sit het en drie dae daarna moes hy weer teater toe om sy vel te behandel en skoon te maak onder narkose. En ‘n maand later moes ons die mangels verwyder waarin die bakterie nog gesit en broei het en van so ‘n aard was dat ons dit kon gebruik het om ‘n toksiese oorlog daarmee te begin.

Die eerste keer was die ergste.  Daar het ek alleen gesit – my man moes ons dogter huis toe vat, omdat sy baie getrumatiseerd was en ons het nie die “luxury” van famlie by ons nie.  En ek het alleen daar gesit en gestaar.  Die teaterdeure was voor my – die ICU waarheen hy moes gaan langs my. En ek het nie geweet watter een is erger nie.  Agter die teaterdeur waar sy liggaampie onder skok is van die vel wat al hoe vinniger afpeul en sy lewensdraadjie so vinnig kortgeknip kon word, of die ICU tussen die mense met kunsmatige asemhaling en pype uit hulle kele uit wat sterf terwyl jy daar sit, maar waar ek darem ten minste kan sien dat hy asemhaal, alhoewel hy nie regtig van my bewus is weens die verdowing nie?

Ek dink dit is eintlik waar die verskil inkom.  Om te kan sien daar is lewe, al is daardie lewetjie ook maar heeltyd in die land van die saligheid danksy verdowing en morfien, of om agter ‘n toe deur te sit en nie te weet wat daar binne aangaan nie.  Dit is daardie oeroue vrees vir die onbekende.  Die drang in ‘n ma om haar kind te kan vashou, te kan beskerm, om net vir haar kind te kan sê:  mamma is hier, alles sal regkom, al hoor die kind dit nie.

Een ding wat ek besef het, was dat ek voor daardie teaterdeure te bang was om te bid.  Wat bid ek?  Dat my kind daar sal opstaan en uitstap en niks makeer nie (wat tog nie op daardie oomblik moontlik was nie)?  Dat God se wil geskied, en Sy wil is anders as my wil?  Dat hy moet genees terwyl dit dalk nie God se wil is nie?  Dat hy liewerster verlos moet word van daardie onnoembare pyn in sy liggaampie?

Die tweede keer was bietjie beter, want toe was die bakterie se rug geknak en was hy op die herstelpad, alhoewel hy gelyk het of hy ‘n oorlog oorleef het.  Weer moes ek daar voor die teaterdeure sit en wonder hoe gebeur sulke dinge?  Sênou hy het permanente skade op sy velletjie? Dit het nie gebeur nie, natuurlik nie, waar was my geloof ??

Die derde keer toe die vrot mangels uitgehaal is, was nie meer snaaks nie.  Almal het hom nog herken en my herinner aan daardie aaklige tyd, skaars ‘n maand vantevore.  Toe het ek na die teaterdeure gekyk en darem geweet dat ons nie weer by die ICU se deur gaan inbeweeg nie, maar ek onthou nou nog elke lyntjie op die grys deur, elke krakie, hoe die muur lyk, hoe die dak lyk.  Hoe my boude gevoel het van so vasgekluister sit aan die ongemaklike bank, my mond bitter van die koffie.  Maar ek was ontsettend verlig toe ek uiteindelik daar kon opstaan en later met my kind by daardie hospitaaldeure uitstap, in die sonskyn en die lewe in.

Vanoggend moes my suster se seuntjie gaan vir ‘n besnydenissie. Hy is amper drie.  En alhoewel ek geglimlag het oor al die verskriklike trauma en drama en geskarrel en geskenke koop oor hierdie verskriklike (klein) proseduretjie, kon ek nie help om letterlik in die gees daardie hele 30 minute saam met haar te sit en staar nie.  Dit kom vanself.  Tussen my werk deur, het ek kort-kort bewus geword van staar teen ‘n grys deur, onderdrukte gevoelens, trauma wat mens nie in woorde kon uitdruk nie.  En ek het besef – dit vat aan jou diepste menswees soos niks anders nie.  En dit sal jou bybly … vir altyd.

Gelukkig weet die Here genadiglik waardeur mense gaan as hulle voor die teaterdeure sit en gee Hy tog die nodige krag.  Ek dink dat dit een van die min kere in ons lewens is wat ons werklik die kans kry om doodstil  in die Vader se teenwoordigheid te sit,

sonder woorde,

sonder gedagtes,

… totaal en al afhanklik van God ,

…  soos ons kinders afhanklik van ons is ..

…. en die wete dat Hy ook by daardie kind daar binne is, wat weer afhanklik is van hande wat moet afsny, uitsny, heelmaak, toemaak, besluite neem, kennis gebruik.

….. Hande wat weer afhanklik is van God se wil wat moet geskied in daardie tyd tussen lewe en vergetelheid…

Maar, na ‘n leeftyd, gaan die teaterdeur oop en die dokter loer ewe casual en vrolik uit en vertel in detail wat hulle gedoen het, dat alles goed afgeloop het en verby is, en dan voel dit soos ‘n berg van jou skouers af.  En dan kan jy weer jou kind vashou en hom ‘n soentjie gee en dan is die wêreld weer soos dit moet wees.

En hopelik onthou jy hierdie sit voor die teater met dankbaarheid teenoor God en diepe afhanklikheid, en getuig jy daarvan teenoor almal wat jy ken, want ek weet en jy weet dat jy maar bloot net een van die “gelukkiges” was,

 … want niks wat jy doen of sê het jou uitgesonder om daardie genade te verdien nie ….

Advertisements

2 thoughts on “Deure

  1. Ek sien jou eers jou kommentaar! Eks so dom met die blog. Ja, dit was erg en al is die seunskind van my nou al 10 jaar oud en gesonder as ‘n vis in die water, sal mens nooit die detail van daardie 5 dae vergeet nie. Dit tref mens nog somtyds met ‘n hamer-hou.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s