Asem van die lewe

Anderdag sê ons predikant dat hy in sy roeping die voorreg gehad het om al by ‘n hele paar sterfbeddens te wees.  My eerste gedagte was:  wat?  ‘n voorreg?  Maar toe besef ek dat ek juis hierdie blog wou begin deur te sê:  Ek het die voorreg gehad om in die laaste jaar by ‘n hele paar begrafnisse te wees …..

Want alhoewel ‘n begrafnis oneindiglik hartseer is, het ek skielik vir die eerste keer in my lewe begin besef dat dood nie die einde is nie!  Maak nie saak hoe die persoon gesterf het nie, in die huldeblyke word net die beste herinneringe oorgedra en onthou.  Want skielik raak die minder-goeie kwaliteite van die persoon vaag en oorheers die beste wat daardie persoon in ons harte en gedagtes nagelaat het, alle ander gedagtes!

Ek het gevind dat ‘n begrafnis my emosies my dan so weerloos laat, dat dit voel of ek meer ontvanklik is vir die Here se stem.  En ek dinge skielik begin besef wat ek werklik nooit geweet het nie, uit die onwaarskynlikste oorde!

‘n Voorbeeld hiervan is toe ons laasjaar rondom hierdie tyd hartseer afskeid geneem het van ‘n ouma wat 92 lewensjare agter haar gehad het.  Sy was die wonderlikste inspirasie vir ons almal.  Sy het baie skadukant van die lewe geken in haar jonger jare, maar in jare wat ek haar geken het, was sy ‘n kinderlike, lewende getuie van ‘n liefdevolle Vader.   Sy het ‘n besonderse fyn sin vir humor gehad en was soos ‘n kind dankbaar vir elke dag wat haar Vader by haar lewe bygevoeg het.  In ons gesprekke en by die begrafnis was dit baie duidelik dat sy by haar Vader rus – daar was geen twyfel daaroor nie.

My grootste uitdaging seker ooit het gekom toe ons terugry  huis toe na die begrafnis.  My 5-jarige woelwater wou weet:  hoe kan ons sê dat Oumagrootjie in die hemel by Liewe Jesus is, terwyl ons haar dan in ‘n gat in die grond begrawe het en dit toegemaak het?  My man en dogter het met ‘n uitdagende glimlag na my gekyk, want so kreatief soos ek met woorde is, was ek stom.  Hoe verduidelik mens aan ‘n 5-jarige iets wat ek self nie regtig honderd persent verstaan nie?  Maar, skielik raak dit vir my duidelik en hoe meer ek dit vir hom in baie kleurvolle taal verduidelik, hoe meer word dit vir my duidelik! (Niemand moet ooit dink dat die Heilige Gees kennis en wysheid sal weerhou van ons as ons die behoefte het om kinders te leer van God nie!)

Ek het vir hom verduidelik dat God die mens en diere uit die aarde se stof gemaak het, so dit is net reg dat alles wat uit die aarde gemaak is, weer terug moet gaan na die aarde toe as dit nie meer werk nie, want dit help weer dat mooi blomme en plante uit die aarde kan groei.  Maar, wat ons mense uniek maak van die diere in die skepping, is dat God Sy asem in ons liggame ingeblaas het. En omdat dit God is, is dit nie net ‘n ou asempie soos ons s’n nie, dit is ASEM wat LEWE skep!  Dit is HUGE!  Dit is soos om ‘n tweede liggaam in ons lyf te hê wat maak dat ons die unieke mense ook van binne is soos wat ons van buite is.  Die tweede liggaam word die Siel/gees genoem (ek weet nie wat die teoretiese/kosmiese/teologiese verskil tussen ‘n siel en gees is nie, so ek bly weg van daardie gesprek af).  Die belangrikste is egter dat die lewens-asem en die stoflike liggaam nie sonder mekaar kan nie.  As die lewensasem weggaan omdat ons werk op aarde afgehandel is, gaan die liggaam dood en as die liggaam sy vervaldatum bereik het of seerkry en nie meer as ‘n aardse liggaam kan voortgaan nie, gaan die lewensasem weg.  Die stof word dus weer stof en die Asem gaan terug na die God wat die Asem gegee het.  Sy reaksie was toe met verbasing dat sy dan nou ‘n regte engel is!  Dit was vir my verstommend dat hy die twee so bymekaar sit, maar ek het besef dat hy tog iets van die positiewe kant van die dood aangryp en verstaan.

 

Dit laat my toe wonder: wéét en besef ons as mense dat ons God se Asem in ons liggame ronddra? En boonop dit het Hy nog ook Sy Gees vir ons gestuur om by ons te wees en ons op aarde te lei?

 

Ek is dus nie sommer net ‘n mens wat hierdie aarde doelloos bewandel en verwoesting saai nie.  Ek is IEMAND!  Ek is REGTIG net minder as ‘n hemelse wese! Hoeveel keer hoor ons nie dat God ons op ‘n ander manier sien as wat ons onsself sien nie?  Ons is van die aarde en sien slegs ons stoflike liggame raak, met al die gebreke wat daarin is, maar Hy sien ons volmaakte, opgestane liggame raak, want dit is die liggaam waarin Hy Sy asem ingeblaas het en waarvoor Hy ‘n doel op hierdie aarde het!

Dit maak dit in hierdie stukkende wêreld waarin ons leef, net soveel meer belangrik dat ons hierdie onthou.  Dat ons ook ander mense moet begin sien soos God hulle sien.  Ons moet verby die stoflike kyk, verby die sonde (waarvoor daar in elkgeval lankal reeds vergifnis gegee is), ons moet dieper kyk, ons moet die Asem van God in elke mens sien en besef, daardie mens IS ‘n Koningskind nes ek, en het my respek en liefde in ALLE omstandighede nodig!

Want ek dink sodra die wêreld begin besef dat respek vir ander se lewens en sieninge begin by respek en ontsag vir onsself wat God se Asem in ons ronddra, sal daardie respek begin uitkring en vir baie mense weer moed gee om te weet dat hulle ook daarop geregtig is om Koningskinders genoem te word!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s